Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Akademiese Jaardag stel navorsingsprestasies ten toon
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie
Gepubliseer: 30/08/2018

Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aan die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs sy 62ste Akademiese Jaardag op die Tygerberg-kampus in Kaapstad gehou.

“Die Akademiese Jaardag is die hoogtepunt van ons akademiese kalender en is ʼn tentoonstelling en viering van die Fakulteit se deurlopende navorsingsprestasies," het prof Nico Gey van Pittius, die FGGW Visedekaan: Navorsing, tydens die geleentheid gesê.

“Vanjaar is daar sowat 300 navorsingsprojekte aangebied in mondelinge- of plakkaat-formaat, en dit is gegroepeer volgens die Fakulteit se navorsingsfokusareas," het Gey van Pittius gesê. Hy het verduidelik dat die Fakulteit se strategiese navorsingsfokusareas belyn is met beide die plaaslike asook internasionale gesondheidsprioriteite, om sodoende die vernaamste gesondheidskwessies in Afrika aan te spreek. Hierdie fokusareas is: infeksiesiektes; nie-oordraagbare siektes; geestesgesondheid en neuro-wetenskappe; geweld, besering, trauma en rehabilitasie; moeder- en kindergesondheid; en die versterking van gesondheidsisteme.

Van die 120 mondelinge voordragte wat op die dag gelewer is, was daar vyf Spiespunt-lesings wat deur kenners in die onderskeie velde aangebied is. Die dekaan van die FGGW, prof Jimmy Volmink, het ʼn praatjie gelewer en ʼn lesing is aangebied deur ʼn internasionale gasspreker, prof Clifton E Barry III van die Nasionale Instituut van Allergie en Infeksiesiektes (NIAIS) in die Verenigde State (VS).

In sy dekaansrede het Volmink die uitslae bespreek van ʼn onlangse verslag oor Gesondheidsberoepe-onderwys in Suid-Afrika. Volmink het die paneel van 10 lede gelei wat die verslag namens die Wetenskapakademie van Suid-Afrika (ASSAf) saamgestel het. Die paneel het 16 aanbevelings gemaak, wat ʼn eenstemmige blik bied op die transformasie wat in die onderrig en opleiding van gesondheidswerkers in Suid-Afrika nodig is om die huidige pogings te konsolideer en om nuwe pogings te versterk wat die ernstige kwantitatiewe en kwalitatiewe tekorte in die gesondheidswerksmag aanspreek en sodoende die gesondheid van die nasie verbeter.

Barry, wat aan die hoof staan van die Tuberkulose (TB) Navorsingsafdeling in die Laboratorium van Kliniese Infeksiesiektes by die NIAIS en ook ʼn ere-aanstelling by die US het, het die geval van ʼn chemiese verbinding genaamd oxazolidinones bespreek. Hy het die navorsing uiteengesit wat hy en sy span oor hierdie verbinding (wat aanvanklik geen genesende effek op TB getoon het nie) gedoen het om dit te ontwikkel tot ʼn potensieel veilig en doeltreffende behandeling vir uiters middelweerstandige-TB.

ʼn Belangrike deel van die Akademiese Jaardag is die bekendmaking van die wenners van die HD Brede-toekenning vir Nagraadse Navorsing in Infeksiesiektes. Met hierdie toekenning word eer betoon aan studentenavorsing oor infeksiesiektes, en het daar is twee kategorieë – biomediese en kliniese navorsing. Studente word beoordeel op die gehalte van die navorsing wat hulle gepubliseer het, asook die gehalte van die joernaal waarin dit gepubliseer is.

Vanjaar was die wenner in die kategorie vir die beste artikel in die Biomediese Navorsing Dr Michael Whitfield vir sy artikel “The potential use of rifabutin for treatment of patients diagnosed with rifampicin-resistant tuberculosis", wat in die Journal of Antimicrobial Chemotherapy gepubliseer is. Die is die tweede keer dat Whitfield dié toekenning wen.

Die prys vir die beste artikel in die Kliniese Navorsing-kategorie is aan Dr Ahmed Abulfathi toegeken vir sy artikel “Evaluation of the Effectiveness of Dose Individualization to Achieve Therapeutic Vancomycin Concentrations", wat in die Journal of Clinical Pharmacology gepubliseer is.​