Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Uitsonderlike toetsfasiliteit geopen by internasionale konferensie
Outeur: Liesel Koch
Gepubliseer: 16/11/2018

'n Groot waaier- en verkoelingstelsel toetsfasiliteit, die enigste van sy soort ter wêreld, is amptelik by die Fakulteit Ingenieurswese, Universiteit Stellenbosch, geopen. Hierdie uitsonderlike fasiliteit is deel van die Universiteit se deelname aan die Europees-befondsde Horizon2020 MinWaterCSP-projek. Die opening het saamgeval met 'n tweedaagse internasionale konferensie oor die vermindering van waterverbruik in gekonsentreerde sonkragstasies wat in samewerking met die Universiteit Stellenbosch aangebied is.

Die doel van die konferensie was om die Suid-Afrikaanse nywerheid en die breër internasionale gemeenskap bekend te stel aan die projek en die moontlike voordele wat die resultate vir die gekonsentreerde sonkragbedryf (CSP) inhou.

Die Horizon2020 MinWaterCSP-projek kan bydra tot tegnologie wat water- en energieverbruik in kragstasies aansienlik sal verminder, terwyl die netto kragopbrengs aan die kliënt behoue of moontlik selfs verbeter word, veral in droogte-geteisterde gebiede waar CSP-aanlegte in gebruik is.

Onderwerpe wat by die konferensie gedek is, het gewissel van waterbestuur by sonkragstasies, die vermindering van die hoeveelheid water om sonkragaanlegte skoon te maak en innoverende, lae waterverbruik-verkoelingstegnologieë vir sonkragaanlegte.

Die Universiteit Stellenbosch is bekend vir sy kundigheid in verkoelingstegnologieë, sowel as oplossings vir sontermiese-energie en het dus 'n beduidende bydrae tot die konferensie gemaak.

Op die laaste middag van die konferensie het prof Willie Perold (Visedekaan: Navorsing en Industrieskakeling, Fakulteit Ingenieurswese) die nuwe toetsfasiliteit amptelik geopen.

Hierdie projek het befondsing ontvang van die Europese Unie se Horizon2020 navorsings- en innovasieprogram onder toekenningsooreenkoms No. 654443.

Sien hier vir meer inligting oor die konferensie

Foto-onderskrif: Konferensiegangers by die amptelike opening van die groot waaier- en verkoelingstelsel toetsfasiliteit geleë by die Fakulteit Ingenieurswese, Universiteit Stellenbosch.

Fotokrediet: Lizelle Lötter Photography.