Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US professore benoem tot Raad op Hoër Onderwys
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 28/02/2019

Twee bekroonde professore van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Opvoedkunde is as lede van die Raad op Hoër Onderwys (RHO) aangewys.

Die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Naledi Pandor, het onlangs Proff Lesley le Grange en Yusef Waghid op die raad aangestel. Hulle is albei Uitgelese Professore verbonde aan die Fakulteit Opvoedkunde en sê hulle voel geëerd om deel van die RHO te wees.

Volgenss proff Waghid en Le Grange, moet die Fakulteit Opvoedkunde veral geëerd voel om 'n voormalige dekaan en ʼn wêreldbekende vakkundige te hê wat nasionaal na die belange van hoër onderwys omsien.  

“Die lede van die RHO kom nie almal uit die universiteitsektor nie. Die 13 lede van die RHO wat deur die Minister van Hoër Onderwys aangestel is, verteenwoordigers verskillende belanghebbende groepe; daarom is dit regtig 'n pluimpie vir beide die US en sy Fakulteit Opvoedkunde dat twee lede van een universiteit en van dieselfde fakulteit gekies is," meen Le Grange.

Die RHO is 'n onafhanklike statutêre liggaam wat in Mei 1998 in die lewe geroep kragtens die Wet op Hoër Onderwys, 1997 (Wet 101 van 1997), en dien as die Gehalteraad vir Hoër Onderwys in Suid-Afrika kragtens die 'National Qualifications Framework Act', 2008 (Wet 67 of 2008). Een van die raad se vernaamste funksies is om deur die intellektuele oorweging van belangrike nasionale en sistemiese kwessies, insluitende internasionale neigings, by te dra tot die ontwikkeling van hoër onderwys.

Verskeie rolspelers in hoër-onderwyskringe, nasionale navorsingsrade en relevante nieregeringsorganisasies benoem gewoonlik die raadslede. Die minister kies en stel dan die raadslede aan op grond van hul kennis en begrip van hoër onderwys, hul begrip van die rol wat hoër onderwys in rekonstruksie en ontwikkeling speel en hul bewese verbintenis tot die belange van hoër onderwys.

Le Grange en Waghid sal as nuwe lede die Minister raad gee oor al die aspekte van hoër onderwys-beleid en ook navorsing doen om 'n bydrae te lewer om die lang- en korttermyn-uitdagings wat hoër onderwys in die gesig staar, aan te spreek.

“Ek is trots daarop om met die RHO verbind te word en vertrou dat ek 'n bydrae sal kan lewer om die gesprekvoering oor hoër onderwys – veral oor die gehalte, pedagogie (navorsing, onderrig en leer) en beleidskwessies – te bevorder," sê Waghid.

“Ek is baie bly dat ek in hierdie nuwe kapasiteit tot diens van die hoër-onderwyssektor kan wees, veral in hierdie tyd wat daar talle geleenthede, maar ook uitdagings is rakende die befondsing van hoër onderwys, werkverskaffing aan gegradueerdes, die vierde industriële rewolusie en die dekolonalisasie-debatte," meen Le Grange.

Beide Le Grange en Waghid het al verskeie toekennings ontvang, insluitende die US se Kanselierstoekenning, en word wêreldwyd deur die Nasionale Navorsingstigting baie hoog aangeskryf as navorsers.

*Vir meer inligting oor die Raad op Hoër Onderwys, klik hier