Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Verslag oor status van biologiese indringers in Suid-Afrika ‘n wêreldeerste​​​
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 02/11/2018

Twee ekoloë van die Universiteit Stellenbosch, prof. Brian van Wilgen en prof. John Wilson, was die hoofskrywers van Suid-Afrika se eerste nasionale verslag oor die status van indringerspesies. Dié verslag is vandeesweek deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (SANBI) bekendgestel.

Die verslag, The Status of Biological Invasions and their Management in South Africa 2017, is ook die eerste verslag ter wêreld wat op so groot skaal spesifiek op biologiese indringers fokus. Volgens Suid-Afrika se omgewingswetgewing, moet SANBI elke drie jaar 'n verslag oor die status van biologiese indringers en die doeltreffendheid van beheermaatreëls en regulasies aan die Minister van Omgewingsake lewer.

Van Wilgen en Wilson, beide verbonde aan die DWT-NNS Sentrum van Uitnemendheid vir Indringerbiologie by die US, het 'n span van 37 wetenskaplikes en skrywers gelei in die ontwikkeling van 'n raamwerk en indikators om op nasionale vlak verslag te lewer.

Deur 'n basiswaarde aan elke indikator toe te ken, sal vordering en veranderings in die bestuur van indringerspesies oor die lang termyn gemeet kan word.

Volgens die 2017 statusverslag is daar tans heelwat ruimte vir verbetering. In terme van die vier hoofindikators, is daar bevind dat daar tans sewe nuwe spesies elke jaar die land binnekom.   

Daar is 2 034 uitheemse spesies met gevestigde populasies in die omgewing, met 775 daarvan wat indringers geword het, terwyl 107 erge negatiewe impakte op die omgewing gehad het. Indringers affekteer 80 000 km2 (1.4%) van die totale landoppervlakte. Maar tans bereik meganiese en chemiese beheermaatreëls minder as 3 tot 4% van hierdie area per jaar. Gegewe die feit dat indringerspesies teen 'n tempo van 5 tot 10% per jaar versprei, is dit duidelik dat nie genoeg gedoen word om die probleem aan te spreek nie.

Die mees kommerwekkende indikator is die een wat die doeltreffenheid van bestaande bestuursprogramme meet. Dit staan op slegs 5.5%, ten spyte van die feit dat daar die afgelope 20 jaar meer as R12 biljoen aan die beheer en uitwissing van indringerspesies bestee is.

Die verslag identifiseer die gebrek aan genoegsame beplanning en monitering van uitkomste as een van die grootste tekortkominge in die bestuur van biologiese indringers. Nog 'n groot uitdaging is die implementering en afdwing van bestaande regulasies. In terme van NE: BA A&S Regulasies word alle staatsorgane verplig om planne te ontwikkel vir die monitering, beheer en uitwis van indringerspesies. Dié planne moet by die Departement Omgewingsake en SANBI ingedien word, maar tans dek bestaande planne skaars 6% van die land.

Terselfdertyd bestaan daar doeltreffende regulasies om die invoer van hoë-risiko uitheemse spesies te voorkom, maar weer eens beskik die Departement Omgewingsake nie oor die kapasiteit om die inbring van moontlik gevaarlike indringers te voorkom nie. Tans word monitering net by een lughawe gedoen, terwyl die Departement van Landou, Bosbou en Visserye die meerderheid van grensposte moet beman.

Ten spyte van hierdie uitdagings, is daar wel suksesverhale op die plaaslike vlak. So byvoorbeeld is Suid-Afrika 'n wêreldleier op die gebied van navorsing oor biologiese beheer van indringerspesies. Van die 60 spesies wat moontlik deur biologiese beheer bestuur kan word, is 15 reeds onder volledige biologiese beheer, terwyl nog 19 spesies onder gedeeltelike beheer is.

Die laaste hoofstuk van die 400-bladsy verslag bevat 'n lys van sleutelboodskappe vir beleidmakers en besluitnemers, en dien as beginpunt vir die ontwikkeling van 'n beleidsresponse van die Departement Omgewingsake.

“Ideaalgesproke moet wetenskaplikes en beleidmakers saamwerk om seker te maak dat die beleidmakers se besluite op die bes-moontlike wetenskaplike inligting berus. Maar in die werklikheid is daar verskeie faktore wat doeltreffende samewerking in die wiele ry. Hierdie verslag is 'n eerste poging om daardie gaping te oorkom," sê Van Wilgen.​