Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
ligter velpigmentasie gekoppel aan vinnig evolerende geen
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie
Gepubliseer: 14/03/2019

Bevolkingsgroepe van inheemse mense in suider Afrika dra ʼn geen wat ligte velkleur veroorsaak, en wetenskaplikes het nou die vinnige evolusie van hierdie geen in onlangse menslike geskiedenis geïdentifiseer.

Die geen wat ligter velpigmentasie veroorsaak, SLC24A5, was slegs 2000 jaar gelede ingevoer van populasies in oos Afrika na populasies in suider Afrika. Sterk positiewe seleksie het veroorsaak dat hierdie geen se voorkoms toegeneem het in sommige KhoeSan-bevolkingsgroepe.

Navorsers van die Universiteit Stellenbosch se Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika het saam met die antropoloog, Brenna Henn van die Universiteit van Kalifornië-Davis en kollegas gewerk op die projek. Dit het getoon dat ʼn geen wat gekoppel is aan ligter velkleur vinnig versprei het onder mense in suider Afrika in die afgelope 2000 jaar.

Dit is ʼn “seldsame voorbeeld van intensiewe, deurlopende aanpassing in onlangse menslike geskiedenis en is die eerste bekende voorbeeld van aanpassende geen vloei by ʼn pigmentasie-lokus in mense," lees die navorsingsartikel wat onlangs aanlyn in die Proceedings of the National Academy of Sciences gepubliseer is.

In hul vorige werk het die navorsers gekyk na die variasie in pigmentasie in twee KhoeSan-bevolkingsgroepe van Suid-Afrika deur ʼn genoom-wye assosiëringsanalise uit te voer in ongeveer 450 individue. Hulle het die top geassosieerde geen, SLC24A5, opgevolg deur die bevolkings se geskiedenis te simuleer met, en sonder positiewe seleksie. Die DNS- en pigmentasie-monsterversameling het in die Suid-Afrikaanse Noord-Kaap Provinsie in die suidelike Kalahari-woestyn en Richtersveld-streek plaasgevind. Proff Eileen Hoal-Van Helden en Marlo Möller, en dr Cedric Werely van die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) was betrokke by die monster- en dataversameling van die KhoeSan-bevolkingsgroep. Hierdie data het ook hul werk oor vatbaarheid vir tuberkulose ingelig.

Geen speel ʼn rol in ligter velpigmentasie

Individue wat twee kopieë van die ligter pigmentasie-geen het se vel is 14% ligter as die algemene bevolking, het die navorsers gesê. Die geen, SLC24A5, speel ʼn belangrike rol in die genetiese grondslag van ligte velpigmentasie.

Hoewel ligte velkleur gereeld geassosieer word met Europese voorgeslagte, self in Suid-Afrika, het die hedendaagse Khoekhoe en San nie genoeg onlangse migrasie ervaar om die gereelde voorkoms van die geen te verklaar nie. Sterk positiewe seleksie tydens die afgelope 2000 jaar is die enigste verklaring vir die huidige verspreiding. Die geen, wat ook voorkom in mense van die Nabye Ooste en oos Afrika, is waarskynlik deur ʼn klein aantal individue na die streek gebring.

Die ware bron van die positiewe seleksie is nie duidelik nie. Die navorsers glo dat ʼn skuif van die inname van seediere, hoog in vitamiene-D, na landdiere, of ʼn afname in blootstelling aan ultraviolet-strale, oor ʼn tydperk moontlik die verandering in velpigmentasie teweeg gebring het.

“Alhoewel die biologiese oorsaak van die selektiewe gebeurtenis verdere ondersoek benodig, het ons ʼn ongewone vinnig geval van seleksie vir ligter velpigmentasie demonstreer, gebaseer op die onlangse invoer van allele minder as 2000 jaar gelede, die eerste geval van pigmentasie-aanpassing van menslike migrasie," het die artikel gelees.


Onderskrif: Dr Cedric Werely en proff Eileen Hoal-Van Helden en Marlo Möller van die FGGW se Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika. 

Foto: Wilma Stassen