Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kom deel in US se heel eerste Kampus Skenkingsdag
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 17/09/2018

#Move4Food - Personeel kan deelneem aan 'n spin-a-thon, voedsel items na ons reuse kosblikkie bring of geld skenk.

Die Universiteit Stellenbosch (US) maak gereed vir sy heel eerste 24-uur Kampus Skenkingsdag (Giving Day) wat vanaf 13:00 op Donderdag 20 September tot 13:00 op Vrydag 21 September sal duur - en ons benodig jou ondersteuning!

Skenkingsdag maak deel uit van die student-geïnspireerde #Move4Food-veldtog wat onlangs geloods is. Die veldtog is daarop gemik om voedselbanke op ons Stellenbosch- en Tygerberg-kampusse te skep. Die projek mik hoog met 'n insamelingsteiken van R10 miljoen in 100 dae (kontant en goedere) om te sorg dat geen US-student vir die volgende drie jaar 'n leë maag hoef te ervaar nie.

Studentevereniging, Engineers Without Borders Maties, het die taak gehad om 'n reuse-kosblik te bou wat vanaf 17 tot 24 September in die Neelsie opgerig word. Bring gerus nie-bederfbare kosse wat ons dan in die voedselbanke sal stoor. M4F_poster.jpg

Neem deel aan pret aktiwiteite

"Voedselonsekerheid onder studente is 'n ernstige probleem en ons wil wys dat ons verbind is daartoe om kwesbare individue te ondersteun met daadwerklike ingrypings. Daarom daag ons elke personeellid uit om deel te neem aan die 24-uur-spin-a-thon in Die Neelsie. Personeel-spin-a-thon-ure is vir Donderdag 20 September tussen 15:00 en 17:00 geoormerk. Nog maniere om 'n bydrae te lewer is om ander fakulteite uit te daag of die kilometers wat deur julle fakulteit se studentekomitee getrap word met monetêre skenkings te ewenaar," sê Cheryl Benadie, Donateurs-betrekkinge bestuurder aan die US.

"Ek moedig personeel aan om spanne van 6 in te skryf om vir 'n uur of wat te kom fietstrap (teen 'n donasie van R120 of meer) en ander uit te daag om dieselfde te doen. Jy moet egter jou fietstraptyd bespreek, so stuur asseblief 'n e-pos aan givingday@sun.ac.za," voeg sy by.

Sommige koshuise is ook gedurende hierdie week by 'n teleton betrokke om hul koshuis se alumni te vra om hierdie kernbehoefte van studente wat tans by hul alma mater is, te ondersteun.

Op Vrydagaand is daar 'n Koshuis Rugby Derby: Huis Marais vs Huis Visser; Dagbreek vs Wilgenhof; Eendrag vs Helshoogte; en Simonsberg vs Helderberg. Die geleentheid begin om 17:00 maar die wedstryde se afskoptyd is om 17:15. Die Stal sal oop wees vanaf 15:00 tot 21:00, met 'n kroeg vir verversings voor en na die wedstryde. Daar sal ook musiek- en braaigeriewe wees, insluitend hout.

Moenie die naweek se groot marathon vergeet nie ... Die US het kragte saamgesnoer met die Sanlam Kaapstad-marathon, wat op 22 en 23 September plaasvind, om personeellede, studente, alumni en vriende van die Universiteit aan te spoor om steun vir die voedselbanke op ons Stellenbosch- en Tygerbergkampus te werf. En ons rektor, Prof Wim de Villiers, sal vir 'n goeie rede die langpad aandurf! Hy het die Olimpiese Spele silwermedalje-wenner en US-alumna, Elana Meyer, se uitdaging aanvaar om aan die wedloop deel te neem en sal die volle marathon (42,2km) hardloop. Ondersteun sy veldtog deur hier te skenk: https://www.givengain.com/activist/225926/projects/17845/.

Daar is ook tans 110 hardlopers wat geregistreer is vir die verskillende wedlope in die Marathon om fondse vir #Move4Food in te samel. Ondersteun hulle gerus deur hier te skenk: https://www.givengain.com/cc/su100/.

"Hierdie veerkragtige en jeugdige Move4Food-veldtog is maar klein teenoor die enorme probleem van sosiale ongeregtigheid van voedselonsekerheid en honger onder ons studente, maar dit is in reaksie op die president se Thuma Mina-oproep," sê Karen Bruns, Senior Direkteur: Ontwikkeling & Alumni-betrekkinge. “En as 'n reaksie poog dit om ons studentegemeenskap tesame met personeel, alumni en skenkers bymekaar te bring om die aandag te vestig op 'n werklike kwessie op ons asook ander kampusse regoor die land. Dit verteenwoordig die moontlikheid van 'n onmiddellike oplossing van voedselbanke en koepons vir 'n baie komplekse kwessie wat ons steundiens- en akademiese personeel gesamentlik moet aanpak om oplossings voor te vind.

"Die skenkings wat ons studente, personeel en alumni sover ingesamel het dien as 'n uitdaging wat ons hoop bestaande skenkers sal aanspoor om ook hul deel te doen. Die Move4Food-veldtog bring ons almal saam in die gees van die universiteit se Eeufeesboodskap: saam vorentoe; masiye phambili; forward together".

Vir Alessandra Bielich, BA-student aan die US en deel van die Skenkingsdag-span, is dit belangrik om hierdie inisiatief te ondersteun. "Ek ondersteun die Move4Food-veldtog omdat ek sterk voel dat elke student gelyke geleenthede moet hê om suksesvol te wees. My uitdaging vir mede-studente is om selfs die kleinste bydrae tot hierdie veldtog te maak deur aan die spin-a-thon deel te neem. Ons kan die teiken bereik as ons almal saamstaan."

  • Wil jy betrokke raak? Stuur 'n e-pos aan givingday@sun.ac.za om aan te meld. Aktiwiteite sal regstreeks op Facebook en Instagram - uitgesaai word. Deel dan gerus die inhoud om meer aandag op hierdie belangrike veldtog te fokus.