Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Geïntegreerde Jaarverslag 2017 een van die bestes in die land
Outeur: Corporate Communications Division
Gepubliseer: 16/11/2018

“Dié toekenning maak my so trots op die Universiteit Stellenbosch! 'n Mens kan net 'n geïntegreerde verslag lewer as jou instansie geïntegreerd bestuur word."

Só voel Mattie van der Merwe, redakteur van die Universiteit se Jaarverslag, wat die week (Woensdag, 14 November) saam met Manie Lombard, Hoofdirekteur: Finansies, 'n toekenning vir geïntegreerde verslaggewing van Chartered Secretaries Southern Africa (CSSA) en JSE by 'n luisterryke funksie by die Montecasino in Johannesburg ontvang het.

Die US se Geïntegreerde Jaarverslag 2017 was een van die verslae in die nasionale kompetisie se kategorie Openbare Sektor wat vir die toekenning oorweeg is. Die wennerjaarverslag is die Universiteit se derde geïntegreerde verslag.

Die CSSA kompetisie word al sedert 1956 aangebied, aanvanklik eers vir gewone verslae en, sedert 2013, uitsluitlik vir geïntegreerde verslae.

Die entoesiasme vir geïntegreerde verslaggewing was tasbaar by die geleentheid. “'n Geïntegreerde jaarverslag val nie uit die lug nie – dis jare se institusionele strategiese beplanning en geïntegreerde bestuur wat dit moontlik maak," sê Van der Merwe.

Die verslag bevat inligting wat vanoor die hele Universiteit ingesamel word. Dit is inligting van almal se werksaamhede om hul omgewingsplanne se doelwitte te verwesenlik, om risiko's te bestuur en om die Universiteit as 'n instelling te laat floreer, sê Van der Merwe.

“Dis spanwerk: van die redigering en vertaling, finansiële-inligting- en statistiekverskaffing tot die fotonemery, uitleg en drukwerk, wat deur elkeen met keur gedoen word, dra by tot die eindproduk. Selfs die Universiteitsargief het vir ons besondere foto's bygedra," sê sy.

Die Universiteit was nooit van plan om aan die kompetisie deel te neem nie tot Anne Westwood-Mark van CSSA die Universiteit se verslag onder oë gekry en toe die redakteur gekontak en genooi het om in te skryf.

Geïntegreerde verslaggewing is 'n nuwe ontwikkeling in korporatiewe verslaggewing, 'n verbetering op die gebruiklike jaarverslag. Dit verteenwoordig 'n groot denkskuif in die manier waarop ondernemings na hulle sakemodelle kyk. Die samestelling van 'n geïntegreerde verslag is 'n proses wat organisasies aanmoedig om langtermyndoelwitte te stel, hulle prestasies te meet en so by te dra tot die omskakeling na 'n volhoubare wêreldekonomie – een wat langtermyn-winsgewendheid met sosiale verantwoordelikheid en omgewingsorg kombineer. Voordat 'n organisasie 'n geïntegreerde verslag kan lewer, moet hy eers geïntegreerd en volhoubaar kan bestuur.

Sedert 2000, toe die Universiteitsraad 'n Strategiese Raamwerk vir die eeuwisseling en daarná aanvaar het, het die Universiteit Stellenbosch onder leiding van prof Andreas van Wyk as Rektor 'n nuwe koers ingeslaan met die vestiging van 'n gedesentraliseerde stelsel van verantwoordelikheidsentrumbestuur. Sy opvolger, prof Chris Brink, was 'n sterk drywer van strategie deur toekomsgerigtse beplanning en begroting. Onder prof Russel Botman se leierskap is die fokus van oorhoofse strategiese beplanning fyner ingestel om die sterk punte van die Universiteit te ontwikkel en in te span om van ons land se grootste uitdagings deur wetenskapsbeoefening op te los. Uiteindelik het die Universiteit se Institusionele Voorneme en Strategie 2013–2018, nou aan die einde van sy siklus, die ideale basis gelê om die verslag op te bou.