Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
MULTI-SKOOL WETENSKAPKLUB SKOP AF
Outeur: Erika Hoffman
Gepubliseer: 21/01/2019

Die Fakulteit Opvoedkunde in Stellenbosch was op Saterdagoggend 19 Januarie 'n roesemoes van aktiwiteite toe skoolleerders van Stellenbosch en omgewing bymekaar gekom het vir die afskop van hierdie inisiatief. SUNSEP Wetenskapklub is die realisering van 'n droom van SUNSEP, 'n sentrum binne Fakulteit Opvoedkunde, wat fokus op leerversterking van skoolleerders en die professionele leer van onderwysers.

Die doel van die wetenskapklub is om talentvolle leerders wat in wetenskap, tegnologie en innovasie belangstel, saam te bring in 'n stimulerende omgewing waar hulle leiding kan kry, navorsingsvaardighede kan ontwikkel en ondersteun kan word om 'n wetenskaplike navorsingsprojek oor 'n onderwerp van hul keuse suksesvol te voltooi.

Die uiteindelike doel van die wetenskapklub is vir die 108 jong wetenskaplikes en hul 20 onderwysers wat met hierdie reis begin het, om in Augustus aan die Stellenbosch-streekkompetisie van Ekspo vir Jong Wetenskaplikes deel te neem. By hierdie geleentheid sal die onderwysers deel vorm van 'n groep beoordelaars wat in totaal 300 - 400 navorsingsprojekte van leerders uit die groter Stellenboschstreek sal assesseer met die doel om vas te stel wie medaljes en spesiale pryse wen.

SUNSEP as gasheer van die jaarlikse Ekspo vir Jong Wetenskaplikes in die Stellenboschstreek het ten doel om 2019 'n spesiale jaar te maak, aangesien dit die 20ste bestaansjaar herdenk.

Vir meer inligting oor die wetenskapklubinisiatief, kontak Erika Hoffman by 021 808 3482 of ehoff@sun.ac.za.