Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Top leerders van top skole behoort top universiteit te kies
Outeur: Liesel Koch
Gepubliseer: 01/11/2018

"Julle kom van top skole waar julle as een van die drie top leerders van jul skool gereken word. Julle moet darem seker dan 'n top graadprogram by 'n top universiteit kies vir jul studie, of hoe?" Dit was die woorde van August Engelbrecht (verantwoordelik vir studentewerwing en -retensie, Fakulteit Ingenieurswese) tydens 'n inligtingsessie aan Graad-11 leerders wat in Wiskunde en Fisiese Wetenskappe uitblink.

Die funksie wat op 27 Oktober plaasgevind het, is deur bykans 90 leerders, vergesel van hul ouers, bygewoon. Die doel was om leerders en hul ouers in te lig oor die Fakulteit Ingenieurswese se graadprogramme en die ingenieursberoep, en om hulle aan te spoor om Universiteit van Stellenbosch te kies vir studie in 2020.

Die dekaan van die Fakulteit, prof Wikus van Niekerk, het verklaar: "Jul keuse van beroep is heelwaarskynlik een van die belangrikste besluite wat julle ooit sal maak. Ons taak is om seker te maak dat julle al die nodige inligting het om 'n weldeurdagte besluit te neem."

Hy het ook gesê: "Daar is twee belangrike dinge wat ingenieurs doen: Hulle verbeter die lewensgehalte van mense en hulle dryf die ekonomie deur stelsels in plek te sit en werksgeleenthede te skep. Daar is 'n groot tekort aan ingenieurs in die land."

Prof Van Niekerk het by die gehoor gespog oor die hoë sukseskoers van Matie ingenieurstudente: 75% van hulle behaal uiteindelik hul graad. Dit is baie hoër as die gemiddeld van 44% in Suid-Afrika. Hy het onder andere uitgebrei oor die ses BIng-programme en die profiel van 'n tipiese ingenieurstudent uitgelig. Dit sluit in dat studente kreatief moet wees, hou van Wiskunde en om probleme op te los. Hulle moet prakties aangelê wees en floreer in 'n omgewing wat gedurig verander. Dan moet hulle ook daarvan hou om in groepe met ander te werk en bereid wees om baie hard te werk. 

Dr Quentin Williams, 'n gasspreker by die geleentheid, het die gehoor inspireer met sy praatjie oor sy lewe. Hy het sy BIng (Elektries en Elektronies) aan die US behaal en het as Paul Roos Rhodesbeurshouer 'n doktorsgraad aan die Universiteit van Oxford behaal. Tans is hy bestuurder Strategiese Navorsing by die WNNR.

 Hy het 'n paar lewenslesse met die leerders gedeel:

1. Jou omstandighede bepaal nie jou sukses nie.

2. Jy maak saak, en wat jy doen, maak saak.

3. Die mense waarmee jy jou omring, is belangrik.

4. Ander mense maak ook saak.

5. Jy, tesame met ander, kan die wêreld verander.

'n Begeesterde dr Williams het afgesluit: "Julle is nie klaar as top Graad-11-presteerders nie. Julle het die vermoë om op die ou einde die wêreld te verander."

Okuhle Mayini, 'n eerstejaar Matie ingenieurstudent, het haar ervaring met die leerders gedeel. Sy het gesê: "Julle gaan elke dag uitgedaag word en jul motivering moet 100% wees. Ek geniet dit baie as student by die Fakulteit en dit het my hele wyse van dink verander. Ek gedy in die atmosfeer van probleemoplossing en verandering." 

Foto:

Gassprekers by die geleentheid vir Top Leerders was dr Quintin Williams en Okuhle Mayini.