Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Eerste suksesvolle swangerskap met behulp van Mikro-TESO-chirurgie in SA
Outeur: Wilma Stassen
Gepubliseer: 17/09/2018

ʼn Suksesvolle swangerskap met behulp van ʼn gesofistikeerde mikrochirurgiese prosedure waardeur spermselle van ʼn man met testikulêre versaking bekom is, is die eerste keer in Suid-Afrika bewerkstellig. 

Dr Amir Zarrabi, uroloog en manlike infertiliteitspesialis van die Universiteit Stellenbosch, het dié ingewikkelde mikrodisseksie- testikulêre spermonttrekkingchirurgie (Mikro-TESO-chirurgie) op ʼn 38-jarige manlike pasiënt met nie-obstruktiewe asoöspermie (NOA), ook bekend as testikulêre versaking, uitgevoer. Mans met hierdie toestand het weens ernstig belemmerde of ʼn gebrek aan spermproduksie geen spermselle in hul ejakulaat nie. Met hierdie chirurgie word spermselle direk van die testikel onttrek. Dit is die laaste uitweg vir mans wat andersins nie in staat sou wees om biologiese pa's te wees nie. 

Ná die onttrekking kan die spermselle vir intrasitoplasmiese sperminspuitings (Issi) gebruik word. Tydens dié proses word ʼn enkele spermsel in die laboratorium in ʼn eisel ingespuit om bevrugting te bewerkstellig. Dit kan onmiddellik ná die mikrochirurgiese spermonttrekking plaasvind, of alternatiewelik kan die spermselle gevries en gestoor word totdat die paartjie daarvoor gereed is. Die Issi-prosedure op hierdie pasiënt is deur prof Thinus Kruger en sy span van die Aevitas-fertiliteitskliniek in Kaapstad uitgevoer.   

“NOA raak sowat 1% van die manlike populasie en is ʼn belangrike oorsaak van manlike onvrugbaarheid," sê Zarrabi. Hy is die enigste chirurg in Suid-Afrika wat Mikro-TESO-chirurgie uitvoer. “NOA word oor die algemeen veroorsaak deur genetiese abnormaliteite, testikels wat nie afsak nie, chemoterapie of infeksies soos pampoentjies wat na die testikels versprei." 

Spermselle word in ʼn netwerk van dun buise in die testikel geproduseer. Vir ejakulasie van die spermselle om plaas te vind, moet elke buis minstens drie volwasse spermselle produseer. Spermselle is wel in die testikels van sowat 60% van mans met NOA teenwoordig, maar die hoeveelheid is laer as die drempel wat nodig is vir die spermselle om in die ejakulaat “oor te spoel". Tydens Mikro-TESO-chirurgie word die testikel noukeurig gedissekteer op soek na buise wat spermselle bevat. Hierdie buise is gewoonlik vergroot. 

“Dis ʼn gekompliseerde proses en dit kan moeilik wees om buise te identifiseer wat moontlik spermselle bevat," verduidelik Zarrabi, wat hierdie prosedure met ʼn chirurgiese mikroskoop uitvoer. “Ons onttrek net ʼn paar spermselle by die meeste mans – tussen 5 en 20. Normaalweg produseer mans honderde miljoene spermselle."

Dis nie altyd moontlik om spermselle te onttrek nie en die sukseskoers van hierdie prosedure is tussen 30% and 60%.

“Paartjies ontvang voor die prosedure voorligting om hul kanse op sukses te verduidelik en hul verwagtinge te bestuur. Selfs al onttrek ons gesonde spermsellle, speel ander Issi-verwante faktore en die gewone risiko's van swangerskap ook ʼn rol," verduidelik Zarrabi.

Mikro-TESO-chirurgie is in 1999 die eerste keer in die VSA uitgevoer en Zarrabi het in 2014 die eerste Suid-Afrikaanse chirurg geword wat die prosedure toegepas het. Hy het in 2016 gestudeer onder dr Peter Schlegel, die uroloog van die Weill Cornell-mediese kollege in New York wat die prosedure ontwikkel het.

“Dit skep ʼn klomp nuwe moontlikhede vir talle onvrugbare paartjies in Suid-Afrika wat voorheen geen kans gehad het om ʼn kind te hê waarvan hulle albei die biologiese ouers is nie," sê Zarrabi. Sy werk aan Mikro-TESO-chirurgie maak deel uit van sy PhD-navorsing oor manlike onvrugbaarheid in Suid-Afrika.