Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe SR-voorsitter wil hê almal moet lei en dien in hul gemeenskappe
Outeur: Asiphe Nombewu/ Corporate Communication
Gepubliseer: 09/10/2018

​Die nuutverkose voorsitter van die Universiteit Stellenbosch (US) se Studenteraad (SR), me Carli van Wyk, sê almal het die plig om in die gemeenskappe te lei en te dien, maak nie saak of dit posisioneel of nieposisioneel is nie.

Die derdejaar-LLB-student van Rawsonville is die jongste van drie kinders. Carli beskryf haarself as 'n passievolle leier wat daarin glo om ander te dien en saam te werk om verandering teweeg te bring.

“Ek voel geëerd om in die posisie as SR-voorsitter te dien, maar ek sien nie die posisie as my reg om 'n leier te wees nie. Ek glo dat Suid-Afrika en Stellenbosch op 'n baie interessante tyd in ons geskiedenis is: 'n keerpunt, nie net vir die kampus nie, maar ook vir die SR."

Carli sê daar is 'n aantal probleme en uitdagings by die instelling, maar daar bestaan ook 'n geleentheid. “Ek droom van 'n Stellenbosch wat die hele Suid-Afrika verteenwoordig, 'n kampus wat nie bekend is om sy kontroversiële en problematiese geskiedenis nie, maar eerder om 'n nalatenskap wat gekenmerk word deur moed, visie en deursettingsvermoë."

Sy voeg by dat sy in 'n verenigde VR glo wat studente streng en sonder kompromieë dien, ongeag of dit op die Tygerberg-, die Militêre of die Stellenboschkampus is.

“As voorsitter gaan ek nie loop nie, maar hardloop met die visie van ons span en die Universiteit. Ek gaan stewig staan om ons span te verenig deur te fokus op hoe ons diversiteit vir ons, en nie teen ons nie, kan laat werk. As leier glo ek in die waarde van verhoudings en daarom verwelkom ek medewerking met studente en strukture soos die ABR, die Verenigingsraad en die Primkomitee. Ek gaan in meer platforms belê sodat die stemme van al ons studente wyer gehoor kan word, want ons is uiteindelik deel van iets groter as onsself."

Carli sê al die belanghebbendes van die instelling is bewaarders van die toekomstige Stellenbosch en, belangriker nog, die land.

Carli sê verder dat jongmense in 2018 uitdagings trotseer soos sosiale uitsluiting, voedselsekerheid en die stigmatisering van geestesongesteldhede. “Ons erken dat hierdie uitdagings kompleks is, sommige van hulle is diep ingebed en moeilik om te oorkom. As 'n verenigde VR vestig ons 'n mandaat om 'n samewerkende, inklusiewe en responsiewe kultuur aan die Universiteit Stellenbosch te verseker.

“Ons voorsien 'n progressiewe en bloeiende gemeenskap met studentesukses as sy kern. Om ons visie te bereik, erken ons ons verlede en neem ons verantwoordelikheid vir ons toekoms deur ons waardes van integriteit, nederigheid en empatie te handhaaf."

Carli lei die studente saam met haar sekundi, Alex van Greuning, Melt Hugo, Lauren Stevenson, Lethiwe Mbatha, Leighton September, Marine Botham, Tariq Khan en Mthunzi Matshabane.