Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Stellenbosch Ekspo vir Jong Wetenskaplikes 2018: Leerders presteer
Outeur: Erika Hoffman
Gepubliseer: 22/11/2018

In 2018 het SUNCEP vir die 19de agtereenvolgende jaar in die Stellenbosch-streek 'n Ekspo vir Jong Wetenskaplikes aangebied, waar leerders hul navorsingsprojekte kon vertoon. Leerders van 33 skole van regoor die Stellenbosch-streek, so ver as Bredasdorp, Touwsrivier, Bellville, Paarl en Kraaifontein, het Stellenbosch toe gekom om hul projekte uit te stal.

Altesame 370 leerders was betrokke wat altesaam 296 projekte uitgestal het. Die meerderheid het individueel gewerk en sommige in pare. 60.5% van die deelnemers was meisies.

Een honderd en drie beoordelaars het vrywillig hul tyd opgegee om die uitgestalde projekte te beoordeel. Daar is 186 medaljes in totaal toegeken - 39 goud, 70 silwer en 77 brons.  Verskeie spesiale pryse is toegeken aan verdienstelike leerders wat in hul onderskeie kategorieë gewen het. Die meeste van hierdie pryse is deur die Universiteit Stellenbosch se Fakulteite Natuurwetenskappe, AgriWetenskappe, Ingenieurswese en Kuns en Sosiale Wetenskappe geskenk.

Sestien projekte is gekies om die Stellenbosch-streek te verteenwoordig by die nasionale ekspo (ook bekend as die "International Science Fair" of ISF) in Boksburg, Gauteng. Deelnemers aan ISF het van al 35 streke in Suid-Afrika gekom.

ISF Group news2.jpg
Die leerders wat die Stellenbosch-streek by die 2018 Suid-Afrikaanse International Science Fair (ISF) verteenwoordig het.  

Foto: Publieke Domein

​Die Stellenbosch-streek se leerders het ons trots gemaak en huis toe gekom met drie spesiale pryse, twee goue medaljes, sewe silwer, vier brons medaljes en drie eervolle vermelding-toekennings. Een leerder is ook gekies vir moontlike internasionale deelname.

In 2019 sal Expo in die Stellenbosch-streek 20 jaar jonk wees! 'n Feestelike Expo, waardig van hierdie prestasie, word beplan! Besoek gerus ons webwerf vir meer besonderhede: www.sun.ac.za/stbexpo​​.