Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SciMathUS open deure vir NNS-navorser
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 08/02/2019

Op hoërskool het Gerald Maarman daarvan gedroom om 'n mediese dokter te word. Maar nadat hy sy matriekjaar in 2002 voltooi het, was sy finale graad 12-uitslae nie goed genoeg om toelating tot universiteit te kry nie. Hoewel sy droom toe onmoontlik gelyk het, het die Universiteit Stellenbosch se naskoolse program, SciMathUS, hom egter 'n tweede kans gegee om sy drome te bewaarheid.

“Ek sou nie vandag universiteitsgrade gehad het as dit nie vir SciMathUS was nie. Hulle het my ingesteldheid heeltemal verander (op 'n goeie manier); hulle het my geleer hoe om 'n strategie te ontwikkel en my sukses te bereken. 

Sedert hy die SciMathUS-program in 2003 voltooi het, het Maarman 'n BSc-graad in Menslike Lewenswetenskappe behaal en sy BSc-honneurs en MSc in mediese fisiologie by die US se Tygerbergkampus voltooi. Hy het ook in 2014 sy PhD in kardiovaskulêre fisiologie aan die Universiteit van Kaapstad behaal.

“Ek wou aanvanklik 'n hart- en borschirurg word, maar op universiteit het ek mediese fisiologie ontdek en verlief geraak daarop omdat dit die wisselwerking tussen verskillende stelsels in die liggaam bestudeer. Hierdie studierigting gebruik verskeie tegnieke om menslike siektes beter te verstaan en om beter medikasie vir pasiënte te ontwikkel."

Research gate Pic.jpg
Sy passie vir navorsing en sy behoefte om pasiënte te help, het onlangs aan Maarman die Y2 NNS- (Nasionale Navorsingstigting) waardeskatting besorg. Dit beteken dat nasionale en internasionale kundiges saamstem dat hierdie jong navorser die potensiaal het om homself as 'n internasionaal-erkende vakkundige op sy gebied te vestig.

“Ek is in die wolke, want dit beteken dat nasionale en internasionale deskundiges op my gebied saam met die wetenskaplike gemeenskap reeds die waarde van my navorsing erken ondanks die feit dat ek nog 'n jong navorser is. Die waardeskatting sal my toegang bied tot aansporingsnavorsingsbefondsing om my navorsing voort te sit en wyer wetenskaplike netwerke en navorsingsamewerking te bou. Dit sal my uiteindelik in staat stel om deur navorsing (eksperimenteel en klinies) groter bydraes op die gebied van medisyne en in die lewering van meer PhD's te maak.

Maarman werk tans as 'n navorsingsbestuurder by die Desmond Tutu Teringsentrum op die US se Tygerbergkampus. Hy hoop om binne die volgende vyf jaar 'n B-geklassifiseerde navorser te word, wat sy navorsing sal help om 'n groter kliniese invloed op die gebied van medisyne te hê.

Afgesien van sy akademiese doelwitte, wil Maarman ook graag miljoene mense wêreldwyd inspireer om ten spyte van moeilike omstandighede sukses te behaal.

“Ek wil nog so baie in die lewe bereik. Ek wil nog twee boeke skryf, my eie suksesvolle sakeonderneming hê, 'n trotse man en pa wees en 'n suksesvolle gospelkunstenaar en internasionale spreker word. Ek het deur die jare geleer dat as jy suksesvol wil wees, jy dit self moet doen en nooit van ander moet verwag om aanspreeklikheid vir jou droom of visie te aanvaar nie."

Meer inligting oor SciMathUS

Die SciMathUS-program (oftewel Science and Mathematics at Stellenbosch University) maak deel uit van verskeie eenhede binne die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Opvoedkunde. Leerders wat reeds graad 12 met 'n gemiddelde van ten minste 60% geslaag het, maar wat nie vir toelating tot hoër onderwys gekwalifiseer het nie, word nog 'n geleentheid gebied om hul Nasionale Senior Sertifikaat-uitslae in spesifieke vakke te verbeter ten einde weer vir universiteitsprogramme te kan aansoek doen. Vir meer inligting oor die SciMathUS-program, besoek die webwerf www.sun.ac.za/suncep of skakel 021 808 3483.

 

*Fotos deur Charlene D. Edwards.