Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Fakulteit Lettere vier 100 jaar met kragtige bespreking
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 18/10/2018

​Die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, wat sy eeufees vanjaar saam met die Universiteit Stellenbosch (US) vier, bied op 23 Oktober ʼn aand van kragtige bespreking wat personeel, studente en alumni betrek. Die Lettere en Sosiale Wetenskappe Eeufees-gesprekke is deel van die fakulteit se eeufeesaktiwiteite om die impak wat dit gemaak het en steeds maak op die hedendaagse Suid-Afrika te vier.

Die geleentheid begin om 17:30 by die ingang van die gebou van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe waar gaste onthaal sal word op versnaperings en musiek deur studente van die Departement Musiek. Daarna sal gaste beweeg na Kamer 230 en aangrensende lesingsale waar die paneelbesprekings sal plaasvind.

Gaste kan kies uit een van die drie parallelle paneelbesprekings wat fokus op:

  • Gedaantes van Rassewetenskap: Van Rehoboth in Koloniale Namibië tot Berlyn, Stellenbosch en verder
  • Kuns as Protes en Sosiale Verandering
  • Kunsmatige Intelligensie (AI) en die toekoms van werkgeleenthede, etiek en oorname deur masjiene

Sprekers vir die paneel Gedaantes van Rassewetenskap sluit in me Vanessa Mpatlanyane, me Nomzamo Ntombela, prof Steven Robins van die Departement Sosiologie en Sosiologiese Antropologie, Matie-alumnus dr Handri Walters en dr Rudi Buys, die Dekaan van Geesteswetenskappe by die Cornerstone Instituut.

Walters, wat ʼn PhD in die Departement Sosiologie en Sosiale Antropologie voltooi het, was verantwoordelik vir die ontdekking van ʼn menslike skedel en instrumente om menslike hare en oog-tipes te meet in ʼn kas waarop die naam Eugen Fischer verskyn het in die US Museum in Februarie 2013. Robins is die skrywer van Letters of Stone, from Nazi Germany to South Africa, ʼn diep persoonlike en pynlike besinning oor die ware gruwel en omvang van die Nazi's se rassebeleid teenoor Jode. Sy boek het die kortlys vir die Sunday Times Alan Paton Toekenning vir Nie-fiksie gehaal in 2017. Lees die volle storie hier.

Vir die afgelope paar jaar het Buys nou saamgewerk met instellings oor transformasie. In 2008 is hy deur die Universiteit van die Vrystaat (UV) ingeroep as rekonsiliasiekonsultant ná die sogenaamde Reitz-insident aan dié instelling. Vier jong wit mans was by die Reitz-insident betrokke waar hulle swart werkers verfilm het wat deelgeneem het aan wat hulle beskryf het as keuringstoetse vir koshuisplasing. Dit het behels dat die werkers kos geëet het waarin die studente glo geürineer het, onder andere. Buys is later aangestel as Studentedekaan aan UV en het ʼn boek geskryf, Brugbouers – Die Reitz-video en die pad na versoening. Lees ʼn resensie van sy boek hier.

Mpatlanyane is tans ʼn gasdosent en onderrigassistent in die Departement Sosiologie en Sosiale Antropologie aan die US. Sy het ʼn Meesterstesis, getitel New Activism after Apartheid: The Case of Open Stellenbosch, voltooi wat die aandag vestig op die Stellenbosch-gebaseerde studentebeweging Open Stellenbosch oor ʼn tweejaar-periode, sowel as die 2015-2016 studenteprotes in die algemeen.

Ntombela is 'n finalejaar-student wat ʼn BA-graad in Sosiale Wetenskappe, met Antropologie en Sosiologie as hoofvakke, voltooi. Sy was betrokke by studente-aktivisme en leierskap deur verskeie student-geleide bewegings en strukture sedert haar vroeë dae aan die US. Sy is ʼn voormalige uitvoerende lid van die BA Studentekomitee (BASC) en die voormalige President van die Studenteraad (SR) aan die US. Sy is onlangs genooi na die Michigan State University om die noodsaaklike rolle, uitdagings en toekoms van studente-aktivisme in hoër opvoedkundige instellings te bespreek en hoe hierdie vorms van aktivisme nodig is om die waarhede agter die demokratiese projek in Suid-Afrika te ontrafel.

Die paneellede se onderwerp spreek die vestiging van eugenetika as globale wetenskap in die 20ste eeu aan, sy wortels in Duits Suidwes-Afrika en die uiteindelike impak op die US in later jare sowel as transformasie by ander instellings.

“Suidelike Afrika was nie afgesonder van die ontwikkeling of toepassing van eugenetika as wetenskap nie. Duitse eugenetika het sy wortels in Duits Suidwes-Afrika gehad, vanwaar dit versprei het tot vele dele van die wêreld, insluitend Universiteit Stellenbosch. Hierdie paneel verken eugenetika as ʼn 'reisende wetenskap' maar besin ook oor breër vraagstukke rakende die erfenis van die vorms van kennis en institusionele kultuur wat by die universiteit geproduseer is. Dit poog om te fokus op die belang van besinnende terugskouing tydens die eeufeesvierings op Stellenbosch. Sulke besinning oor institusionele geskiedenis stel vrae wat ons help vorentoe beweeg in ons toewyding tot hedendaagse transformasie," skryf die paneellede.

Nog 'n paneellede sal fokus op Kuns as Protes en Maatskaplike Verandering. Sprekers sluit in dr Leslie van Rooi, die Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie; me Greer Valley, Visuele Kunste alumnus, voormalige Open Stellenbosch-lid, kurator van Open Forum en 'n PhD-kandidaat in die Skool vir Beeldende Kunste aan die Universiteit Kaapstad; en me Stephané Conradie, ʼn lektor in die Departement Visuele Kunste aan die US wat ook ʼn lid van Open Stellenbosch was en ʼn organiseerder van kunstenaarintervensies wat plaasgevind het in 2015. Van Rooi neem verantwoordelikheid, onder andere, vir die koördinering van visuele regstelling aan die US. In sy portefeulje is hy ook verantwoordelik vir die US Woordfees en die US Museum.

“In 2015 het die Rhodes Must Fall beweging aangevoer dat oproepe vir die verwydering van die standbeeld van Cecil John Rhodes simbolies was van die behoefte aan, onder ander doelwitte, die dekolonisering van die universiteit-kurrikulum, die aanspreek van stadige verandering in die samestelling van die personeel en studente in terme van ras, geslag en klas, en om die universiteit se institusionele kultuur van uitsluiting aan te spreek," verduidelik Conradie en Valley.

Hulle voeg by dat ʼn maand na “die wêreldwye publisering van die verwydering van Rhodes se standbeeld van sy staanplek, studente aan die Universiteit Stellenbosch gereageer het met oproepe vir transformasie en regstelling deur die studente-aktivisgroep Open Stellenbosch te stig".

“Hoewel die klem op visuele regstelling nie aan die bopunt van die groep se agenda was nie, het druk van die studente gelei tot die seremoniële verwydering van ʼn brons gedenkplaat gewy aan die voormalige Apartheid Nasionale Party eerste minister en Visekanselier van die universiteit, HF Verwoerd, uit die Rekeningkunde en Statistiek gebou in Mei 2015."

Van Mei 2015 tot vroeg 2016 het Open Stellenbosch geprotesteer teen die afwesigheid van institusionele transformasie aan die US ná 1994 en gefokus op, onder andere, die diskriminerende wyses waarop die amptelike taalbeleid van die universiteit van die tyd (2014) geïmplementeer was.

“In Open Stellenbosch en tydens die #Feesmustfall-studenteprotes is kuns gebruik as ʼn manier om die bedenkinge van studente oor die universiteit as instelling te kenne te gee. Kuns is ook gebruik nie net om die persepsie van die publiek en die instelling oor die studenteprotes uit te daag nie, maar dit het ook die voertuig geword waardeur studente kon sê wat dikwels te moeilik was om in woorde uit te druk. Kuns dien dan as voertuig nie van uitdrukking nie, maar van weerstand, opvoeding en begrip van moeilike kwessies in oomblikke van krisis," verduidelik die twee US-alumni.

“Kuns, veral publieke kuns, is histories gebruik as plek waar burgerlike idees voorgestel word en ook as omgewing waar mense kan vergader om in gesprek te tree en krities te besin. Hierdie soort kunskennis kan verbind word met bevrydende kennisproduksie in lyn met die Freireaanse pedagogie vir die bevryding van die onderdruktes."

“Kuns in hierdie geval moet bevry wees van hierdie institusionele ideologiese raamwerk en meer fokus op die aktiewe rol wat dit in die samelewing kan speel. Dit beteken om weg te beweeg van die tradisionele idee van kuns in isolasie tot ʼn meer kommunikatiewe dissipline wat betrokke raak by die gemeenskappe waarin dit plaasvind."

Sprekers wat deelneem aan die derde paneel wat fokus op Kunsmatige Intelligensie (AI) en die toekoms van werk, etiek, en oorname deur masjiene sluit in prof Bruce Watson, Voorsitter van die Departement Inligtingswetenskap in die fakulteit; mnr Marc Tison, 'n Matie-alumnus en Hoofuitvoerende Beampte van Zing Holdings; en dr Martin Berglund, 'n na-doktorale kandidaat aan die US van die Umeå Universiteit in Swede. 

“Vooruitgang in rekenkundige hoëtegnologie beteken dat ons rofweg elke 18 maande twee keer meer rekenkrag het — ʼn tendens wat nou al vir vyf dekades voortduur en aan ons die internet, alledaagse rekenaars, robotika, selfgedrewe motors en kunsmatige intelligensie (AI) besorg het. Werk aan AI het byna 60 jaar gelede begin, en na vele probeerslae oor die eerste vyf dekades — oomblikke waarop ons “op die rand" van intelligente stelsels was — gebeur dit hierdie keer werklik. AI hou dit geweldige geleenthede vir ons in om die wêreld se probleme op te los, het dit tegelykertyd die potensiaal om werkloosheid, maatskaplike ongemak (op die minste) en ʼn wye reeks etiese probleme te veroorsaak. Hierdie paneel sal besin oor hierdie kwessies en hulle uit ʼn verskeidenheid oogpunte bespreek," sê Watson. 

Watson is die mede-direkteur van die Sentrum vir Navorsing oor Kunsmatige Intelligensie, en mede-stigter en mede-direkteur van die verspreide FASTAR Navorsingsgroep. Hy is ʼn besoekende professor aan die Departement Rekenaarwetenskap aan King's College Londen. Met meer as ʼn dosyn navorsers voer sy navorsingsgroepe fundamentele navorsing uit in nuwe algoritmes en tegnologieë. Hy was gelukkig om by ʼn wye verskeidenheid hoëtegnologie-maatskappye (van Microsoft tot Cisco tot ASML) te werk en bring toegepaste navorsing na die wêreld op gebiede soos AI, algoritmes en hul korrektheid, kubersekuriteit en oorlogvoering, en die ontwerp en optimalisering van silikon-skyfies.

Hy hou twee PhD's, een in rekenaarwetenskap en ingenieurswese van die Eindhoven Universiteit van Tegnologie in Nederland, en nog een in rekenaarwetenskap van die Universiteit van Pretoria.

Indien jy belang stel om die geleentheid by te woon, bespreek asseblief ʼn plek by me Lynne Rippenaar-Moses by lynnr@sun.ac.za of mnr Marvin Koopman by marvin@sun.ac.za teen 22 Oktober. Sitplekke is beperk.