Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
‘Oprah het die trajek van my lewe verander’ – pas gegradueerde dokter
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 16/01/2019

 

Jare gelede, toe sy nog ʼn kind was en in die vroeë oggendure buite ʼn Soweto-kliniek tou gestaan het vir mediese hulp vir haar ouma se hipertensie, het Boitumelo Theepe haarself stilweg belowe sy gaan eendag ʼn dokter word. 

“Een van my vroegste herinneringe was hoe ek saam met my ouma in die donker gestaan en wag het sodat die dokter ons daardie dag kon sien. Ek het toe al gedink daar moet ʼn manier wees om ʼn verskil te maak. As daar net meer dokters was, sou mense nie so lank hoef te wag nie! Dit het my geïnspireer om ʼn dokter te word." 

Theepe (24) was in die Oprah Winfrey Leadership Academy for Girls en het in Desember verlede jaar by die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe as ʼn mediese dokter gekwalifiseer. 

Haar passie is om maniere te ondersoek om die strukturele funksionering van Suid-Afrika se gesondheidstelsel te verbeter. “Ek stel regtig daarin belang daarin om uit te werk hoe ons stelsels in plek kan stel om die las op die gesondheidsorgstelsel te verlig," sê sy. 

Wetenskap en “hoe die liggaam werk" fassineer haar ook en sy werk tans as ʼn intern by die Groote Schuur-hospitaal, waar sy algemene interne geneeskunde praktiseer. Tydens die onderhoud was sy nog net ʼn week lank daar en was sy “mal oor die werk". 

“Ek is omtrent aan die diep kant ingegooi, maar dit het my geleer om te leer om vinniger te swem!" vertel Theepe. 

“Ons werk met al die chroniese leefstylsiektes ­– insluitend TB, MIV en alle aansteeklike siektes wat langtermyn-bestuur en ʼn holistiese mediese benadering verg, asook samewerking met verskeie spesialiste. Dit sluit basies ʼn bietjie van alles in geneeskunde in. 

 “Ek is mal daaroor, want ons is die eerste mense wat die pasiënte sien nadat hulle by noodgevalle aangemeld het. Vir my is dit soos om ʼn raaisel op te los. Ons moet hulle eers kalmeer en seker maak hulle is stabiel voordat ons ʼn diagnose maak. Ons sien baie van die teksboektoestande wat ons in medies bestudeer het. Ons behandel mense wat regtig ernstig siek is en volg hulle op om seker te maak hulle beland nie weer hier nie. 

“Ook fassinerend is dat baie van die kliniese assistente en konsultante navorsing doen en die hospitaal derhalwe op die hoogte is van die siektes en oor baie inligting beskik. Daar is so baie wat ons kan leer. 

“Ek geniet dit so om my pasiënte te help en te weet hierdie is iemand se ma, iemand se pa of iemand se ouma wat nie hoef te wag om mediese aandag te kry nie," sê sy. 

Theepe is in Soweto gebore en daar deur haar ouma, Lydia Nonyana, grootgemaak omdat haar ouers albei elders moes gaan werk soek. Haar pa, Tahleho, is ʼn mynwerker en haar ma, Arcilia, ʼn handelsware-aanbieder. 

​“My ouma, wat vanjaar afgetree het, het my en my niggies en nefies grootgemaak op die salaris wat sy verdien het as ʼn teedame en bode. Sy het my altyd aangemoedig om hard te werk, het my nooit toegelaat om skool te mis nie en het ons altyd met huiswerk gehelp waar sy kon." 

Terwyl sy in Soweto op hoërskool was, is sy deur haar onderwysers genomineer om by die Oprah Winfrey Leadership Academy for Girls aansoek te doen. “Ek het ʼn passievolle voorlegging oor die uitwerking van MIV op die gemeenskap gedoen en ek dink my onderwysers het gereken ek moet aansoek doen. 

“Omdat my ouma se opvoeding beperk is, moes ons die bure vra om die vorms te help invul. Ons het die beste gedoen wat ons kon. En toe bel die skool my en moes ek etlike onderhoude ondergaan. Die finale onderhoud was met Oprah Winfrey self. Ons was die akademie se eerste inname, in 2007, en sy het ons met die hand gekies. 

“Ek het ʼn paar keer na haar program gekyk, maar het nie veel van haar geweet nie. Tydens ons ontmoeting het dit my opgeval hoe mooi sy is. Dit het gelyk of sy pas uit die TV gespring het! Sy is baie warm, ontspanne en snaaks." 

Theepe sal nooit die dag vergeet toe sy gehoor het sy is deur die akademie aanvaar nie. “Ouers het van vreugde gehuil … Ons het mekaar almal omhels." 

Sy skryf baie van haar sukses toe aan die akademie, waar sy met vyf onderskeidings gematrikuleer het. “Benewens ʼn sterk fokus op ʼn goeie opvoeding, is dienaar-leierskap die skool se kernvisie. Ons is aangemoedig om deur ons voorbeeld te lei en aan die gemeenskap terug te gee. Dit is by ons ingeprent. Die onderwysers is baie toegewyd. Ons was ook bevoorreg om toegang tot talle buitemuurse aktiwiteite en gemeenskapsdiensgeleenthede te hê. Die skool het my in staat gestel om vas te stel waarin ek goed is." 

The Oprah Winfrey Leadership Academy Foundation het Theepe finansieel met haar tersiêre studies bygestaan. Rebecca Miller Sykes, President van die Stigting, was verheug oor Theepe se sukses. “Ons is so trots op Boitumelo," het sy gesê. 

“Almal wat betrokke is by die skool en die stigting is in ekstase dat Boitumelo haar graat ontvang het, want om 'n dokter te word sal haar, sowel as haar familie, haar gemeenskap en die skool bevoordeel. Baie jong meisies droom daarvan om dokters te word en Boitumelo het bewys dat hierdie droom bereikbaar is vir jong OWLAG-leerders." 

Volgens Sykes het Theepe spesiale eienskappe, naamlik blywendheid, geduld, en gierigheid om te leer, wat ook goeie eienskappe is om te hê as jy 'n dokter is. 

“OWLAG-leerders word gekies vir hulle intellek en leierskapspotensiaal, en daarom was Boitumelo goed geplaas om sukses te behaal. Die skool bied jong vroue die hulpbronne, geleentheid en toegang om hul doelwitte te bereik," het Sykes gesê. 

“Ek glo dat Boitumelo 'n positiewe impak op die lewens van haar pasiënte sal maak. As 'n dokter sal sy behandeling bied wat hulle lewens sal red of verbeter, en as 'n jong Suid-Afrikaanse vrou is sy lewende bewyse van die transformerende mag van opvoeding," het Sykes bygevoeg. 

Oor haar toekomstige loopbaandoelwitte sê Theepe sy sal voorlopig op haar internskap fokus, wat ervaring in elke dissipline bied. “Daarna sal ek ʼn spesialiteit kies. Ek stel tans in sielkunde en pediatrie belang. Daarbenewens sal ek aanhou om ʼn kampvegter vir gesondheid te wees, as ʼn dokter en as iemand wat hoop om stelsels in werking te help stel wat die funksionering van die gesondheidstelsel sal verbeter." 

Theepe se belangstellings sluit sang in en sy het verlede jaar die US se gospelkoor gedirigeer. “Ek hou ook van toesprake, lees, om tyd met vriende deur te bring en om Kaapstad te verken." 

By terugskoue op haar lewe kan Theepe nie help om aan die noodlot te glo nie. My lewe was ʼn reeks gebeure wat ek my nooit sou kon indink nie. Een ding wat ek geleer het, is die belangrikheid en mag van goedhartigheid." 

Benewens haar ouers, is haar rolmodelle haar ouma – “sy is die toonbeeld van stille krag" – en Oprah Winfrey. “Sy het basies die trajek van my lewe verander. Ek bewonder haar nie net van ver af nie, maar beskou haar as ʼn moederfiguur. Haar liefde raak so baie mense. Ek hoop ek kan dieselfde deur my geneeskundige werk doen."


 

Onderskrif: Boitumelo Theepe (regs) saam met Rebecca Sykes, president van die Oprah Winfrey-stigting (links) en die FGGW-dekaan, prof Jimmy Volmink (middel) by die MB,ChB Eedaflegging-seremonie in Desember verlede jaar.

Insetsel 1: Die pas gegradueerde mediese dokter, Boitumelo Theepe.

Insetsel 2: Boitumelo Theepe (middel), saam met haar ouma, Lydia Nonyana (links), en haar moeder, Relebohile Theepe (regs) by haar gradeplegtigheid.