Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Transformasie-indaba takel belangrike kwessies op kampus
Outeur: Charl Linde
Gepubliseer: 31/10/2018
​Die Universiteit Stellenbosch (US) se Transformasiekantoor het onlangs die jaarlikse institusionele Transformasie-indaba met die tema “All Voices" aangebied. Die tema is doelbewus gekies, aangesien dit twee betekenisse het: die eerste dat almal eienaarskap vir transformasie by die US moet aanvaar, en die tweede dat alle stemme gehoor en na geluister moet word wanneer transformasie ter sprake is, of, soos die Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, prof Nico Koopman, wat die dag se program geopen het, dit gestel het: “Niemand in die US-gemeenskap behoort 'monddood' gemaak te word nie."

Uit die registrasieproses alleen het dit duidelik geword dat die Transformasie-Indaba 2018 nie net nog ʼn praathuis gaan wees nie, aangesien akademici, administrasie- en steundienspersoneel en studentebywoners in gemengde patrone by tafels gesit het, wat verteenwoordiging van die hele Universiteitsgemeenskap verseker het en meervoudige sienings moontlik gemaak het. Hierdie andersoortige benadering is ook in die dag se program weerspieël, wat verskeie aanbiedings oor aktuele kwessies in transformasie in hoër onderwys, etlike temabesprekings en konferensietafel-sessies met terugvoering wat met behulp van ʼn swerwende mikrofoon gedoen is, ingesluit het. Bywoners kon ook enige idees of gedagtes oor transformasie op plaknotas of blaaibordvelle agterlaat; elke tafel het ook ʼn skriba gehad, wat die gesprekke opgeteken het.

Die 'grondwet' van transformasie by die US, die institusionele Transformasieplan, het alle debatte van die dag onderstut. Hierdie dokument skakel ook nou met die Universiteit se verslagdoening oor transformasie aan die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding, soos aan die begin van die Indaba deur die Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie, dr Leslie van Rooi, meegedeel. Die Indaba, wat georganiseer is op grond van sleuteltemas gekoppel aan die US se Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2024, het ʼn transformasievriendelike kultuur vir ʼn florerende US, nuttige en nuttelose aspekte van institusionele kultuur, die transformatiewe studente-ervaring asook ondersteuning van geestelike gesondheid en die welsyn van personeel en studente aangepak. Proff Ronelle Carolissen en Rob Pattman het ook hul nuwe boek, getiteld Transforming transformation in research and teaching at South African universities, bekendgestel. In hul aanbieding het die professors ook die US-kultuur ontleed, en vrae soos “Wat beteken party tradisies in ons Maties-gemeenskap?" en “Waar pas queer studente en swart vroue byvoorbeeld by 'skakels' in?" bespreek.

Die Indaba is deur dr Van Rooi beskryf as ʼn geleentheid wat eerlike gesprekke oor die manier waarop ons transformeer moontlik gemaak het. Dit sou egter kwalik as ʼn sukses beskou kon word as dit nie die bywoners uit hul gemaksone geneem het nie. Studente en personeel het verskeie kwessies en vrae op ʼn direkte manier geopper, waarvan talle dadelik deur teenwoordige lede van die Universiteitsbestuur beantwoord is. ʼn Swart personeellid van US Internasionaal het byvoorbeeld gevra waarom sy kantoor in 2018 steeds in ʼn gebou is wat vernoem is na eugenetika-navorser RW Wilcocks en hoe hy by ʼn moontlike herbenamingsproses ingesluit kan word. Die registrateur het die proses aan hom verduidelik en hom genooi om voorstelle by die toepaslike strukture in te dien. ʼn Gemeenskapslid van Stellenbosch het ook die Universiteitsbestuur versoek om te verseker dat die behoeftes van die armes in die Stellenbosch-distrik eerste oorweeg word in enige besluite wat deur die US geneem word. Studente het sterk uitsprake gelewer oor kwessies van geestesgesondheid op kampus en ʼn afsonderlike kampuswye indaba oor geestelike gesondheid versoek.

Hierdie jaar se Transformasie-indaba is by Monica-koshuis aangebied, nie net om transformasie na die US-gemeenskap te bring nie, maar ook as ʼn kostebesparingsmaatreël. Bywoners is aangemoedig om ʼn niebederfbare kositem na die geleentheid te bring, wat aan die #Move4Food-veldtog by die US se Alumni-kantore geskenk is. Doelbewuste kostebesparings wat met die beplanning van die geleentheid gemaak is, sal ook aan #Move4Food geskenk word wanneer die administrasie van die geleentheid afgehandel is.

*Personeel en studente kan die @sutransform-bladsye op Facebook en Twitter 'like' en volg om foto's van die geleentheid te sien.