Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Jong doktorale student gee pas aan in geletterdheid
Outeur: Corporate Communication [Asiphe Nombewu]
Gepubliseer: 27/02/2019

​'n Doktorale student van die Universiteit Stellenbosch (US) is aangewys as een van die wêreld se top-30 jong opkomende leiers op die gebied van geletterdheid.

Die 27-jarige Nangamso Mtsatse, wat van New Brighton in Port Elizabeth afkomstig is, is deur die Internasionale Geletterdheidsvereniging (of te wel International Literacy Association – ILA) gekies om die US te verteenwoordig as een van die 30 wêreldleiers onder die ouderdom van 30 jaar op die gebied van geletterdheid.

Die ILA is 'n wêreldwye organisasie wat bewysgedrewe geletterdheidsonderrig en billike opvoedingsbeleide voorstaan. Die ILA se lys gee erkenning aan opkomende leiers op die gebied van geletterdheid en Mtsatse is een van 30 wêreldwyd wat gekies is.

Mtsatse, wat in 2018 aan die US geregistreer het vir haar doktorale studies, sê sy voel nederig en dankbaar vir die geleentheid om kan bydra tot haar veld en erkenning daarvoor te kry.

“Ek is deur prof Johannes Cronje, Dekaan: Fakulteit Informatika en Ontwerp aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) – wat ek deur my betrokkenheid as 'n uitvoerende komiteelid by die Literacy Association of South Africa (LITASA) ontmoet het – benoem. Ek het 'n e-pos ontvang om my in kennis te stel dat ek benoem is en die kortlys gehaal het. As deel van die aansoekproses moes ek 'n lang biografie oor wie ek is en wat ek op die gebied van geletterdheid doen, saamstel. 'n Paar maande later – ek het toe eintlik al vergeet daarvan – het ek 'n e-pos gekry om my in te lig dat ek as een van die top 30 onder-30 wêreldleiers aangewys is.

Mtsatse sê dit was ongelooflike nuus omdat daar duisende aansoeke was en tog het haar storie uitgestaan. Sy sê haar huidige werk stel haar in staat om met ander jong geletterdheidsleiers van regoor die wêreld saam te werk.

Sy het 'n BEd-graad in Menslike Beweegkunde en Sportbestuur, sowel as 'n Honneurs-BEd en 'n MEd in Assessering en Gehalteversekering aan die Universiteit van Pretoria (UP) verwerf. 

Sy sê haar passie om moedertaal-lees te verbeter, word deur haar huidige navorsing by die US ondersteun. Haar navorsing fokus op leesgeletterdheid vir Afrika-tale in die grondslagfase.

Haar navorsing werp lig op hoe om Afrika-tale te onderrig, die doeltreffendste onderrigmetodiek vir die onderrig van Afrika-tale wat verskil van die tipiese Westerse benadering tot Engelse onderrig en die gehalte en geldigheid van leesassesserings wat vir Afrika-tale gebruik word.

Mtsatse is ook 'n lid van die Funda Wande-span wat as 'n loodsprojek in drie Oos-Kaapse distrikte van stapel gestuur is. Dit is 'n opleidings- en ontwikkelingskursus vir onderwysers wat op 'n bewysgedrewe metode van onderrig en lees in Afrika-tale fokus.