Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Visekanseliers van voorste VSA, VK-universiteite onder ontvangers van US eregrade
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie (Martin Viljoen)
Gepubliseer: 17/10/2018

​Huidige en voormalige visekanseliers van drie vooraanstaande universiteite in die VK en die VSA is onder die nuutste groep ontvangers van eregrade van die Universiteit Stellenbosch (US). Die wêreld se voorste postkoloniale literêre teoretikus, die president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB), ʼn wêreldbekend wiskundige wetenskaplike en een van Suid-Afrika se voorste wynmakers word ook met eregrade vereer.   

Die ontvangers is:

  • prof Homi K Bhabha, ʼn literêre teoretikus verbonde aan Harvard in die VSA;
  • prof dame Glynis Marie Breakwell, voormalige visekanselier van die Universiteit van Bath wie se bydrae tot die sosiale sielkunde van wêreldbelang is;
  • mnr Jan Boland Coetzee, een van Suid-Afrika se voorste wynmakers, leier in die tegnologiese, maatskaplike en bestuursontwikkeling van die Suid-Afrikaanse wynbedryf én oud-Springbokrugbyspeler;
  • dr Shirely Ann Jackson, President van die Rensselaer Polytechnic Institute in die VSA, ʼn lid van president Barack Obama se Adviseursraad oor Wetenskap en Tegnologie en eerste Afro-Amerikaanse vrou wat ʼn doktoraat in fisika in die VSA verwerf;
  • mnr Lesetja Kganyago, President van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) én voorsitter van die Internasionale Monetêre en Finansiële Komitee (IMFK);
  • prof John Latham, Visekanselier van Coventry Universiteit en merkwaardige onderwysleier;
  • prof Lloyd N. Trefethen, ʼn wêreldbekende wiskundige wetenskaplike verbonde aan Oxford wat ʼn nuwe generasie wiskundige wetenskaplikes op die Afrika-vasteland help kweek;
  • regter Zak Yacoob, ʼn uitmuntende regsgeleerde op die gebied van menseregte en staatsreg​​ 

Breakwell, Bhabha, Kganyago en Yacoob sal die grade by die Desember 2018-Gradeplegtigheid ontvang terwyl Coetzee, Jackson, Latham en Trefethen dit by die Maart 2019-plegtigheid sal ontvang.

“Ons vereer graag die ontvangers vir toonaangewende bydraes tot die mensdom. Hulle vergestalt die US se missie om gemeenskappe – in ons land, elders op ons vasteland en wêreldwyd – te verryk en te transformeer. Hulle is vir ons ʼn inspirasie," sê prof Wim de Villiers, US-Rektor en Visekanselier.

Die US verleen jaarliks eredoktorsgrade om erkenning te gee aan uitnemendheid op ʼn verskeidenheid vakterreine en om sulke individue as rolmodelle vir die universiteitsgemeenskap te identifiseer.

Die US se Desember gradeplegtigheid is van 10 tot 14 Desember terwyl die Maart 2019 Gradeplegtigheid van  1- 5 April gehou word.