Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ingenieurstudent se navorsing in volhoubaarheid bekroon
Outeur: Liesel Koch
Gepubliseer: 31/10/2018

George Kofi Parku, MIng-student in Chemiese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch, is gekies as een van 25 wenners in die Green Talents Science Forum, 2018. "Dit is 'n gesogte toekenning vir jong navorsers wat deur die Duitse Federale Ministerie van Onderwys (BMBF) georganiseer is. Die forum behels 'n intensiewe navorsingsbesoek van twee weke aan top-volhoubaarheidsinstellings in Duitsland en bied ook die geleentheid om kundiges in bekende Duitse instellings te ontmoet," sê mnr Parku.

Met sy navorsing beoog hy om plastiese en nie-plastiese afval in nuttige brandstowwe en chemikalieë deur middel van pirolise om te skakel ten einde meer volhoubare energievoorsiening te skep. Hy het 'n aansienlike hoeveelheid kundigheid in petrochemiese ingenieurswese opgebou deur sy ervaring in vorige navorsingsprojekte.

BMBF is die gasheer van die gesogte Green Talents – International Forum for High Potentials in Sustainable Developmentom die internasionale uitruil van innoverende groen idees te bevorder. Die toekenning, onder die beskerming van minister Anja Karliczek, vereer jaarliks jong navorsers. Die wenners kom uit talle lande en wetenskaplike dissiplines en word erken vir hul uitstaande prestasies om samelewings meer volhoubaar te maak. Die wenners word deur 'n  'n paneel Duitse deskundiges gekies en die wenners kry unieke toegang tot die land se navorsingselite.

"Die gevolge van klimaatsverandering word al hoe meer sigbaar in die wêreld –  selfs in Duitsland. Dit is iets wat vanjaar se wenners van die Green Talents-kompetisie aanspreek. Hulle lewer belangrike bydraes wêreldwyd om 'n volhoubare samelewing te skep met hul werk in velde soos waterbestuur, bio-energiegebruik en alternatiewe ekonomiese stelsels. Ek wil hulle almal bedank vir hul toewyding en hoop dat hulle baie goeie idees sal voortbring," het dr Georg Schütte, staatsekretaris van die Federale Ministerie van Onderwys en Navorsing gesê by die toekenningseremonie.

Vanjaar het die paneel​ 25 "Groen Talente" uit 21 verskillende lande gekies. 

Sien mnr Parku se profiel hier.

Sien die profiele van al 25 wenners  hier.

2018 se wenners het 'n twee-week-lange wetenskapsforum vanaf 13-27 Oktober 2018 bygewoon wat hulle gelei het tot verskillende brandpunte van volhoubaarheidswetenskap in Duitsland. Verder het die individuele afsprake hulle 'n platform gegee om hul navorsing persoonlik te bespreek en die grondslag vir toekomstige samewerking te lê.

As jy belangstel in die Green Talents-kompetisie 2019, registreer gerus hier sodat jy die kennisgewing met inligting kan ontvang wanneer die uitnodiging vir aansoeke uitgestuur word.

Foto: George Parku (regs) ontvang sy Green Talents-toekenning van dr Georg Schütte, Duitse staatsekretaris.