Loslitdag, wat
vanjaar sy 23ste jaar beleef, het ’n Suid-Afrikaanse tradisie geword wat die
Universiteit Stellenbosch (US) elke jaar heelhartig ondersteun. Dit was daarom
gepas dat die universiteitsgemeenskap op Vrydag 7 September die dag met ’n
spelegeleentheid, in vennootskap met die Stellenbosch Werksentrum vir Volwasse
Persone met Gestremdhede, gevier het. Die gebeurtenis wat die
Transformasiekantoor en die Eenheid vir Gestremdhede saam met Dis-Maties gereël
het, is op Rooiplein gehou en die tema was “Wees ’n alledaagse Held vir Mense
met Gestremdhede”.
Departemente en
afdelings van die US het spanne ingeskryf wat in verskeie items teen mekaar
meegeding het, gevolg deur die verwerking van die punte en die aankondiging van
die wenner. Pryse is ook toegeken aan die bes geklede span en die beste
dansers. Justice Force, die Regskliniek se inskrywing, het die spelespantoekenning
ingepalm, terwyl die toekenning vir die bes geklede span deur Finansies se Super
Moms-span opgeraap is. Soos verwag, het die Stellenbosch-werksentrum die prys
vir die beste dansspan verower, nadat hulle almal met hul begeesterde dansitem
beïndruk het. Die US was ook trots om die gasheer te wees van ’n Blinde Rolbalklub-span
van die Westelike Provinsie wat teen twee US-spanne deelgeneem het in
vriendskaplike wedstryde wat afsonderlik van die hoofkompetisie gehou is.
Afgesien van die speletoekennings, het die studentevereniging Dis-Maties ook ’n
prys vir voorspraak, ondersteuning en navorsingswerk in verband met gestremdheid
toegeken, wat aan Luigia Nicholas gegaan het.
Die Adjunkdirekteur
van die Eenheid vir Psigoterapeutiese en Ondersteuningsdienste, Mumtaj Parker, het
die geleentheid geopen en die Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en
Personeel, prof Nico Koopman, het hom by die Direkteur: Transformasie, Monica
du Toit, en ’n personeellid, Ulf-Dieter Koepp, aangesluit om die pryse teen die
einde van die geleentheid uit te deel. Spesiale dank gaan aan mnr Bongani
Mapumulo vir sy rol as seremoniemeester en die vele vrywilligers wat by die
speletafels gewerk het. Baie dankie ook aan almal wat die geleentheid
ondersteun het deur Loslitdagplakkers-plakkers te koop en die wedstryde as
toeskouers bygewoon het.
Foto: Anton Jordaan