Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Suksesvolle eerste fintechathon by US
Outeur: Corporate Communications/Korporatiewe Kommunikasie (Rozanne Engel)
Gepubliseer: 23/08/2018

Die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs, in vennootskap met die LaunchLab en Innovus, vir die eerste keer 'n hackathon – ʼn geleentheid waar vernuwende, tegnologieverwante oplossings bedink, ontwerp en toegepas word – aangebied met finansiële tegnologie as tema. Volgens Camille de Villiers, Tegnologieoordragbeampte by Innovus, was die beoordelaars beïndruk met dit wat die studente binne die beperkte tyd vermag het.

“Die voorleggings en idees was almal uit die boonste rakke en dit was vir die beoordelaars 'n moeilike taak om die uiteindelike wenner aan te wys. Sommige spanne het Saterdag deurnag aan hulle kontantlose oplossings vir selfone gekodeer. Tydens die voorleggingsgeleentheid Sondagmiddag het die studentespanne hoogs bruikbare demonstrasies van hul toepassings en kontantlose oplossings vir selfone gegee," sê De Villiers.

Die fintechathon, wat oor die naweek van 17 tot 19 Augustus plaasgevind het, is deur Entersekt en Capitec Bank geborg. Die doel van die geleentheid was om studente aan te moedig om met innoverende idees vorendag te kom om foutlose betalings- of inligtingsuitruilervarings vir verbruikers te skep.

Dertig studente is in drie spanne ingedeel vir hierdie eerste fintechathon. Aan die begin van die geleentheid het die bedryfsborge die probleemstelling uiteengesit en op die laaste dag was daar 'n voorleggingsessie waar die innoverendste span met die beste oplossing die hoofprys ter waarde van R15 000 gewen het, terwyl die twee naaswenners spanne elk 'n prys van R5000 gewen​ het.

Anita Nel, HUB van Innovus, het die studente verwelkom en bedryfsleiers Schalk Nolte, HUB van Entersekt, en Francois Dempers, bestuurder van Innovasie vir Digitale Oplossings by Capitec Bank​, het daarna van hul ervarings in die finansiële en sakesektore vertel.

Van die pasellas by die geleentheid was 'n barista wat vir bodemlose koppies koffie gesorg het, springmieliemasjiene en gesonde etes om die studente op en wakker en gefokus te hou. Die deelnemers het ook geskenkpakke, T-hemde en koffiebekers ontvang.

Ontwikkelaars van Entersekt en Capitec was dwarsdeur die naweek beskikbaar as mentors om die studente by te staan as hulle vasgehaak het of nuwe of onbekende tegnologie by hulle oplossings wou inkorporeer.

Die voorleggings is deur Gerhardus Oosthuizen, Entersekt se Hoof- Tegniese Beampte, Francois Dempers, bestuurder van Innovasie vir Digitale Oplossings by Capitec Bank​ en Tremaine Hector, ʼn suksesvolle entrepreneur en alumnus van die US Bestuurskool, beoordeel.

Die wenspan het uit Joseph Visser (HonsBSc in Rekenaarwetenskap), Shaun Wurdeman (HonsBSc in Rekenaarwetenskap), Ieuan Uys (derdejaarstudent in BSc Rekenaarwetenskap) en Elke van der Walt (HonsBSc in Rekenaarwetenskap) bestaan. Hulle het 'n toepassing genaamd “Disconnekt" geskep wat die konnektiwiteit van Bluetooth-bakens gebruik om betalings te verwerk.

Uys, een van die lede van die wenspan, was baie opgewonde om deel van hierdie eerste fintechathon te wees en kon nie ophou om Innovus te bedank nie. “Om te wen was 'n adrenalieninspuiting en die kersie op die koek vir die naweek. Dit het ons ook baie selfvertroue gegee en ons vaardigheid en kreatiwiteit bevestig. Ek kan sê dat my hele span soveel pret gehad het dié naweek. Ons sê weer baie dankie vir Innovus vir hulle rol in die reël van die fintechathon."

Nog 'n lid van die wenspan het dié sentiment gedeel. “Ek is so dankbaar dat Innovus so 'n geleentheid aangebied het; dit was 'n reusesukses. Ek hoop dis die eerste van vele," het Visser gesê.​

Foto van Hackathon wenners.