Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Inligtingsoorsigbestuur (IOB) bied weer suksesvolle HEMIS-instituut aan
Outeur: Leon Eygelaar
Gepubliseer: 19/09/2018

Die Afdeling Inligtingsoorsigbestuur (IOB) aan die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs (14-16 Augustus 2018) weereens ʼn suksesvolle jaarlikse HEMIS (Higher Education Management Information System)-instituut by die Lord Charles Hotel in Somerset-Wes aangebied.

Personeellede van die IOB kon regstreeks deelneem aan die uitbou van institusionele navorsing in Suider-Afrikaanse hoëronderwysinstellings. Bewens IOB-personeel, was verteenwoordigers van die US se Registrateursafdeling, Informasie Tegnologie, Akademiese Beplanning en Gehalteversekering, en Menslike Hulpbronne by vanjaar se geleentheid.

Dit is deur mnr Leon Eygelaar en me René Robbertze, onderskeidelik Direkteur: Institusionele Inligting, en Institusionele Navorsing- en Beplanningsbeampte aan die US, gekoördineer, en deur ʼn rekordgetal van 137 verteenwoordigers van die land se 26 hoëronderwysinstellings bygewoon.

Prof Ian Cloete, Senior Direkteur van die IOB, het die verrigtinge geopen. Die ander gassprekers was Me Jean Skene, HEMIS-direkteur (Departement Hoër Onderwys en Opleiding), Prof Lis Lange (Adunk Vise-kanselier: Onderrig en Leer, Universiteit van Kaapstad); Me Hannelie van Rensburg (Direkteur: Akademiese Beplanning, Monitering en Evaluering, Departement Hoër Onderwys en Opleiding); Prof Monie Naidoo (Direkteur: Program-akkreditasie, Raad vir Hoër Onderwys); Mnr Jerall Toi (Senior Institusionele Inligtingsbeampte, US), en Dr Cornelie Crous (Navorser en Senior Lektor, Universiteit van die Vrystaat).

“Om ʼn uitnemende universiteit aan die voorpunt van nuwe ontwikkeling te wees, verg meer as blote investering in onderrig, navorsing en gemeenskapsinteraksie. Dit behels ook daadwerklike institusionele navorsing (IN) om die verskeidenheid beleidstukke wat hoër-onderwysinstansies reguleer, doeltreffend toe te pas," het Cloete in sy openingsrede gesê.

Institusionele navorsing verwys ʼn reeks aktiwiteite wat onder andere besluitneming, beleidmaking, beleidsontleding, gehalteversekering, doeltreffende bestuur, projeksies, modellering en beplanning in hoër onderwys ondersteun.

In aansluiting by Cloete, het Eygelaar gesê, “Suid-Afrikaanse, en inderdaad Suider-Afrikaanse, instellings het ʼn al hoe dringender behoefte aan institusionele navorsing rakende hoër onderwys aangeleenthede en die HEMIS-inligting, wat op institusionele en nasionale grein by die Departement Hoër Onderwys en Opleiding beskikbaar is, is seker een van die belangrikste bronne vir IN".

Die jaarlikse HEMIS-instituut skep ʼn platform om HEMIS-aangeleenthede wat met studente, personeel en fisiese fasiliteite verband hou, te bespreek, sowel as om bestaande hoëronderwys-netwerke te versterk en nuwes te vestig. Die geleentheid is een van die hoogtepunte op die jaarkalender van die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Institusionele Navorsing (SAAIR), een van bykans vyftig ander internasionale institusionele navorsingsverenigings wat by die Amerikaanse Association for Institutional Research (AIR) geaffilieer is.

MEER OOR HEMIS

HEMIS is die hoëronderwys se bestuurs- en inligtingstelsel vir staatsgesubsidieërde tersiêre instellings en bevat inligting oor onder andere studente, personeel, fisiese fasiliteite en Na-doktorale studente. Dit vorm ook die basis vir die berekening van die tersiêre instellings se onderriginsette, -uitsette, navorsingsuitsette, subsidie-toekennings, ens.

  • ​Foto: Deelnemers by vanjaar se HEMIS-instituut. 
  • Fot​ograaf: Hennie Rudman