Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gemeenskapsherstel: ʼn Konsep in aksie
Outeur: R. Hector-Kannemeyer, T. Gamedze and L. Franks
Gepubliseer: 14/02/2019

​Die Universiteit Stellenbosch het amptelik verklaar dat die instelling “erkenning gee aan sy bydrae tot die ongeregtighede van die verlede, en daarom verbind is tot gepaste regstellings- en ontwikkelingsinisiatiewe" (Prof W. de Villiers, Rektor: Universiteit Stellenbosch, 2016).

In die afgelope jaar het die Afdeling Sosiale Impak in vennootskap met omliggende gebiede, gemeenskapsgroepe en organisasies, gerig deur ʼn raamwerk van regstellende geregtigheid, daaraan gewerk om ʼn instaatstellende omgewing te skep om die konsep van gemeenskap in Stellenbosch te herstel. Verskeie organisasies in Stellenbosch en die omgewing het byeengekom om ʼn samewerkende bestuursforum met hierdie gemeenskaplike visie te stig.

Hierdie doelbewuste skakeling is ʼn geleentheid om sin van ons visie as ʼn universiteit te maak. Ten einde die onreg van die verlede aan te pak, moet ons eers ʼn grondiger begrip hê van die huidige trauma van mense van kleur, wat deur daardie onreg geraak is, ten einde in gelyke vennootskap met die omliggende 'omgewings' ondersoek in te stel na geskikte regstellings- en ontwikkelingsinisiatiewe.  

Herstellende geregtigheid is in wese ʼn verhoudingskonsep en gee erkenning aan die rol van gemeenskap in die herstelproses. Gemeenskap kom nie net in ons geografiese ligging voor nie, maar moet ons lewensruimtes oorskry na ʼn ruimte waar ons in verhouding met mekaar is om ʼn sielsgemeenskap te vorm.

Gemeenskapsherstel

“Ons is saam hierin" is die sentiment wat die kamer gevul het waar meer as 40 deelnemers onlangs vergader het om te bespreek wat die herstel van gemeenskap in Stellenbosch behels. Met ʼn verlede van ongeregtigheid en ʼn verbrokkelde hede, is die pad vorentoe vir Stellenbosch sterk verwoord in ʼn stelling deur een van die deelnemers: “Wat in Kayamandi gebeur, gebeur met my!" Dit is wat dit beteken om in gemeenskap te wees, waar ʼn 'onreg aan een ʼn onreg aan almal is'.

Die werkswinkel het beklemtoon dat die hoofkatalisator vir die bou van ʼn outentieke gemeenskap kennis is dat 'my menslikheid in jou menslikheid vasgevang is'; 'Ek is want ons is'. Die konsep van menslikheid word verwoord in die Afrika-konsep van ubuntu, wat beliggaam word in die Xhosa-gesegde umuntu ngumuntu ngabantu (ʼn mens is ʼn mens deur ander mense).

Ongeregtigheid wat in ontmensliking gewortel is en die vrees van ander beteken dat herstel diep vasgelê is in outentieke gemeenskaplikheid met ander, waar ons werklik in noue aanraking is en na mekaar luister. Die werkswinkel het ʼn geleentheid gebied om saam oor ons gemeenskap te droom, maar ook om stories van die verlede te vertel, insluitende pynlike herinneringe aan die verplaasde families uit Die Vlakte en hul uitsluiting van ʼn elite Stellenbosch. Die verplaasde families woon nou in gemeenskappe soos Kylemore, wat deur sosiale euwels geteister word, maar die algemene gevoel rakende die pad vorentoe en herstel van die verlede is “Ons wil nie hê julle moet vir ons doen wat julle nie saam met ons sal doen nie".

Aktiewe burgerskap is noodsaaklik, waar ons gemeenskappe weet dat hul stemme gehoor word. Mnr Otto van Noie het die groep aangemoedig om munisipale ontwikkelingsplanne te bestudeer, insluitende Stellenbosch se ruimtelike ontwikkelingsraamwerk. Dit bied die geleentheid om by heropbou betrokke te raak en dit te beïnvloed. Die raamwerk verwys na inwoners wat ʼn gevoel het dat 'dit my plek' is. Mnr Van Noie het vertel, “Ek bly al vir meer as 40 jaar in Stellenbosch en daar is steeds plekke waarvan ek nie deel voel nie". Hy het spesifiek na Banhoekweg verwys, wat ʼn duidelike grens tussen oos van wes is, en “die elite van die res van ons skei". 

Een van die vernaamste aspekte van die werkswinkel was die ruimte wat vir kleiner groepsbesprekings geskep word as ʼn manier om mekaar te hoor asook gehoor te gee aan die stemme van die deelnemers in die groter forum om gemeenskaplike prioriteite en die pad vorentoe na die gedeelde doelwit van gemeenskapsherstel te deel. Alhoewel diverse groepe en sektore by die werkswinkel verteenwoordig is, was daar heelwat gemeenskaplikheid in dít wat verwoord is. Hierdie prioriteite het onder andere ingesluit die aanpak van ekonomiese ongelykhede; die vind van maniere om onbillikheid van die verlede wat steeds ʼn impak op die gemeenskap het, te herstel; die vind van maniere om gemeenskaplikhede oor gelowe heen te vind; die herstel van waardes in ons gemeenskappe; die herwin van geskiedenisse, erfenisse en tale wat in die skaduwee gestel is; en samewerking om mekaar deur ons gedeelte gemeenskaplikheid te sien en nie op grond van die verskille wat deur ons geskiedenis saamgestel is nie. ʼn Gemeenskaplike uitdrukking van ʼn grondige begeerte om in gemeenskaplikheid vorentoe te beweeg en om die moontlikheid te verken om in samehorigheid saam te staan in die verkeie worstelinge wat die gemeenskap ervaar, is duidelik verwoord.

Een van die aangrypendste oomblikke van die werkswinkel was die storie van mnr Neville Bruitjies, wat van sy huidige pyn vertel het, en vertel het dat hy ʼn doelbewuste besluit geneem het om nooit weer na die Luckhoff-skoolgebou in Banhoekweg terug te keer nie as gevolg van die dag, 49 jaar gelede, toe hulle gedwing is om hierdie skool te verlaat. Alhoewel hy hoopvol is oor hierdie nuwe inisiatief van gemeenskapsherstel, wou hy hê dat almal teenwoordig ten volle bewus moes wees van sy teenstrydige emosies op sy reis saam met ons, terwyl hy steeds sagkens aan sy pynlike herinneringe aan die eens lewendige skool in Die Vlakte vashou.   

Die Viserektor: Sosiale Impak en Transformasie, prof Nico Koopman, het ʼn inspirerende sluitingsrede gelewer, en deelnemers aangemoedig om aan te hou om voort te beweeg op die reis na gemeenskapsherstel, en om te verstaan dat die menslikheid van een opgesluit is in die menslikheid van almal.

Laastens het hoofman Timo en Estelle die groep by ʼn Khoisan-eenheidseremonie betrek, waar die as van wit salie op die deelnemers se voorkoppe gesmeer is, wat voorstel dat ons almal van dieselfde stof gemaak is en die konsep van ubuntu en ʼn gedeelde menslikheid beklemtoon. Die seremonie is afgesluit met die sing van ʼn lied in Nama met die woorde Sida ge ra tsoa-tsoa, wat 'Dit is die begin' beteken.

In die woord van prof De Villiers: “Ons 2018-eeufeesjaar is ʼn geleentheid om oor ons reis tot op hede te besin en om na die toekoms te kyk; om voort te bou op ons prestasies van die verlede, ons foute reg te stel en saam die pad vorentoe aan te pak."

Vergesel ons asseblief op hierdie reis deur tot ons webtuiste by te dra: www.restoringcommunity.co.za.

Foto deur Thandokazi Dlephu