Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties Sport vier uitnemendheid by toekenningsgeleentheid
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 16/10/2018

Hokkiespeler Ammaarah Hendricks en rugbyspeler Duncan Saal by die jaarlikse Maties Sport-toekenningsaand as Maties Sport se Sportvrou en Sportman van die Jaar vir 2018 aangewys.         

Ammaarah kon nie die geleentheid bywoon nie aangesien sy op pad terug was van die Jeug Olimpiese Spele in Argentinië waar sy Suid-Afrika verteenwoordig het. Sy was vroeër vanjaar die kaptein van die SA o.18-hokkiespan wat geskiedenis gemaak het deur Australië die eerste keer in 'n reeks te klop en sy was ook 'n lid van die span wat goud by die Afrika Jeugspele gewen het.

Duncan was 'n sleutelspeler in die Maties-rugbyspan wat die Varsitybeker-kompetisie gewen het en is as Agterspeler van die Toernooi gekies. Hy was 'n lid van die SA Studente Sewespan wat goud by die Wêreld Studente-seweskampioenskap verower het en is by die WP Curriebeker-groep ingesluit.     

“Ek voel baie geseënd en dankbaar," het hy gesê nadat hy die toekenning ontvang het.

Die swemmer Christian Sadie, wat vroeër vanjaar by die Statebondspele in Australië 'n silwermedalje in S7 50 m-vryslagitem gewen het, is die Parasport Sportman van die Jaar.            

Karin le Roux, wat Parasport-atlete soos Zanele Situ en Kerwin Noemdo afrig, is as die Afrigter van die Jaar vir individuele sport aangewys.           

Maties Rugby se eerste span – wenners van die 2018 Varsitybeker-, USSA- en WP Super Liga A-kompetisie – is die Span van die Jaar, terwyl die span se afrigter, Hawies Fourie, 2018 se Afrigter van die Jaar vir spansport is. Maties Rugby is ook aangewys as die Klub van die Jaar.        

Altesaam 52 studente het volle kleure ontvang – wat beteken hulle het Suid-Afrika op internasionale vlak verteenwoordig – terwyl halfkleure aan 105 studente toegeken is.      

“Vanaand is ons hier om nog 'n suksesvolle jaar te vier," het Ilhaam Groenewald, Hoofdirekteur: Maties Sport, gesê.    

“Maar dit is belangrik om te vra: wat beteken sukses? Sukses beteken vir my as die leier van Maties Sport om 'n omgewing te skep waarbinne ons studente-atlete as leiers kan ontwikkel wat 'n positiewe invloed op ander mense sal hê. Die belangrikste taak van enige sportleier of -administrateur in die hoëronderwysomgewing is om te verseker dat ons studente-atlete gradueer. My droom vir julle is dat julle sukses in alle sfere van jul lewe sal geniet."

Prof. Stan du Plessis, bedryfshoof van die Universiteit Stellenbosch (US), het al die studente-atlete geprys.

“Maties Sport en Universiteit Stellenbosch wil studente-atlete huldig wie se harde werk en toewyding na sukses op die sportveld en in die klaskamer gelei het. Hulle verlaat Stellenbosch as afgeronde studente, met die graduandi-eienskappe wat ons graag by alle Maties wil inskerp."   

Gasspreker Kass Naidoo, Suid-Afrika se eerste vroue-krieketkommentator en stigter van die gsport-toekennings – die langslopende sporterkenningplatform vir vroue in die land – het gesê sy glo opreg daaraan dat uitmuntendheid erkenning moet kry.    

Haar raad aan studente-atlete was: “As dit nog nooit voorheen gedoen is nie, gaan daarvoor met alles wat jy het. Leef in die oomblik en gryp elke geleentheid aan."

Fotokrediet: Anton Jordaan​