Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Suksesvolle behandeling van middelweerstandige TB in die DRK
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie
Gepubliseer: 15/02/2019

Middelweerstandige tuberkulose (MDR-TB) is 'n vorm van TB wat weerstand bied teen ten minste twee van die sterkste antibiotikas wat gebruik word om TB te behandel, naamlik isoniasied en rifampisien. Wanneer dit vergelyk word met middelvatbare TB, neem die behandeling van MDR-TB veel langer (2 jaar in vergelyking met 6 maande), is dit minder effektief (net omtrent 50% van pasiënte word genees) en meer toksies (ernstige newe-effekte sluit permanente gehoorverlies in), en die koste kan soveel as 1,000 keer duurder beloop. Sonder doeltreffende terapie kan mense met MDR-TB ander mense infekteer wat nog nooit voorheen TB gehad het nie. 

Die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) het 'n bevolking van 'n beraamde 81 miljoen mense en dra 'n hoë lading van TB, TB/MIV en MDR-TB. Volgens die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO), was daar 'n beraamde 262,000 van nuwe gevalle van TB en 56,500 TB-verwante sterftes in die DRK in 2017. Die tweede Kongolese oorlog het begin in 1997 en het geweldige ontwrigting veroorsaak in die gesondheidsdienste in die oostelike DRK, wat gelei het tot 'n toename in TB gevalle en TB-verwante sterftes in die gebied. In 2011, ten spyte van voortgesette siviele konflik en aktiwiteit onder militias, is die Xpert MTB/RIF assay (Xpert), 'n vinnige molekulêre diagnostiese toets vir TB wat toetsing vir rifampisien-vatbaarheid insluit (dit speur rifampisien-weerstandige TB op, of RR-TB, 'n aanduider van MDR-TB) in gebruik geneem in die Suid-Kivu provinsie van die oostelike DRK. Die uitrol van hierdie nuwe TB toets is moontlik gemaak deur die samewerking van die DRK Nasionale TB Program en die Stop TB Partnership TB se REACH inisiatief, wat befonds is deur Global Affairs Canada. 

In Clinical Infectious Diseases, een van die top joernale in die veld van aansteeklike siektes berig die volgende mense/organisasies oor 'n nuwe kohort-studie waarin 16,448 pasiënte geëvalueer is vir TB tussen 2012 en 2017 in post-konflik DRK: André N.H. Bulabula, MD, MSc, PhD student, van die  Departement van Globale Gesondheid, Afdeling Gesondheidstelsels en Openbare Gesondheid, Suid-Afrika en die Infection Control Africa Network, saam met kollegas van die  DRK Nasionale TB Program, South Kivu Provincial Anti-Leprosy and TB Coordination, en mede-skrywers. Die navorsers het rifampisien-weerstandigheid gevind in 170 van die 1,535 pasiënte (11%) wat positief getoets het vir TB. Byna 47% van die RR-TB pasiënte is nooit voorheen gediagnoseer of behandel vir TB nie, wat suggereer dat baie van hulle geïnfekteer is deur middel van direkte kontak met pasiënte met RR-TB in hulle gemeenskappe. Genesing is bewerkstellig in 30/36 pasiënte (83%) met RR-TB wat behandel is met 'n nuwe 9-maande behandelingsregimen in vergelyking met die 84/114 pasiënte (74%) wat met die konvensionele 20- en 24-maande regimens behandel is. Faktore wat met suksesvolle behandeling geassossieer word het die volgende ingesluit: 'n gebrek aan ernstige newe-effekte van die medikasie, die verskaffing van sosio-ekonomiese aansporings, en die gebruik van tuis-gebaseerde direk-waargenome terapie deur opgeleide gesondheidswerkers uit die gemeenskap en familielede. 

“Binne hierdie uitdagende opset vir MDR-TB behandeling, is dit noodsaaklik dat die bevindings van die program soortgelyk moet wees aan die bevindings wat vroeër gerapporteer is in waarnemingstudies in Bangladesh en ander sub-Sahara Afrika-lande. Ons bevindings strook ook met die interim-resultate van die voortgesette multi-nasionale STREAM ewekansige proef geïnisieer deur die International Union against Tuberculosis and Lung Diseases in 2012 in samewerking met die Britse Mediese Navorsingsraad (British Medical Research Council), wat daarop dui dat beide die korter en die langer MDR-TB behandelingsregimens sukses behaal het onder ongeveer 80% van die deelnemers. Maar die korter behandelingsregimen is makliker vir pasiënte om te voltooi," die studie se mede-skrywer Zacharie M. Kashongwe, MD, PhD, Professor van Pulmonologie by die Universiteit van Kinshasa, DRK. 

“Die afwesigheid van weerstand teenoor die orale fluorokinolone en die tweede-linie inspuitbare middels kan dalk die hoë sukseskoers verklaar van die RR-TB behandeling in die Suid-Kivu provinsie," sê die senior studieleier,  Jean B. Nachega, MD, PhD, MPH, Mede-professor van Epidemiologie, Aansteeklike Siektes en Mikrobiologie by die Universiteit van Pittsburgh en Professor van die Afdeling Infeksiesiektes in die Departement Geneeskunde by die Stellenbosch Universiteit.

“Hierdie data het belangrike kliniese- en openbare gesondheidsorgimplikasies en kan as basismodel dien vir TB-sorg in lae- en middel-inkomste lande, soos byvoorbeeld om die volgende te vermag: om die Xpert opskaal uit te brei; om te lei tot die inbruikneming van korter en minder toksiese regimens (verkieslik ten volle orale regimens wat potente nuwe middels soos  bedakwilien of delamanied bevat); om opgeleide gesondheidswerkers uit die gemeenskap betrokke te kry om TB-dienste te lewer; om die integrasie van TB en MIV toetsing en behandeling te bewerkstellig; om die ontwikkeling en implementering van gemeenskaps-/tuisbegaseerde MDR voorkomingsstrategieë daar te stel. Maar, die bevestiging van die impak van party van hierdie intervensies sal verdere vooruitskouende intervensionele studies en koste-effektiwiteitsanalises verg," het Nachega bygevoeg.

“Prevalence, Predictors and Successful Treatment Outcomes of Xpert MTB/RIF-identified Rifampin-Resistant Tuberculosis in Post Conflict Eastern Democratic Republic of Congo, 2012-2017: A Retrospective Province-Wide Cohort Study" is geskryf deur André N.H. Bulabula; Jenna A. Nelson; Eric M. Musafiri; Rhoderick Machekano; Nadia A. Sam-Agudu; Andreas H. Diacon; Maunank Shah; Jacob Creswell; Grant Theron; Robin M. Warren; Karen R. Jacobson; Jean-Paul Chirambiza; Dieudonné Kalumuna; Bertin C. Bisimwa; Patrick DMC Katoto; Michel K. Kaswa; Freddy M. Birembano; Liliane N. Kitete; Martin P. Grobusch; Zacharie M. Kashongwe; en Jean B. Nachega.

Hierdie studie is moontlik gemaak deur befondsing van Global Affairs Canada deur die Stop TB Partnership se TB REACH Wave-2 skenking aan die Suid-Kivu Tak van die DRK Nasionale Tuberkulose Program in 2011. Befondsing is ook verskaf deur die VLIR/UOS deur middel van 'n bykomende skenking afkomstig van die Institutional University Cooperation 2017 Fase 3 van die Belgiese regering, wat die samewerking steun tussen die Universiteit van Ghent, die Universiteit van Antwerpen en die Katolieke Universiteit van Leuven in België, asook die Université Catholique de Bukavu, in die Demokratiese Republiek van die Kongo.

Meer omtrent Organisasies en Befondsingsagentskappe::

​1) Stop TB Partnership, TB REACH Initiative: http://www.stoptb.org/global/awards/tbreach/

2) Global Affairs Canada: https://www.international.gc.ca/gac-amc/index.aspx?lang=eng

3) The International Union Against Tuberculosis and Lung Disease: https://www.theunion.org/

4) The British Medical Research Council: https://www.ukri.org/

5) VLIR/UOS, Institutional University Cooperation (IUC) 2017 Phase 3 UCB: https://www.vliruos.be/en/projects/project/22?pid=3610

6) Université Catholique de Bukavu (UCB): http://www.ucbukavu.ac.cd/

7) University of Pittsburgh Graduate School of Public Health: https://www.publichealth.pitt.edu/

8) University of Pittsburgh Center for Global Health: https://www.publichealth.pitt.edu/cgh

9) Stellenbosch Universiteit Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe: http://www.sun.ac.za/english/faculty/healthsciences/