Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ongemak die aansporing tot sukses
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 11/10/2018

In 2008, nadat hy matriek geslaag en ses maande lank in 'n hotel in Engeland gewerk het, het Matie-alumnus en komende Loopbaankafee-spreker Philip Parrock een ding besef – hy was nie gereed om voort te ploeter in 'n werk wat hom nie bevredig nie.

Nadat hy meer as 13 000 kilometer gereis het van Suid-Afrika na Engeland om die wêreld te sien, het sy ongemak met waar hy hom bevind het, hom genoop om ses maande later na Kaapstad terug te keer. Terug in die Kaap het hy 'n voltydse pos as versorgingsassistent aanvaar by 'n plaaslike aftreeoord.

“Ek het baie tyd deurgebring op Stellenbosch oor naweke, want 'n paar van my vriende van Pretoria het hier studeer. Dit is in daardie tyd dat ek daaraan begin dink het om aan die Universiteit Stellenbosch (US) te studeer.

“Ek het eintlik baie laat aansoek gedoen, op 28 Augustus, met net twee dae oor voordat aansoeke vir graadprogramme op 30 Augustus gesluit het," voeg hy by, en lag.

Philip het ingeskryf vir 'n BA in Internasionale Studies in 2010 en by voltooiing van daardie graad het hy ook 'n honneurs- en meestersgraad in Politieke Wetenskap aan die universiteit behaal.

“Teen Februarie 2015 het ek gewerk aan die laaste konsep van my Meesters en het reggemaak om vir permanente werk te begin soek. Ek het 60 CV's uitgestuur na 'n klomp maatskappye in Suid-Afrika, maar van geen een reaksie gekry nie. Dit is op daardie punt dat 'n mens besef jy het nie die ondervinding om mee te ding met ander aansoekers nie en dat jy op die een of ander manier dit moet bekom."

Toe hy 'n seisoenale werk-advertensie by Amazon Web Services raaksien, die grootste wolkrekenaardiens ter wêreld (met 65% markaandeel) wat deur Amazon besit word, het hy sy CV ingedien, onseker waarheen dit sou lei.

“Ek het in risiko-analise gespesialiseer tydens my studies, en sonder dat ek daaroor navraag gedoen het, het Amazon Web Servies vir my 'n permanente pos aangebied as Tegniese Kliëntediens-assosiaat. Ek het 'n paar dae nadat ek my Meesters-tesis ingedien het, begin werk in hul wêreldwye kliëntediensafdeling deur nuwe personeel wat deur die maatskappy gewerf is, op te lei."

Vandag werk Philip vir Amazon Web Services as 'n Tegniese Span-leier. Op 18 Oktober sal hy tydens die Alumni-betrekkinge Loopbaankafee meer inligting met studente deel oor die sagte vaardighede wat hy geleer het as universiteitstudent, werknemer en student van die lewe. Die TedTalk-styl geleentheid vind plaas tussen 13:00 en 14:00 in Kamer 230 op die tweede verdieping van die gebou van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe op die hoek van Merriman- en Ryneveldstraat en is oop vir alle studente.

Die Loopbaankafee-reeks is in 2016 geloods deur die Alumni-betrekkinge Kantoor om 'n platform te skep vir alumni om met die universiteit te skakel op 'n innoverende wyse deur hul tyd en vaardighede aan te bied om huidige studente voor te berei op die loopbane wat hulle wil hê. Deur hierdie interaksie is huidige studente in staat om te leer uit die werklike ervarings van Matie-graduandi in die korporatiewe wêreld en ook te baat by hul advies en wenke. Ander loopbaan-ontwikkelingsgeleenthede op kampus word ook deur hierdie geleentheid bevorder, om studente aan te moedig om hul werkgereedheid verder te verbeter.

Indien jy hierdie gratis praatjie wil bywoon, kan jy hier​ reageer op die uitnodiging na die Loopbaankafee.

  • Vir meer inligting oor die Loopbaankafee, volg die Alumni-betrekkinge Facebook-blad by www.facebook.com/stellenboschalumni en die US Facebook-blad by www.facebook.com/stellenboschuniversity
  • Twee studente kan elkeen 'n sitplek losslaan aan die eettafel van Philip op die aand van die Loopbaankafee deur in te skryf vir die Loopbaankafee se Facebook-kompetisie wat geadverteer sal word op die Stellenbosch Alumni-blad. 
  • Foto: Philip Parrock