Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Inspuiting met goedkoper middel kan help teen diabetiese oogsiekte
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 11/12/2018

Diabetiese oogsiekte (diabetiese retinopatie) is wêreldwyd een van die voorste oorsake van blindheid en kan duur wees om te behandel in veral lae- en middel-inkomste lande, insluitend Suid-Afrika. Maar daar is hoop vir mense wat hieraan ly. ʼn Doktorale studie aan die Universiteit Stellenbosch (US) het bevind dat 'n relatief goedkoop medisyne genaamd bevacizumab dalk net die nodige verligting kan bring.

“Ons het gevind dat wanneer bevacizumab in die oë ingespuit word dit help om diabetiese oogsiekte te behandel en blindheid te voorkom in mense wat in lae- en middel-inkomste lande woon," sê dr Jose Fernando Arevalo, voorsitter van die Departement Oogheelkunde by die Bayview Mediese Sentrum in die Wilmer Ooginstituut aan die Johns Hopkins-universiteit se Skool vir Geneeskunde in Baltimore, Amerika. Arevalo, ook die president van die Pan-Amerikaanse Oogheelkunde-vereniging, het Dinsdag (11 Desember 2018) sy doktorsgraad in Oogheelkunde by die tweede seremonie van die US se Desember-gradeplegtigheid verwerf.

Arevalo sê die vinnige toename in die voorkoms van diabetes beteken dat teen 2040 meer mense diabetiese oogsiekte kan ontwikkel en daarom moet goedkoper maniere gevind word om die toestand te behandel. Diabetiese oogsiekte affekteer beide mense met Tipe 1 en Tipe 2 diabetes. Dit lei tot 'n verlies aan visie wat hoofsaaklik deur die opbou van vloeistof in die retina en die abnormale groei van bloedvate in die oog veroorsaak word.

Arevalo sê die doel van die navorsing was om vas te stel of inspuitings met bevacizumab, wat onder die handelsnaam Avastin verkoop word, kan help om die komplikasies van diabetiese oogsiekte in lae- en middel-inkomste lande te bestuur. Hy voeg by dat mense in baie hoë-inkomste lande reeds by bevacizumab-inspuitings en ander duurder medisyne baat. Bevacizumab word ook gebruik om kanker te behandel en is beskikbaar in lae- en middel-inkomste lande.AmericanPHD1.jpg
In verskeie ondersoeke by verskillende mediese sentrums in 13 Latyns-Amerikaanse lande het Arevalo gekyk na die effektiwiteit van nie-goedgekeurde (off-label) bevacizumab-inspuitings as behandeling vir diabetiese oogsiekte.

Arevalo sê die navorsing het getoon dat “inspuitings met bevacizumab, wat minimale newe-effekte het, effektief is teen die opbou van vloeistof in die retina en die abnormale groei van bloedvate in die oog."

“Bevacizumab help ook om die proteïen wat die abnormale groei van bloedvate stimuleer en klein aneurismes en verhoogde lekkasies van vloeistof in bloedvate veroorsaak in toom te hou."

“In die studie van 1265 pasiënte wat 4303 ooginspuitings van 1,25 mg of 2,5 mg bevacizumab ontvang het, is bevind dat hierdie prosedure veilig is. Tans word slegs die laer dosis van 1,25 mg aanbeveel."

Arevalo voeg by dat die eerste inspuitings met bevacizumab die helderheid of skerpheid van visie stabiliseer of verbeter deur die opbou van vloeistowwe in die retina te verminder. Dié vloeistowwe word deur middel van 'n skandering van die lae in die retina en 'n kleurstoftoets van die retinale vate gemeet.

Hy sê uiterste sorg moet egter geneem word met die gebruik van 2,5 mg of meer bevacizumab omdat dit in gevalle van gevorderde diabetiese oogsiekte daartoe kan lei dat die retina van die omliggende weefsel wegbeweeg of selfs dié situasie vererger.

Arevalo noem dat hulle ook die bruikbaarheid van bevacizumab-inspuitings vóór minimale indringende operasies om vloeistof uit die oog te verwyder in pasiënte waar die retina van omliggende weefsel wegbeweeg het gedemonstreer het.

“Dit blyk dat bevacizumab-inspuitings vóór operasies bloeding tydens operasies kan verminder, die chirurg kan help om die oog beter te sien, en komplikasies tydens en na chirurgie (insluitend skeure in die retina en post-operatiewe bloeding) kan verminder."

Arevalo sê in gevalle waar oogoperasies nodig is, moet dokters dit verkieslik binne vyf dae nadat bevacizumab-inspuitings toegedien is uitvoer en dadelik op pasiënte in wie die retina van die omliggende weefsel wegbeweeg het.

“Ons beveel minder as vyf dae ná inspuitings aan omdat in meer as 80% van gevalle die retina ná hierdie tydperk van omliggende weefsel wegbeweeg. Die inspuiting kan dié toestand veroorsaak in 3.2% van gevalle waar diabetiese oogsiekte in so ʼn gevorderde stadium is dat ʼn operasie nodig is. Pasiënte se visie verbeter egter ná 'n minder ingewikkelde operasie danksy die gebruik van bevacizumab."

Wat die bekostigbaarheid van bevacizumab betref, sê Arevalo mense in lae- en middelinkomste lande behoort makliker toegang tot die medikasie te hê.

“Bevacizumab is baie goedkoper per dosis en meer toeganklik as soortgelyke middels op die mark. ʼn 4 ml-flessie wat 100 mg bevat, kan by groothandelaars teen 550 amerikaanse dollar verkry word terwyl ander beskikbare medisyne tussen 1500 en 2000 dollar per dosis kos. Ongeveer 40-80 dosisse (0,05 ml elk) van bevacizumab-inspuitings kan voorberei word uit een flessie wat die koste per behandeling aansienlik verlaag."

  • ​Hooffoto: ʼn Pasiënt ondergaan ʼn oogtoets (Pixabay).
  • Foto 1: Dr Jose Fernando Arevalo by die gradeplegtigheidseremonie.

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Jose Fernando Arevalo, MD FACS

Departement Oogheelkunde

Johns Hopkins Bayview Mediese Sentrum

Retina Afdeling, Wilmer Ooginstituut

Johns Hopkins-universiteit se Skool vir Geneeskunde

Baltimore, MD, VSA

Tel: 410-614-4637

E-pos: arevalojf@jhmi.edu

         UITGEREIK DEUR

Marin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: +27 (0) 21 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ca.za