Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
100 Jaar van uitnemendheid gevier by Voedselwetenskap
Outeur: Jorisna Bonthuys
Gepubliseer: 06/09/2018

Maties spog met 'hoë-gehalte' onderrrig in voedselwetenskap

Alumni van Voedselwetenskap het op 7 Augustus 2018 saam gekuier en deur die oë van onder andere Profs Wim de Villiers, Gunnar Sigge, Pieter Gouws en Marena Manley 'n terugblik oor die afgelope eeu ervaar.

Maties se Departement Voedselwetenskap is “aan die voorpunt'' van pogings om 'n nuwe generasie voedselwetenskaplikes op te lei. Dit is die mening van Prof Gunnar Sigge, Departementele voorsitter van Voedselwetenskap, US.

Prof. Sigge het onder meer verwys na die departement se goeie vertoning op die Academic Ranking of World Universities (ARWU) se jongste graderingslys van tersiêre instellings. Meer as 1 600 instellings se akademiese aanbod in vyf vakgebiede is in dié graderingslys onder die soeklig geneem.

Daarvolgens word die departement beskou as 'n voorloper plaaslik én internasionaal, het hy aangedui. “Om sedert 2017 te kon opskuif vanaf posisie 76-100 na 'n nuwe hoogtepunt van posisie 51-75, op hierdie lys, is 'n wonderlike mylpaal in die universiteit se eeufeesjaar," het Prof. Sigge gesê. “Dit is 'n verdere eer om die enigste Suid-Afrikaanse en Afrika voedselwetenskapdepartement in die 'Top 200' te wees."

Baie harde werk en spanwerk het gesorg vir hierdie besonderse prestasie. “Dit is ongelooflik verblywend dat personeellede se bydraes oor die laaste 23 jaar, sedert 1995, op hierdie manier gevier kan word."

Prof. Danie Brink, dekaan van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit AgriWetenskappe, het gesê die departement is 'n voorloper op kampus wat betref onderrig, navorsing en die sluit van vennootskappe met die private sektor. “Die departement is een van SU se spogdepartemente. Voedselwetenskap se span verskaf puik onderrig én doen uitstekende navorsing. Die departement lewer ook studente met entrepreneursvaardighede wat hulself as bedryfsleiers vestig."

 

Die US-rektor Prof. Wim de Villiers het gesê die uitgangspunte wat deur die departement nagestreef word, strook met Maties se nuwe visie om inklusief, innoverend en toekomsgerig te wees. “Dit is 'n plek van uitnemendheid waar sowel personeel as studente denkleiers is wat kennis tot diens van die samelewing bevorder".

 

Prof. Pieter Gouws, die vise-dekaan verantwoordelik vir onderwys en onderrig in die fakulteit, het vertel van planne om 'n sentrum vir voedselveiligheid in die departement te vestig. Hy het aangedui dat 'n amptelike aankondiging hieroor eersdaags verwag kan word. Die sentrum, wat nou saam met rolspelers in die private sektor gaan werk, sal fokus op navorsing, onderrig, asook bewusmaking van die publiek en beleidmakers.

Vanuit 'n bedryfsoogpunt is daar 'n groot behoefte om nouer saam met die universiteit te werk om 'n nuwe generasie voedselwetenskaplikes op te lei. Só het Dr Tertius Cilliers, uitvoerende hoof van Synercore Holdings, gesê. Kollektiewe pogings is volgens hom nodig om te verseker dat daar voortaan genoeg voedselprodukte van gehalte op die mark wat ook veilig is om te verbruik en volhoubaar geproduseer is.

Prof. Marena Manley, 'n navorser en senior dosent in voedselwetenskap, het op haar beurt 'n bestekopname gedoen oor hoe die departement, wat vanjaar sy 66ste bestaansjaar vier, oor die jare ontwikkel en vooruitgeboer het.

 

Foto van links na regs: Prof Danie Brink, Dr Tertius Cilliers, Prof Marena Manley, Prof Wim de Villiers, Prof Pieter Gouws, Me Lisa Ronquest, Prof Gunnar Sigge