Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
MEDIAVERKLARING: Reconciliation-konferensie by die Universiteit Stellenbosch
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 02/12/2018

Verklaring

30 November 2018

'n Doelstelling van Recognition, Reparation, Reconciliation: The Light and Shadow of Historical Trauma-konferensie wat by die Universiteit Stellenbosch gehou word, is om akademici en praktisyns byeen te bring om te praat oor belangrike kwessies wat verband hou met die diep wonde van ou konflikte wat oor generasies strek.

Om enkeles te noem: Wat is die gepaste reaksie op die eggo's  van historiese verwonding wat veel verder strek as net die generasie wat dit direk ervaar het? Watter strategieë kan aangewend word om die vêrreikende gevolge van volksmoord, slawerny, koloniale onderdrukking en massageweld wat uitspeel in die lewens van diegene aan beide kante van hierdie dade, die hoof te bied?

Dit is daarom 'n jammerte dat die Israeli | Palestynse narratief nou oorgespoel het na die konferensie, wat uitloop op juis die teenoorgestelde as wat as visie vir die geleentheid gestel is en dat die Universiteit Stellenbosch en prof Pumla Gobodo-Madikizela, voorsitter die reëlingskomitee en bekleër van die Navorsingsleerstoel in Historiese Trauma en Transformasie, nou onder verdenking gekom het.

Ek verklaar onomwonde die volgende:

  • Die Universiteit Stellenbosch ondersteun die reg op vryheid van uitdrukking en akademiese vryheid is geensins anti-semities of anti-Palestyns nie.
  • Terminologie soos “disinvited, uninvited" of uitnodigings wat “eensydig gekanselleer is" in verwysing na sprekers wat nie meer die konferensie sal bywoon nie, is doodeenvoudig nie waar nie. Op geen stadium het die konferensie-organiseerders of die Universiteit Stellenbosch versoek of voorgestel dat enige spreker moet onttrek nie. Verder is geen individue op die Universiteit Stellenbosch se sosiale media-platforms uitgesonder of veroordeel nie. Die Universiteit het egter geen beheer oor die nuusbriewe of sosiale media-platforms van eksterne organisasies nie. Prof Gobodo-Madikizela het in 'n gees van versoening haar samesprekings met die onderskeie rolspelers voortgesit, haar spyt uitgespreek oor die Israeliese afvaardiging se onttrekking en het hulle die versekering gegee dat hul veilig in Suid-Afrika sal wees sou hulle die konferensie bywoon.
  • Toe die organiseerders die eerste keer bewus geword het van 'n verklaring waarin teenstand teen die deelname van  Israeli-sprekers uitgespreek is, is 'n strategiese besluit geneem om die name van individue en hul instellings van die konferensie-webwerf te verwyder, en nie uit die program nie, as 'n voorsorgmaatreël om te voorkom dat die akademici en hul instansies nie geteiken word nie en sodat die konferensie nie ontspoor nie.
  • Die Israeliese afgevaardigdes het besluit om hul deelname terug te trek as gevolg van omstandighede buite die beheer van die Universiteit en die konferensie-organiserende komitee.

Die mees teleurstellende uitkoms van hierdie reeks gebeure is die afwesigheid van sterk debat oor die Israeli | Palestynse kwessie by die konferensie.

Prof Wim de Villiers

Rektor en Visekanselier