Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US bou brûe deur navorsing oor godsdiens en geslagsgeregtigheid
Outeur: Dr. Selina Palm & Division for Social Impact
Gepubliseer: 16/11/2018

Die Eenheid vir Godsdiens en Ontwikkelingsnavorsing (EGON) is ʼn interdissiplinêre navorsingseenheid gebaseer in die Fakulteit Teologie van die Universiteit Stellenbosch. Die eenheid werk met diverse kliënte en navorsingsvennote oor die wêreld heen, en sluit vennootskappe met verskeie organisasies en geloofsorganisasies om hulle te help om by volhoubare ontwikkeling betrokke te raak. EGON fokus spesifiek op godsdiens en geweld, en werk saam met regerings- en nieregeringsorganisasies om intervensies te ontwikkel wat die grondoorsake van geweld aanpak en tot langertermyn-, volhoubare verandering lei. Die eenheid ontwikkel terselfdertyd akademiese teorie en tree as ʼn brug tussen die akademiese omgewing en praktyk op.

EGON is onlangs deur Girls Not Brides opdrag gegee om ʼn studie te doen rakende beter begrip van die rol van weerstandbiedende geloofsleiers in die Christelike, Moslem- en Hindoe-tradisies[1] ten einde kinderhuwelike stop te sit en doeltreffende strategieë te ontwikkel om saam met hulle te werk om verandering teweeg te bring.

Kinderhuwelike skend meisies se regte op gesondheid, onderwys en geleentheid. Dit stel meisies lewenslank aan geweld bloot en keer hulle in ʼn armoedesiklus vas. Hier is die feite:

  • Twaalf miljoen meisies word elke jaar in die eg verbind voor hul 18de verjaardag.
  • Byna een uit drie van hierdie meisies is nou in Afrika suid van die Sahara – ʼn toename vanaf een uit sewe 25 jaar gelede.
  • Een uit nege meisies in die ontwikkelende wêreld word teen die ouderdom van 15 in die eg verbind.

Deur Girls Not Brides het EGON se navorsingspan toegang tot 1 000 vennootorganisasies oor veelvuldige gelowe en in meer as 95 lande gehad, wat gelei het tot navorsingsbevindings wat die werk wat deur hierdie internasionale netwerk van vennote gedoen word, vorm en rig, en want in Junie 2018 by hul internasionale kongres in Maleisië aangebied is.

Die finale navorsingsverslag, getiteld “What lies beneath? Tackling the roots of religious resistance to ending child marriage", word tans afgerond en sal in Desember 2018 vrygestel word.

Lees die verslag hier​​​​

“Die navorsing het bevind dat kinderhuwelike soms deur sekere geloofsleiers as ʼn oplossing vir, voorkoming van of beskerming teen seksuele aktiwiteit en buite-egtelike swangerskap beskou of voorgehou word" sê dr Selina Palm, navorser by EGON.

Alhoewel nie alle geloofsleiers gekant is teen die beëindiging van kinderhuwelike nie, fokus hierdie verslag op diegene wat wel is ten einde aktiviste te ondersteun wat voor uitdagings te staan kom in hul pogings om saam met geloofsleiers te werk. Die volgende sewe oorvleuelende dryfvere (of onderliggende grondoorsake) is geïdentifiseer wat die houdings en praktyke rig wat tipies geloofsweerstand tot die beëindiging van kinderhuwelike aanvuur:

  • Die huwelik beskou as ʼn godsdienstige ritueel
  • Gebrek aan bewustheid van die gevolge van kinderhuwelike
  • Kinderhuwelike beskou as geloofsbevestiging
  • Vrees van voorhuwelikse seks en swangerskap
  • Versterking van patriargale mag
  • Ouerbeskerming en -mag oor kinders
  • Godsdiensfundamentalisme.

Etlike strategieë word dus voorgestel met betrekking tot begrip van die spesifieke dryfvere in ʼn besondere konteks en om voort te bou op dít wat op die gebied oor veelvuldige gelowe heen suksesvol blyk te wees.

Nog ʼn sleutelinisiatief wat tans plaasvind, is die werk wat gedoen word in vennootskap met Episcopal Relief & Development, die Zambiese Anglikaanse kerk en die Zambiese Anglikaanse Mothers' Union met betrekking tot geweld teenoor vroue (GTV) en geweld teenoor kinders (GTK).

Die navorsingsprojek vind oor ʼn tydperk van agt maande in Zambië plaas, met ʼn plaaslike navorsingspan wat deur EGON opgelei is as deel van die ONE VOICE-projek, ʼn beweging wat met vrouegroepe en -leiers werk. Verskillende kwalitatiewe metodes word gebruik om data in te samel, insluitende Photovoice, ʼn proses waardeur plaaslike navorsingsassistente foto's neem en stemnotas maak om te beskryf wat hulle in hul plaaslike gemeenskappe waarneem. Hierdie foto's identifiseer die sosiale en geloofsnorme wat geweld teen vroue en kinders in hul gemeenskappe onderstut, met ʼn spesiale fokus op hoe vroue moontlik GTV en GTK direk of indirek oorsien of afkeur.

Landelike Zambiese vroue in die Mothers' Union is as navorsingsassistente opgelei en met kamerafone toegerus. Hierdie vroue neem foto's van wat hulle in hul gemeenskappe waarneem en stuur die foto's, saam met ʼn stemnota, weekliks na die UDRD-navorsers.

Aan die einde van die projek sal die EGON-navorsers na Zambië terugkeer om die foto's saam met die plaaslike Zambiese navorsingspan (almal vroue) te vertolk, wat die verspreiding van die resultate oor breër Anglikaanse strukture sal rig om op te voed en gesprekke op sowel senior as gemeenskapsvlak te stimuleer. Die navorsing sal ook gebruik word om langertermyn-intervensies rakende GTV/GTK in die ONE VOICE-werk te rig, wat deur Episcopal Relief & Development en Zambiese Anglikaanse leiers ontwikkel word en ook op die ontwikkeling van vroueleierskap fokus.

“Ons navorsing begin en eindig met die idee van samewerking met die doel van kennisproduksie en
-verspreiding. EGON is verbind tot vakkundigheid wat ʼn direkte impak op die gemarginaliseerdes en ontmagtigdes het, en ons werk saam met die doel om praktyk te verbeter. Ons dra by tot die bereiking van die beste resultate vir en met begunstigdes, in hierdie geval vroue en kinders wat veelvuldige vorme van geweld in hul gemeenskappe ervaar," sê dr Palm.

Meer inligting en navorsingsverslae oor EGON se internasionale werk kan gevind word by www.sun.ac.za/urdr. Dr Selina Palm kan by spalm@sun.ac.za gekontak word.


[1] Volgens die hoofgodsdiens in die lande met die hoogste kinderhuwelike.