Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
’n Terugblik op 2018 – hoogtepunte van die Instituut vir Plantbiotegnologie
Outeur: C van der Vyver
Gepubliseer: 06/02/2019

Vir die Instituut vir Plantbiotegnologie (IPB) aan die Universiteit Stellenbosch was 2018 nóg 'n besige en produktiewe jaar. Een van die kernbedrywighede van die IPB is om studente op te lei. In dié verband het navorsingswerk wat in 2018 voltooi is op een doktoraat en vier magistergrade in die IPB uitgeloop. By die Maart-gradeplegtigheid het Marnus Smith sy doktorsgraad ontvang, terwyl magistergrade by die Desember-gradeplegtigheid aan Coenrad van Beek, Melt Hugo, Janto Pieters en Ingrid Jacobs toegeken is – Melt s'n met onderskeiding. 'n Verdere 15 BSc-honneursstudente het ook suksesvol afgestudeer. Ons wens graag al hierdie studente geluk met hulle goeie werk!

'n Aantal IPB-personeellede en -studente het binnelands én internasionaal gereis om aan verskeie wetenskaplike konferensies deel te neem, waar hulle navorsingsvoorleggings gedoen en met medewerkers ontmoet het. So byvoorbeeld het dr Paul Hills studente en personeellede in Januarie in sy hoedanigheid as voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Botaniste (SAAB) by die 44ste SAAB-jaarkonferensie by die Universiteit van Pretoria verteenwoordig. James Lloyd, wat in 2018 tot medeprofessor bevorder is (geluk!), het in Julie die Europese plantbiologiekonferensie in Kopenhagen bygewoon, en dit met 'n vergadering van die hoofredakteurs van die ooptoegangtydskrif Frontiers in Plant Science in Switserland gekombineer. 

As deel van 'n voortgesette toelaag vir samewerkende wetenskap- en tegnologienavorsing tussen Suid-Afrika en Indië het dr Christell van der Vyver die navorsingsgroep van prof Sanjib Panda van die Departement Lewenswetenskap en Bio-informatika aan die Universiteit van Assam in Silchar, Indië, besoek. Dr Van der Vyver het teen die einde van Maart na Indië gereis om die nasionale konferensie oor biowetenskap en biotegnologie by te woon en haar groep se navorsing as 'n gasspreker by die konferensie aan te bied. Prof Panda het op sy beurt Suid-Afrika teen die einde van Mei besoek om bystand te bied met nagraadse navorsingsprojekte oor droogtetoleransie by suikerriet in die besonder, en om gedagtes uit te ruil oor gewasverbetering gedurende abiotiese stres in die algemeen.

Dr Bianke Loedolff, 'n nadoktorale navorsingsgenoot van die IPB, het die Katholieke Universiteit Leuven (KU Leuven, België) vir twee maande besoek. Haar besoek is moontlik gemaak deur 'n beurs van die Coimbra Groep, wat tot nuwe samewerking tussen die IPB en prof Wim van den Ende van KU Leuven se Instituut vir Plantkunde en Mikrobiologie gelei het. Prof Van den Ende is 'n internasionaal gevierde naam op die gebied van fruktaannavorsing. As deel van die eerste Suider-Afrikaanse nadoktorale konferensie het dr Loedolff ook 'n werksessie oor klimaatslim landbou gereël en aangebied (https://www.youtube.com/watch?v= I8UDRn2t61c&t=688s). By dié geleentheid het twee voormalige ontvangers van die L'Oréal-UNESCO-prys vir vrouewetenskaplikes, proff Jennifer Thomson en Jill Farrant, as sprekers opgetree, en het die dekaan van AgriWetenskappe, prof Danie Brink, die hoofrede gelewer. Ál dr Loedolff se harde werk in 2018 is met 'n toekenning vir uitsonderlike prestasie van die Viserektor: Navorsing, prof Eugene Cloete, beloon. Bianke, veels geluk met 'n uiters produktiewe en suksesvolle 2018!

Dr Paul Hills het nuwe finansieringsbronne bekom vir 'n projek oor die bewaring van Haemanthus pumilio, wat deur die Rupert-natuurstigting geborg word en in Januarie 2018 'n aanvang geneem het. Dr Christell van der Vyver het ook daarin geslaag om 'n aanvanklike drie jaar lange kontrak vir die genetiese ontwerp van suikerriet vir beter droogtetoleransie tot Maart 2021 te verleng. Hierdie projek word deur die Suid-Afrikaanse Suikerrietnavorsingsinstituut (SASRI) geborg, en is deur die suikerrietbedryf aangevra om die impak van onlangse droogtes op volhoubare suikerrietproduksie te probeer verlig. Daarbenewens het dr Shaun Peters finansiering van die Nasionale Navorsingstigting se mededingende hulpfinansieringsinstrument ontvang vir sy navorsingsprogram oor die duif-ertjie ('n belangrike weesgewas) wat onlangs van stapel gestuur is.   

Dr Peters het boonop as gasheer opgetree vir 'n voorgraadse student, mnr Wesly Curruchich, as deel van 'n internskapprogram van die EARTH-universiteit, Costa Rica. Dit was die IPB se eerste kennismaking met die internskapprogram, en Wesly het 16 weke in die IPB-laboratorium deurgebring vir sy navorsingsprojek oor die identifisering van gene wat betrokke is by die opbou van antivoedingsuikers by die duif-ertjie. Me Zanele Mthembu, een van dr Peters se PhD-studente, is ook gekies om deel te neem aan die ASPB Conviron-wetenskapprogram (https://blog.aspb.org/announcing-the-2018-2019-aspb-scholars-sponsored-by-conviron/), wat 'n grondslag wil lê vir jong wetenskaplikes om loopbane op plantwetenskaplike gebied te volg. Zanele was die enigste Suid-Afrikaner wat vir die program gekies is en ons wens haar geluk met hierdie prestasie.

In 2018 was dr Paul Hills voorts aktief betrokke by 'n gemeenskapsuitreikprojek na die Kruger Nasionale Park saam met die Ajubatus-stigting om projekte met betrekking tot 'n minderbevoorregte skool in die omgewing te bespreek en te reël, sowel as navorsingsprojekte waaraan die IPB saam met Ajubatus kan werk. Laastens het studente en personeellede van die IPB ook onder drs Hills en Peters se leiding nuwe gemeenskapstuine by die Universiteit Stellenbosch se Welgevallen-proefplaas aangelê. Vars produkte uit dié tuine is reeds by drie geleenthede aan die organisasie Feeding in Action gelewer (https://feedinginaction.co.za).  

Die jaar 2018 was oor die algemeen 'n produktiewe jaar vir die IPB, en ons sê geluk en dankie aan alle personeellede en studente vir hulle harde werk in die loop van die jaar.


year end article photo.png