Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kry leerders betrokke by burgerlike wetenskapsprojekte
Outeur: Media and communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 22/08/2018

'n Groep navorsers en onderwysers wat daarin belangstel om aan burgerlike wetenskapsprojekte deel te neem, het vanaf 9 tot 11 Julie 2018 aan 'n drie-dagse werkswinkel by die Universiteit Stellenbosch (US) deelgeneem.

Dié werkswinkel is 'n poging van die US se Departement Aardwetenskappe, in samewerking met die North Caroline State University en die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD), om burgerlike wetenskapsprojekte in Suid-Afrikaanse klaskamers te vestig. Die werkswinkel het interaksie tussen navorsers en onderwysers, suksesstories van bestaande projekte, en hoe om 'n burgerlike wetenskapsprojek te begin, behels.

Ná die afloop van die werkswinkel het me. Suanne Rampou, nasionale kurrikulumadviseur vir Natuurwetenskappe in die WKOD, gesê onderwysers moet buite die klaskamer beweeg om leerders se belangstelling in elke dag se wetenskap te prikkel: “Die wêreld daarbuite is propvol wetenskap wat net wag om ontdek te word, maar hierdie feit word nie in die klaskamers gereflekteer nie. Ons moet die leerders weer opgewonde maak oor dit wat hulle rondom hulle waarneem."

Ná ''n soortgelyke werkswinkel verlede jaar, het drie skole in die Wes-Kaap reeds die Shark Teeth Forensics burgerlike wetenskapsprojek aangepak, in samewerking met Dr Terry 'Bucky' Gates, 'n paleontoloog en evolusionêre bioloog van die North Caroline State University. In hierdie projek ondersoek leerders die eienskappe van fossiel haaitande en voer dan hul waarnemings in 'n databasis in. Leerders word dan met dieselfde vrae gekonfronteer waarmee wetenskaplikes sukkel. Soos byvoorbeeld, wat kan fossielhaaitande ons vertel van die biodiversiteit van haaie wat tien miljoen jaar gelede gelef het?

“Deur fossielhaaitande te ondersoek, leer ons heelwat oor die diversiteit van haaie in die oeroseane, wat weer insig en konteks bied om huidge diversiteit te verstaan," verduidelik hy.

Dr. Ryan Tucker, 'n paleontoloog van die US se Departement Aardwetenskappe en een van die organiseerders van die werkswinkel, sê nog 'n doelwit van die werkswinkel was om wetenskaplikes te help om burgerlike wetenskapprojekte te ontwikkel wat in die klaskamer kan werk, en terselfdertyd waardevolle data in te samel.

“Dit is ook die eerste keer dat ons al die groepe – wetenskaplikes, onderwysers en ampternare – onder een dak bymekaar kon kry," het hy bygevoeg.

Mnr. Michael Hager, WKOD se vakadviseur vir Natuurwetenskappe vir Graad 4 tot 7, het die aanbieders gelukgewens met hul entoesiasme en persoonlike toewyding om 'n verandering te weeg te bring in die wyse waarop natuurwetenskappe onderrig word.

Vir meer inligting, of om by 'n projek betrokke te raak, kontak  Dr Ryan Tucker by die Universiteit Stellenbosch of vir mnr. Ronald Engelbrecht by die Wes-Kaapse Onderwysdepartement.

Van die bestaande burgerlike wetenskapsprojekte wat aan die werkswinkel deelgeneem het, sluit in die Iimbovane Outreach ProjectCape Citizen Science, die Namibian Dolphin Project, die rePhotoSA projek (om veranderings in landskappe te dokumenteer), en die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut se iNaturalist projek.