Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Om te grawe vir sirkoon – tydkapsules uit die verlede
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 22/02/2019

“Dis soos om te soek na skatte wat begrawe is. En wanneer jy uiteindelik daardie sirkoon kry in die rots waarin 'n fossiel ingebed is, weet jy dat jy 'n tydkapsule van die prehistoriese verlede in jou hande hou."

Aan die woord is Dr Ryan T. Tucker, 'n sedimentoloog en tafonomiekenner in die Departement Aardwetenskappe by die Universiteit Stellenbosch (US). Hy is lid van 'n internasionale span wetenskaplikes - onder die leiding van dr. Lindsay Zanno van die North Carolina Museum of Natural History (NCMNH) - wat pas die ontdekking van Moros intrepidus bekend gemaak het, 'n klein tirannosourus wat ongeveer 96 miljoen jaar gelede gedurende die Kryttydperk geleef het in die gebied wat tans as Utah bekend staan.

Volgens 'n mediaverklaring deur NCMNH, is dit “die oudste tirannosourus-spesie uit die Kryttydperk wat tot op hede in Noord-Amerika ontdek is, en wat die 70 miljoen jaar-gaping in die fossielrekord van tirannosourus op die kontinent, aansienlik laat krimp."

Onderwyl dr Lindsay Zanno van NCMCH, sowel as ander paleontoloë vir byna 'n dekade lank besig was om op die toneel self te werk, is dr Tucker in 2015 aan boord gebring ten einde die geologiese konteks te verskaf.

“Hierdie bene is heeltemal te oud om met behulp van koolstof dateer te word. Daarom het ons vir minerale soos sirkoon gesoek in die sediment en rots waarin die fossielbene ingebed was. Sirkoon is soos radiometriese horlosies. Aangesien hulle uraan, lood en torium bevat, gebruik ons die ratio's van hierdie spesifieke isotope wat binne-in die sirkoon gepreserveer is, ten einde die moontlike ouderdom van die rots te bepaal."

zircons.jpg

Maar dis makliker gesê as gedaan. Soos 'n wafferse gouddelwer uit die 1800s, moes dr Tucker eers die rots opbreek in individuele sandkorrels, dit skei van die ongewenste sediment, om daarna - met behulp van 'n naald - die individuele sirkone met die hand uit te soek vir analise. Die volgende stap was om te poog om die isotope wat behoue gebly het in die sirkoon, sowel as hulle verwering, te analiseer. Hierdie werk is als gedoen by die Universiteit Stellenbosch se Sentrale Analitiese Fasiliteite (SAF), een van 'n handjievol instellings ter wêreld met 'n laserablasie induktief gekoppelde plasma- massaspektrometer  (LA-ICP Mass Spectrometer). Laasgenoemde is kragtige analitiese tegnologie waarmee hoogs sensitiewe element- en isotoop-analises direk op vastestowwe uitgevoer kan word.

“'n Paar dekades gelede was die radiometriese ouderdomsdatering van minerale soos sirkoon 'n baie tydrowende en duur proses. Maar nou kan ons sirkoonmonsters wat regoor die wêreld versamel word uit verskeie fossielmateriaalversamelings, geredelik prossesseer en analiseer," voeg hy by.

Bykomend tot Tucker se voortgesette werk in Utah, is nagraadse studente in die US se Departement Aardwetenskappe besig om 'n soortgelyke studie te onderneem net suid van Utha, in die Zuni-kom van Nieu-Meksiko.

 

Op die foto's bo: 'n Fotobeeld van sirkoongruis wat direk langsaan Moros intrepidus ingebed was. Die beeld is waargeneem deur middel van 'n Zeiss MERLIN SEM, US Sentrale Analitiese Fasiliteite, Elektronmikroskopie Laboratorium

Dr Ryan T Tucker, 'n sedimentoloog en tafonomiekenner in die Departement Aardwetenskappe by die Universiteit Stellenbosch (US), is lid van 'n internasionale span wetenskaplikes wat pas die ontdekking van Moros intrepidus bekend gemaak het, die oudste   tirannosourus-spesie uit die Kryttydperk wat tot op hede in Noord-Amerika ontdek is. Foto: Stefan Els

Medianavrae

Dr Ryan Tucker

Departement Aardwetenskappe, Universiteit Stellenbosch

Tel: +27 _21 808 3522

Selfoon: 082 259 7253

 

​Tracey Peake

Nuusdiens North Carolina Museum for Natural History

tracey_peake@ncsu.edu