Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Voorgraadse student presteer met navorsing
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 18/12/2018

Dis nie aldag dat 'n mediese student 'n groot wetenskapskompetisie wen en senior akademici uitstof nie. Maar dis presies wat MB,ChB VI-student Sean Anderson onlangs gedoen het toe hy die kliniese kategorie van die Jong Wetenskaplike-kompetisie by die Konferensie van Biomediese en Natuurwetenskappe en Terapeutika (CoBNeST) gewen het.

Anderson het die toekenning gewen vir sy navorsingsreferaat getiteld The Neurological Phenotype of Patients with HIV associated Neurocognitive Disorder (HAND) on Antiretroviral Therapy, waarin hy die neurologiese data van MIV-positiewe pasiënte ondersoek het.

Dr Eric Decloedt, 'n kliniese farmakoloog van die Afdeling Kliniese Farmakologie, sê hy was so beïndruk deur Anderson se werk dat hy die moontlikheid om dit as 'n selfstandige graad in te handig, ondersoek het.

“Hy is baie intelligent en die kwaliteit van sy werk oortref dié van die meeste van sy kollegas wat as spesialiste opgelei word," sê Decloedt, wat die voorsitter van die wetenskaplike organiseringskomitee van die konferensie was.

Decloedt het Anderson se navorsing as volg opgesom: “Wanneer 'n pasiënt met MIV besmet word, word die neurologiese stelsel binne dae aangetas. Ondanks ARV-behandeling toon pasiënte steeds kognitiewe aantasting. Die ARV-terapie behandel ernstige vorme van kognitiewe aantasting... maar die matige vorme is steeds baie algemeen ten spyte van ARV's. Sean Anderson het 'n groep pasiënte ondersoek en neurologiese ontledings gedoen. Hy het gekyk of daar spesifieke neurologiese tekens teenwoordig was, soos versterkte of verswakte reflekse, en of dit gebruik kon word om pasiënte met MIV-verwante neurokognitiewe steurings in die kliniek te help diagnoseer. Hy het die neurologiese assessering met die graad van kognitiewe aantasting probeer verbind."

Die konferensie, wat in Oktober plaasgevind het en deur die US se Afdeling Kliniese Farmakologie aangebied is, is die eerste van sy soort in Afrika. Die konferensie, met die tema “Interdisciplinary Scientific Excellence", het as 'n platform gedien vir 'n aantal onafhanklike geleerde genootskappe met gedeelde belange in basiese, translasionele, kliniese biomediese en farmaseutiese wetenskappe in Suid-Afrika, insluitende die Akademie vir Farmaseutiese Wetenskappe (APSSA), die Fisiologie Vereniging van Suider-Afrika (PSSA), die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Proefdierwetenskap (SAALAS), die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Basiese en Kliniese Farmakologie (SASBCP), die Neurowetenskappe Vereniging van Suider-Afrika (SANS) en die Toksikologie Vereniging van Suid-Afrika (TOXSA).

Volgens Decloedt het dié interdissiplinêre konferensie vele hoogtepunte gehad, soos dat die US se Rektor, prof Wim de Villiers, die konferensie geopen het, en dat die Dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, prof Jimmy Volmink, onder die vele vername sprekers getel het. Dr Patrice Matchaba, die Globale Hoof van Korporatiewe Verantwoordelikheid by Novartis, was ook een van die hoofsprekers.

Decloedt sê die terugvoer wat hulle ontvang het toon dat die konferensie 'n oorweldigende sukses was. “Ons was van plan om dit elke derde jaar te doen, maar ons het nou besluit om dit meer gereeld aan te bied."

Die ander wenners van die kompetisie was Kim Adams, wat tweede gekom het met haar referaat Pharmacokinetic study of anti-TB drug PAS and Metabolites and its possible relationship with the development of Toxicity, en Jana Winckler van die Desmond Tutu TB-sentrum wat derde gekom het met haar referaat, The Pharmacokinetics of High Dose Isoniazid for the Prevention of Treatment of Drug-Resistant Tuberculosis in HIV-infected and -uninfected Children.

Decloedt het die volgende gesê oor Anderson se prestasie: “Dit is besonders vir 'n voorgraadse mediese student om die Jong Wetenskaplike-kompetisie te wen aangesien hy teen MMed-, meester- en PhD-studente meegeding het.

“Ons kan beslis groot dinge van Sean verwag. Ek was veral beïndruk met hoe hy die basiese aspekte van die onderwerp in so 'n kort tydperk bemeester het en op eie inisiatief verder nagevors het.

Matchaba van Novartis het die kontantprys aan Anderson oorhandig.

Onderskrif: Wenners van die Jong Wetenskaplike-kompetisie, Sean Anderson (ver links), Jana Winckler (derde van regs) en Kim Adams (ver regs) is hier te sien by die Konferensie van Biomediese en Natuurwetenskappe en Terapeutika saam met (van links na regs) dr Eric Decloedt, proff Helmuth Reuter en Jimmy Volmink, en dr Patrice Matchaba.​