Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Matie-dansers sokkie op CNN
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 22/02/2019

Die Maties Bal- en Latyns-Amerikaanse Dansvereniging van die Universiteit Stellenbosch (US) verskyn in 'n CNN-dokumentêr oor die gewilde Suid-Afrikaanse dansvorm, langarm, wat op Inside Africa*, een van CNN se joernaalprogramme, uitgesaai gaan word.

Die dokumentêr maak deel uit van 'n langer program oor David Kramer se produksie, Langarm, wat nog tot einde Maart in die Fugard-teater in Kaapstad opgevoer word. Dit bevat visuele en gesproke verwysings na die rieldans van die Weskus, sowel as onderhoude met talentvolle lede van die skeppende span wat verantwoordelik is vir die musiekblyspel. Die insetsel oor die Maties Dansvereniging sal spesifiek op sokkie – 'n tipe langarm-dansstyl wat gewild is onder studente – fokus.

“Ek het die Dansvereniging by die Inside Africa-dokumentêr oor langarm ingesluit omdat ek wou wys hoe 'n mens sokkie. Ek wou spesifiek ook visuele materiaal van jongmense wat dans, hê, want jongmense verskaf baie vreugde en kleur aan 'n dokumentêre program vir televisie," sê Marion Edmunds, 'n dokumentêre filmmaker, vervaardiger en joernalis wat vryskutwerk vir CNN doen. Sy en die CNN-kameraman, Peter Rudden, het die dansvereniging se openingsokkie op die Stellenbosch-kampus op Maandag, 18 Februarie 2019 bygewoon om die dansers te verfilm terwyl hulle sokkie.

Volgens Edmunds het sy veral gehou van die vrolikheid van die sokkie, waaraan almal by die openingsfunksie deelgeneem het.

Omdat sokkie so 'n unieke Suid-Afrikaanse manier van dans is, het sy besluit om visuele materiaal van dit by haar dokumentêr in te sluit, veral saam met die herinneringe van die Fugard-teater se musiekdirekteur, Charl-Johan Lingenfelder, wat in die tagtigerjare by die US was en by die Langarm-produksie betrokke is.  

Die Matie Dansvereniging se voorsitter, Khaila Naude, het in kommentaar op hierdie wonderlike geleentheid gesê: “Dit was 'n absolute voorreg en plesier om vir CNN se produksie oorweeg te word en ons waardeer die geleentheid opreg! Dit is ook baie opwindend dat dans, wat so na aan ons harte lê, meer aandag sal geniet, veral binne die Suid-Afrikaanse konteks en in ander dele van die wêreld. Ons sien uit daarna om die vreugde wat so 'n passievolle kuns bied, met nog meer mense te deel."

*Die dokumentêr sal op een of meer van die volgende uitsendingstye op Suid-Afrika se DSTV-kanaal 401 uitgesaai word (CNN moet nog finaal bevestig): Vrydag 19:30; Saterdag 10:30 en 20:30; Sondag 01:30 en 6:30; en Dinsdag 11:30.

  • Edmunds het verlede jaar ook 'n dokumentêr vir Inside Africa oor die suksesse van Stellenbosch se Universiteitskoor vervaardig.

Foto: Peter Rudden verfilm lede van die Maties Dansvereniging.

Fotograaf: Stefan Els