Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Polimeerwetenskaplike ontvang internasionale erkenning vir lewenslange bydrae
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 25/03/2019

Prof. Harald Pasch, 'n uitgelese professor wat ook die SASOL Navorsingsleerstoel in Analitiese Polimeerwetenskap by die Universiteit Stellenbosch (US) beklee, is internasionaal vereer “vir sy massiewe bydrae tot die ontwikkeling van polimeerkarakteriseringstegnieke".

Die SCM Lifetime Achievement toekenning is oorhandig tydens die 9de Simposium oor die Skeiding en Karakterisering van Natuurlike en Sintetiese Makromolekules (SCM), wat vanaf 30 Januarie tot 1 Februarie 2019 in Amsterdam plaasgevind het. Die SCM is die mees prominente internasionale konferensie oor polimeerfraksionering en -analise. Dit is slegs die tweede keer dat die prys toegeken is, en vanjaar is dit gesamentlik toegeken aan Prof. Pasch en Prof Taihyun Chang van Pohang Universiteit, Korea.

Prof. Peter Mallon, hoof van die US se Departement Chemie en Polimeerwetenskap, sê dit is 'n uitsonderlike prestasie om op hierdie wyse deur internasionale eweknieë vereer te word. In 2017 het prof. Pasch die Suid-Afrikaanse Chemiese Instituut se goue medalje gewen. Dit word allerweë beskou as die hoogste vorm van erkenning deur die Suid-Afrikaanse Chemie-gemeenskap vir navorsingsbydraes van uitstaande gehalte.

Prof. Pasch se navorsing fokus op die ontwikkeling van analitiese metodes  vir die analise van komplekse makromolekulêre strukture soos polimere. In hierdie proses maak sy navorsingsgoep gebruik van analitiese tegnieke soos gevorderde fraksionering en spektroskopiese metodes. In samewerking met groot internasionale maatskappye soos SASOL, L'Oreal en Borealis het hulle analitiese protokolle vir komplekse poliölefins ontwikkel.

Meer onlangs het die groep begin om die kwessie van waardetoevoeging tot natuurlike afvalmateriaal soos lignien te ondersoek. Lignien kom in groot hoeveelhede voor as afvalproduk in die pulp- en papierindustrie, agribosbou en landbou-afvalstowwe. Hierdie navorsing ondersoek omgewingsvriendelike, selektiewe en gematigde metodes wat gebruik kan word vir die effektiewe depolimerisering van lignien, na verbindings met 'n lae molêre massa, maar met hoë waarde. Hierdie verbindings kan dan uiteindelik funksioneel gebruik word as monomere in die produksie van groen (bioafbreekbare) polimere.​​