Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Jong vroulike wetenskaplikes presteer in Beijing-wetenskap kompetisie
Outeur: Erika Hoffman
Gepubliseer: 28/03/2019

Phoebe Mgxaji is een van vier Suid-Afrikaanse uitsonderlike tienermeisiewetenskaplikes wat aan die 39ste Beijing Youth Creation Competition (BYSCC) deelgeneem het, waar innoverende idees oor wetenskap en tegnologie uitgeruil is, onder die tema “Ontdekking, Innovering en Verantwoordelikheid".

Die vier jongmense het in Oktober verlede jaar projekte van buitengewone gehalte by die Eskom Expo vir Jong Wetenskaplikes se Internasionale Wetenskapkompetisie (ISF) aangebied. Hulle is deur 'n paneel van akademici en professionele persone gekies, nadat hulle beoordelaars met hul vindingrykheid, diepte van kennis en bemeestering van navorsingsmetodologie beïndruk het. "Hulle projekte handel oor kontemporêre kwessies in ons alledaagse lewe en hulle het ons oortuig dat hulle waardig is as ons toekomstige leiers op die wetenskaplike gebied. Hulle het 'n uitstekende voorbeeld daar gestel vir die jeug, dat jy alles kan bereik wat jy jou ten doel stel, "sê Parthy Chetty, uitvoerende direkteur van Eskom Expo.

Phoebe Mgxaji, 16, tot verlede jaar van Macassar Sekondêre Skool en tans in Curro Sitari, het haar projek oor voedseletikette gedoen. In haar studie het sy gevind dat die meeste van die publiek nie die inligting op voedseletikette regtig verstaan of vertrou nie. Sy het ook met praktiese voorstelle vorendag gekom waarop snoepies by skole leerders meer bedag kan maak op die voedingswaarde van die produkte wat hulle koop. Op Maandag 25 Maart het Phoebe 'n derde prys in haar kategorie verwerf en ook 2000 RMB (omtrent R4400) ontvang!

Internasionale wetenskapkompetisies bring die beste leerders uit deelnemende lande saam. Dit is belangrik dat ons leerders aan die beste in die wêreld blootgestel word, aangesien dit hul kennisbasis verbreed, en hulle blootstel aan nuwe idees en verskillende benaderings tot probleemoplossing. Dit is ook 'n goeie manier vir leerders om met hul eweknieë van ander lande te skakel.

Die kompetisie wat in die Huairou Distrik in Beijing van 23 tot 26 Maart 2019 gehou is, is die tweede van ses internasionale toere vir 2019 waaraan ons jong wetenskaplikes, wat aan ISF deelgeneem het, vanjaar gaan deelneem. Ander toere sluit in: Taiwan in Februarie; Kenia in April; die Verenigde State in Mei; Turkye in Junie en Swede in Desember.


Carousel foto: van links na regs: 

Mnr Lyndon Manas, provinsiale koordineerder vir Ekspo in die Wes-Kaap

Mnr Alwie Lester, algemenge bestuurder Western Cape Operating Unit (WCOU)

Mev Erika Hoffman, streeks wetenskapkompetisie direkteur vir Stellenbosch streek

Me Phoebe Mgxaji, Stellenbosch streek se internationale deelnemer

Mnr Tony Williams, Curro skole se  STEAMD bestuurder

Me Zoë Mgxaji, Phoebe se suster wat vir hul moeder ingestaan het

Mev Nomveliso Dondashe, WCOU, bestuurder van menslike hulpbron ​​bedrywighede