Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Meer swart Suid-Afrikaners skenk bloed
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 31/10/2018

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBS) het daarin geslaag om binne tien jaar die proporsie van swart skenkers vyfvoudig te laat toeneem – van 43 269 in 2005 tot 246 686 in 2015 – terwyl die veiligheid van Suid-Afrika se bloedvoorraad ook aansienlik verbeter het.

Dit is die bevindings van 'n nuwe studie, gebaseer op tien jaar se data van die SANBS, wat onlangs in die vaktydskrif Transfusion gepubliseer is, en is die resultaat van samewerking deur navorsers van die SANBS, die Afdeling Mediese Virologie by die Universiteit Stellenbosch, die DWT-NNS Sentrum van Uitnemendheid vir Epidemiologiese Modellering en Analise (SACEMA) en 'n span internasionale navorsers.

Marion Vermeulen, senior bestuur: operasionele toetsing by SANBS en hoofskrywer van die artikel, sê die bloeddiens ontvang jaarliks omtrent 800 000 skenkings, en verskaf bloed aan bykans 400 000 pasiënte: “Oor die tien-jaar periode is die HI-virus net in 0.2% van skenkings opgespoor. Oor dieselfde tydperk was daar net een bevestigde geval van HIV-transmissie via 'n bloedoortapping. Dit is 'n wesenlike verbetering in vergelyking met die een tot twee gevalle per jaar tussen 2000 en 2005."

Voor 2005 is bloedskenkings deur swart Suid-Afrikaners baie selektief gebruik en dikwels verwerp, weens die hoër voorkoms van HIV-infeksies in die swart bevolking. Destyds, om risiko tot 'n minimum te beperk, het die SANBS geen ander alternatief gehad as om ras as 'n kriterium te gebruik nie.

Op 3 Oktober 2005 het die SANBS die eerste bloeddiens in die wêreld geword om 'n nuwe hoogs sensitiewe skenkerbloedtoets landwyd te implementeer. Dit beteken alle skenkings word getoets deur middel van 'n individuele-skenking nukleïensuur-toets (ID-NAT) wat klein hoeveelhede virale nukleïensuur op 'n baie vroeë stadium kan optel, nog voordat die liggaam begin het om teenliggaampies te produseeer. Dit is veral gemik op die opsporing van die Menslike Immunogebrekvirus (MIV) en die Hepatitus B- en C-virusse

Die tien-jaar analise wys dat, sedert die implimentering van ID-NAT, daar 'n toename in die hoeveelheid en proporsie skenkings deur swart Suid-Afrikansers was. Die proporsie van swart Suid-Afrikaners wat vir die eerste keer bloed geskenk het, het van 19% in 2005 tot 54% in 2015 gestyg. Oor dieselfde tydperk was daar 'n soortgelyke styging in die proporsie swart Suid-Afrikaners wat gereeld bloed geskenk het – van 5% tot 26%.

“Die toename in swart Suid-Afrikaners wat gereelde bloed skenk, is veral verblydend," sê Vermeulen. Gedurende 2005 en 2015 was gereelde skenkers verantwoordelik vir 76.4% van alle skenkings.

Ten spyte van die toename van swart Suid-Afrikaners in die skenkerbasis van die SANBS, sê Vermeulen daar is nog baie meer skenkers nodig om in die aanvraag te voorsien: “Gedurende 2018 het minder as 1% van alle Suid-Afrikaners bloed geskenk. Die meeste van die tyd het ons minder as drie dae se bloed in voorraad gehad. Dit is belangrik dat mense gereeld bloed skenk. Maar nog meer dringend is die feit dat méér mense moet bloed skenk ten einde die beperkte skenkerbasis uit te brei."

Die artikel, “Assessment of HIV transfusion transmission risk in South Africa: a 10-year analysis following implementation of individual donation nucleic acid amplification technology testing and donor demographics eligibility changes", is op 28 September 2018 in die aanlyn-weergawe van die vaktydskrif Transfusion gepubliseer. doi:10.1111/trf.14959

Medianavrae

Marion Vermeulen

SANBS

Tel: (011) 761 9200

Sel: 082 419 0427

E-pos: Marion.Vermeulen@sanbs.org.za

 

Dr Eduard Grebe

SACEMA

Tel: 021 808-2778

E-pos: eduardgrebe@sun.ac.za