Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Monteverdi in die Endler
Outeur: Dr Pieter Grobler
Gepubliseer: 20/08/2018

Die unieke aard van die onlangse rare “rooi maan"-verduistering is miskien 'n toepaslike beeld vir die unieke musikale gebeurtenis in die Endlersaal op 1 en 2 September. Dit is 'n geleentheid wat toegewyde plaaslike musiekliefhebbers nie behoort te mis nie. Dit gaan hier oor 'n ewe rare geleentheid, in die vorm van Claudio Monteverdi (1567-1643) se evokatiewe toonsetting van die liturgiese Vespers (oorspronklik die aandgebede van die liturgiese Officium), 'n werk wat al vergelyk is is die grootste en aangrypendste van die aard voor die werk van Sebastian Bach. Nadat dit sowat 25 jaar gelede vir die eerste keer in Suid-Arika uitgevoer is, het die plaaslike koorleier Martin Berger – wat aan die voorpunt staan van koorprogramme aan die Universiteit van Stellenbosch – die taak op hom geneem om die samewerking van plaaslike en internasionale kunstenaars te verkry ten einde hierdie majestueuse werk weer aan die lig te bring. As gevolg van die besondere artistieke eise van die Vespers is die geleentheid met reg vergelykbaar met 'n rare  natuurverskynsel.

Monteverdi se Vespers dateer uit 1610, en is tot 'n groot mate omhul met misterie, en 'n klinkende voorbeeld van rare ingewings wat die musiekgeskiedenis in 'n ander rigting sou stuur. Die werk se volledige titel – Aandgebede vir die Heilige Moeder – plaas dit vierkantig binne die terrein van die Vroeë Kerk se Mariaanse tradisie. Die enigste ander werk van die aard is die gewilde Vespers van Rachmaninof, wat egter nouliks vergelyk kan word met dié van Monteverdi. Dit is naamlik 'n grootse en omvangryke werk van nagenoeg 90 minute, vir orkes, kamerkoor en soliste, en gebaseer op Bybelse tekste, waaronder twee Magnificat-toonsettings (lofsang van Maria) en 5 Psalms. Die vreemde insluiting van twee items uit die sensuele erotiek van Salomo se Hoogliedere word verklaar uit die feit dat die Heilige Moeder dikwels gesien is as die “bruid" van die Kerk. ​

Die uitvoerendes vir hierdie uitvoerings sluit in soprane Caroline Nkwe en Lente Louw (beide  Suid-Afrikaners), Ulrike Malotta (mezzo-sopraan – Duitsland), tenore Georg Poplutz en Christian Rathgeber (Duitsland) en Felix Rathgeber (bas – Duitsland).

Die geheeleffek sal verder akoesties ook 'n nuwe ervaring wees as gevolg van die gebruik van historiese Renaissance-instrumente, met spesialiste-uitvoerders wat selde in ons dag en tyd gehoor word. Die uitvoering van Monteverdi se Vespers is nog nooit tevore aangepak met historiese instrumente nie. Só sal Arno Parduch byvoorbeeld optree as houtkornettis (Duits Zink), 'n houtblaasinstrument, oorgetrek met leer. Die klankresultaat is 'n aangename vermenging van hou-  en koperblaas, soortgelyk aan die menslike stem. Daarbenewens sal daar ook drie skuiftrompette wees ('n voorloper van die moderne tromboon). Die spelers is Stuart Scott (Musiekhoof van Bishops Court in Kaapstad (tenoor-instrument), Ryan Kierman (dosent aan die Universiteit van Stellenbosch – alt-instrument), en David Langford (bastromboonspeler van die Kaapstadse Filharmonie) met die bas-skuiftrompet. 

Die uitvoering word geborg deur die die Goethe-Institut, die koorstigting ProCoroAfrika, en ASK Afrika.

Die uitvoerings vind plaas op Saterdag 1 September om 8 nm en Sondag 2 September om 4:30 nm in die Endlersaal, Stellenbosch. Kaartjies teen R140 (gewoon) en R100 (studente en pensioenarisse) is tans beskikbaar by Computicket, en by die deur. Vir meer inligting skakel met Fiona Grayer by concerts@sun.ac.za of 021 808 2358.