Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'Wees 'n goeie ongeluk wat wag om te gebeur'
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 30/10/2018

Sy mag Privaatreg 1 twee maal gedruip het terwyl sy haar BA Regte-graad aan die Universiteit Stellenbosch (US) probeer behaal het, maar wat sy wel weet, sê Matie alumnus en Handelsmerkprokureur, Jenny Pienaar, is dat jy ʼn droom kan bewaarheid deur net ʼn “goeie ongeluk te wees wat wag om te gebeur".

“Jy moet ʼn plan hê, want die lewe gaan jou rondstamp en dit is wanneer jy in jouself en jou doelwitte moet glo, om vorentoe te kan beweeg," sê Jenny.

Jenny, wat ʼn vennoot en medevoorsitter van die Handelsmerk-afdeling is van die gevestigde regsfirma Adams & Adams, asook waarnemende voorsitter van hul Handelsmerklitigasie-afdeling, was onlangs die genooide spreker by die vierde Loopbaankafee vir 2018.

Adams & Adams is ʼn plaaslike firma wat wêreldwyd praktiseer weens sy globale kliëntebasis. Hulle verteenwoordig 240 van die 500 “Fortune 500" maatskappye in die Verenigde State sowel as ander lande, met ʼn wye verskeidenheid kliënte van die Vinnig Bewegende Verbruikersgoedere (FMCG) tot die banksektor, plaaslike en buitelandse wyn en tabak, en farmaseutiese bedrywe.

Die Loopbaankafee-reeks is in 2016 geloods deur die Alumni-betrekkinge Kantoor om ʼn platform te bied waar alumni betrokke kan raak by die universiteit op ʼn nuwe wyse deur hul tyd en vaardighede te bied om huidige studente voor te berei vir die beroepe wat hulle verlang. Deur hierdie interaksie word huidige studente in staat gestel om te leer uit die werklike lewensondervinding van Matie-graduandi in die korporatiewe wêreld, en ook te baat by hul raad en wenke. Ander loopbaanontwikkelingsgeleenthede op kampus word ook bevorder deur hierdie geleentheid, wat studente verder aanmoedig om hul werkgereedheid te verbeter.

Jenny se spesialiseringsveld sluit in handelsmerk-litigasie, domeinnaam-registrasie, die verkryging van domeine van onwettige eienaars, litigasie verbonde aan kopiereg, valse voorstelling, onwettige kompetisie en maatskappynaam-besware. Sy het ook ondervinding van advertensiereg en regulatoriese nakoming.  

In 1986 het sy egter haar planne om die regsberoep te betree tydelik gestaak en oorgeskakel na ʼn BA-graad in Klassieke Kultuur en Politieke Filosofie aan die US.

Direk daarna het sy ingeskryf vir ʼn LLB aan die Universiteit van Kaapstad.

Toe sy die studente toespreek, het Jenny hulle vertel dat ondervinding haar geleer dat “om enigiets in die lewe tot in die fynste besonderhede te beplan is die grootste fout wat jy kan maak."

“Die lewe gebeur en jy moet gereed wees om daarby aan te pas."

Nadat sy haar graad aan UK behaal het in 1991 het sy gesukkel om ʼn regsfirma te vind waar sy haar klerkskap kon doen, hoofsaaklik omdat sy graag in Kaapstad wou bly.

“My pa het my eendag aangekyk en gesê: 'Jenny, hulle soek nie ʼn sosiale sukses nie, hulle soek iemand wat hard vir hulle sal werk'" en dit, sê Jenny, het haar laat besef dat sy bereid moes wees om haar vlerke te sprei.

ʼn Paar maande later het sy begin werk by ʼn klein regsfirma in Rosebank in Johannesburg, waar sy haar klerkskap binne twee jaar voltooi het.

“Ek het die aakligste hoof gehad waarvoor jy kon vra, maar hy het my baie geleer. Hy het my geleer hoe om níé te lei en níé mense te bestuur nie. Vandag fokus ek daarop om my span met respek te behandel, soos die  professionele mense wat hulle is."

In 1993 is Jenny getroud en ʼn jaar later het sy haar klerkskap oorgeplaas na ʼn firma in Pretoria waar sy tot April 1995 gewerk het. Twee maande later is haar man, Johann, verplaas na Frankryk en Jenny het die regsberoep vir twee jaar vaarwel gesê en oorsee gaan woon. Aangesien sy nie met ʼn besoekersvisum kon werk nie, het sy Frans leer praat, “my kookvermoëns opgeknap" en probeer om “net die ondervinding in te drink".

Sy het wel ʼn nuwe vaardigheid aangeleer, sê sy: sy het ingeskryf vir ʼn kursus in die skryf van kortverhale aan die London School of Journalism.

Toe hulle in 1997 na Suid-Afrika teruggekeer het, het sy swanger geword. Haar seun, Alex, is in Januarie 1998 gebore. Toe haar kraamverlof verby was, het sy by ʼn ander regsfirma aangesluit en by hulle gewerk tot die einde van 2000.

Ek het ʼn punt bereik waar ek net nie meer wou praktiseer nie," sê Jenny. “Ek het die werk gehaat, ek het algemene litigasie gehaat."

Sy het ʼn lektorspos aanvaar by ʼn opleidingskool vir prokureursklerke en dit op ʼn deeltydse basis gedoen vir omtrent vier maande, totdat sy daarin geslaag het om 'n pos by Adams & Adams te verkry as Assosiaat. Sy werk die afgelope 17 jaar by dié firma.

​“Ek is mal oor my werk hier. Toe ek hier begin het op ouderdom 33 het ek heel onder begin nadat ek by my vorige firma vennoot was. Ek is opgelei deur prokureurs wat baie jonger as ek was, sommiges in hul twintigs, maar jy moet gewillig wees om al die kurwes op jou beroepspad te verken. Op die ou end was dit die moeite werd.

“Vyf jaar later het ek vennoot geword by Adams & Adams, en in 2016, 2017 is ek bevorder tot medevoorsitter van die Handelsmerklitigasie-afdeling, al het my lektor by Maties gesê ek sou nooit ʼn prokureur word nie," sê sy en lag.

“Adams & Adams het my al daardie jare gelede aangetrek weens die feit dat ek in ʼn heeltemal verskillende veld kon praktiseer. Hulle het my die geleentheid gebied om in ʼn meer gespesialiseerde veld te praktiseer en in iets waarin ek werklik geïnteresseerd was. Dis wonderlik en ek is mal oor wat ek doen. Ja, ek is steeds betrokke by litigasie, maar die kliënte is baie anders. Die reg wat ons toepas mag dieselfde wees, maar elke kliënt het ʼn ander dinamiek en ʼn ander handelsgebied. Plus, ons praktiseer wêreldwyd, wat elke dag interessant en uitdagend maak."

Buite die kantoor is Jenny ook hard aan die werk. Sy dra by tot ʼn aantal internasionale publikasies soos World Trademark Review: Pharmaceutical Trademarks 2014/2015; en die boek van die Global Advertising Lawyers Alliance getitel Advertising Law: A Global Legal Perspective (2015); die Life Sciences Multi-Jurisdictional Guide (2014 en 2015, 2016 – 2018) en die Life Sciences Global Guide (2018 -2019), asook die Global Advertising Lawyers Alliance se boek Social Media in Advertising: A Global Perspective (2018).

Wanneer jy vra of haar studentejare by Maties gehelp het om haar voor te berei vir die wêreld van werk sê sy: “Ek dink een van die grootste uitdagings in ʼn mens se studentejare is om te probeer verstaan wat die relevansie is van al die dinge wat jy moet bestudeer. Jy sukkel om te verstaan hoe al hierdie vakke in die praktyk toegepas word. Party vakke is doodvervelig, maar jy moet hulle doen, en jy moet verseker dat jy ewe veel aandag aan al jou vakke gee."

Toe sy haar graad behaal, sê Jenny, het sy geweet dat sy akademies voorberei was vir die werkplek, maar dat sy “onvoorbereid was vir die regte wêreld".

“Dit is nie omdat daar enigiets met jou opleiding skort nie, maar eerder omdat jy ʼn klomp kennis het, maar jy nie baie weet nie. Jy weet ook nie hoe om die kennis toe te pas nie. Universiteit leer jou waar om inligting te vind en werk leer jou hoe om dit toe pas. Om te leer om in ʼn kantooromgewing te werk kan uitdagend wees want ʼn tekort aan Emosionele Intelligensie (EQ) en sagte vaardighede maak dit moeilik om te aanvaar dat, wanneer jy aan die onderpunt van die voedselketting is, jy al die “vuil" werk moet doen.

“Dit is baie belangrik om sagte vaardighede te hê. As ʼn prokureur en ʼn professionele persoon gaan jy werk in ʼn omgewing waar mense opkyk na jou en leiding soek, so moenie simpel wees as jy daardie punt bereik nie. Wees respekvol teenoor die mense in jou span en weet wie hulle is. Leer om deel van die span te wees en jou spanlede te help. Moenie mense onder die bus gooi nie; wees liewer ondersteunende waar jy ook al kan."

Sy het die studente ook aangeraai om lewenslange leerders te bly. “Ek het vanjaar 50 geword en daar gaan nie ʼn dag verby wat ek nie na iets kyk en dink 'Ek het dit nie geweet nie'. Jy moet die hele tyd bereid wees om te leer en te aanvaar dat jy somtyds jou naam gaan krater maak."

​Studente was veral geïnteresseerd in hoe Jenny ʼn loopbaan gebou het in wat steeds beskou word as ʼn sektor wat deur mans gedomineer word.

“Die regsberoep word wel deur man gedomineer, maar dit verander baie vinnig," sê sy en voeg by dat vroue, en veral jonger prokureurs, hul eie bestuur- en leierskapstyl na die sektor bring.

“Jy benodig ook ʼn goeie ondersteuningstelsel in die kantoor en tuis as jy sukses wil behaal in jou loopbaan. Dit is moeilik om dit alleen te doen."

Sy het egter bygevoeg dat vroue steeds sukkel om dit alles te balanseer, met baie vroulike prokureurs wat verplig word om tyd af te neem of deeltydse werk te aanvaar wat meer aanpasbaar is, om kinders te kan groot maak.

“Een van die grootste uitdagings wat ek persoonlik in die gesig staar, is om werk-lewe balans te vind. Ek het ʼn baas gehad wat aan my gesê het: 'Hoe ouer jy word in die regte, hoe meer gaan jy werk'. En ja, dit is waar, maar ek het geleer dat om balans te vind jy moet verseker dat jy ʼn stewige span agter jou het wat jy goed genoeg opgelei het om jou te ondersteun sodat jy daardie werk-lewe balans kan vind. My beste ondersteuning kom van my span vroueprokureurs wat ek weet baie slimmer en vaardiger is as ek. Ek leer daagliks by hulle."

  • ​Foto: Matie-alumnus en Handelsmerkprokureur me Jenny Pienaar (tweede van links) was die genooide spreker by die vierde Loopbaankafee vir 2018. Hier is sy na die geleentheid met (van links) mnr Marvin Koopman, Alumni-betrekkinge Koördineerder in die Alumni-betrekkinge Kantoor, en die drie studente wat die geleentheid losgeslaan het om Jenny van aangesig tot aangesig te ontmoet tydens ʼn ete Woensdagaand. Die studente is me Dina Tlali, mnr Fortune Ngwenyama, en me Jenna Wilson. (Henk Oets)