Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Diensfooi vir US se aandpendeldiens opgeskort
Outeur: Corporate Communication Division
Gepubliseer: 14/02/2019

Die bestuur van die Universiteit Stellenbosch het gistermiddag (28 Februarie 2019) besluit om die instelling van ’n diensfooi vir die aandpendeldiens op die Stellenbosch-kampus op te skort ná ’n vergadering met die Studenteraad (SR).
 
Die Universiteit se bestuur het by die vergadering aangebied om saam met die SR en ander studenteleiers te werk om billike befondsingsmoontlikhede te ondersoek om die beste oplossing vir ‘n langertermyn- volhoubare diens te verseker. Die US se aandpendeldiens is gedurende die aanvanklike loodsfase gratis aangebied in samewerking met taxi-operateurs en private diensverskaffers ter ondersteuning van plaaslike entrepreneurs.
 
Die SR en studentegroepe het die beplande instelling van die diensfooi vir die aandpendeldiens betwis ná die aankondiging dat ’n R9,00-fooi per rit vanaf 1 Maart 2019 (wat later uitgestel is tot 8 Maart) ingestel sou word, ondanks volle konsessies wat vir behoeftige studente sou geld. Alle NSFAS-beurshouers, sowel as studente uit die ‘verlore middel’ of ‘missing middle’ (studente uit huishoudings met ’n gesamentlike jaarlikse inkomste van R600 000 of minder) wat finansiële hulp ontvang, sou vir die konsessie in aanmerking gekom het. Dit het die US se billikheidsbenadering weerspieël waarvolgens diegene wat dit kan bekostig, vir ’n diens moet betaal en diegene wat nie kan nie, ten volle ondersteun word.
 
Hierdie beginsel van gebruik-betaal (met finansiële ondersteuning waar nodig) en die verhouding met private verskaffers van vervoerdienste in Stellenbosch bly steeds belangrike faktore in die Universiteit se oorhoofse fiskale dissipline en samewerking met belanghebbendes. Die voortsetting van die gratis aandpendeldiens beteken dat 'n billike befondsingsbron gevind moet word, en dat die US moet verseker dat die gratis diens nie die verhouding met die plaaslike gemeenskap vertroebel nie.