Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties wil studentehonger met reuse insameling beëindig
Outeur: Corporate Communications Division
Gepubliseer: 20/08/2018

R10 miljoen in 100 dae om volhoubare voedselbanke op die Stellenbosch- en Tygerberg-kampusse te skep om te verseker dat geen Matie vir die volgende drie jaar op ʼn leë maag moet studeer nie. Dít is die ambisieuse doelwit van die Universiteit Stellenbosch (US) se studente-geïnspireerde #Move4Food-veldtog wat vandag ( 20 Augustus) bekendgestel word. Die veldtog duur tot 27 November 2018 wat as Skenkingsdag (Giving Tuesday) bekendstaan.

Giving Tuesdays, wat sy oorsprong in die VSA het, is deesdae ʼn internasionale dag van gee.

Van Maandag af neem studente, personeel en alumni deel aan 'n wye verskeidenheid eweknie-fondsinsamelingsaktiwiteite, soos die Sanlam Kaapstad Marathon op 23 September, om geld vir die veldtog in te samel. Die Olimpiese Spele silwermedalje-wenner en US-alumna, Elana Meyer, het die Maties-rektor en visekanselier, prof Wim de Villiers, uitgedaag om aan die wedloop deel te neem.

Vroeër vanjaar het De Villiers saam met alumni en vriende van die Universiteit deelgeneem aan die Kaapse Fietstoer om geld vir studentebeurse in te samel. Hy oefen reeds hard vir die marathon in September. De Villiers het al die “Groot 5" Marathons voltooi: Boston, New York, Londen, Chicago en Berlyn.

“Een student wat op ons kampus honger ly, is een te veel," sê De Villiers. “Ek gee graag van my tyd, energie en geld vir die stryd teen studentehonger – en ek daag personeel, studente, skenkers, alumni en vriende van die Universiteit en dié publiek uit om dieselfde te doen. Kom ons span saam om studente te help om húl wedloop te voltooi."

Meer as 60 hardlopers het reeds geregistreer en 20 fondsinsamelingsblaaie is al geskep. Onder andere sal die US se registrateur, dr Ronel Retief, vir die 10 km-wedloop aantree.

Loodsfunksie

Die veldtog word op Maandag 20 Augustus op die Rooiplein op die Stellenbosch-kampus bekendgestel. ʼn Mini-konsert begin om 12:00 in, terwyl ʼn fondsinsamelingskonsert om 13:00 in die Endlersaal in Victoriastraat gehou word. Toegangsfooi is enigiets tussen R10 en R100 of ʼn nie-bederfbare kos-item.

VoedselonsekerheidMove4FoodGetInvolved.jpg​​

Voedselonsekerheid en die behoefte aan die mees basiese items, kom al hoe meer onder studente in Suid-Afrika voor. Ten spyte van wanpersepsies dat die US ʼn “bevoorregte" instelling is, is ten minste 6 uit elke 100 nuwelingstudente (eerstejaars en eerstejaar-nagraadse studente) nie seker of hul genoeg kos gaan hê om te eet nie. Dit kom neer op ʼn geskatte 465 nuwelingstudente uit ʼn totaal van 7744 – senior studente uitgesluit.

Geen student behoort sonder kos of basiese behoeftes te wees nie," sê mnr Ben Moolman, Studenteraadslid vir strategiese inisiatiewe en leierskapsontwikkeling. “Ons wil ʼn volhoubare oplossing skep vir studente. Hoewel die behoefte veel verder strek as kos, is dít nou dringendste behoefte."

Met die onlangse aankondiging van fooivrye onderwys is daar ʼn wanopvatting dat studente uit werkerskalsfamilies steun ontvang wat ál hulle universiteitskoste dek, verduidelik me Karen Bruns, Senior Direkteur: Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge. “Dis ongelukkig nie die geval nie “Daar is steeds komponente waarvoor studente self verantwoordelik is. Dié tekorte laat baie studente sonder toegang tot basiese behoeftes soos kos en sanitêre ware. Die grootste behoefte is aan die begin van die jaar, wanneer studente nog wag dat hul finansiering goedgekeur word, en net voor die eindeksamens, wanneer kosgeld opdroog." 

  • Diegene wat wil die #Move4Food-verltog wil ondersteun, kan dit doen deur aan die Sanlam Kaapstad Marathon deel te neem of aanlyn ʼn skenking te maak by https://www.givengain.com/cc/su100/
  • Sien http://bit.ly/Move4Food-ideas vir ander opsies om #Move4Food te ondersteun. Dit sluit in virtuele wedlope, sportdae, aktiwiteitmonitoreringstegnologie, pendel na plekke van werk of ʼn kontantskenking.
  • Stuur 'n e-pos na ontwikkeling@sun.ac.za vir meer inligting.

​​MEER OOR VOEDSELINSEKURITEIT

ʼn Onlangse studie deur die Nasionale Navorsingstigting het aan die lig gebring dat meer as 30% van universiteitstudente voedsel onseker is. Dié bevindings, is tydens ʼn Nasionale Kollokwium oor Toegang tot Voedsel vir Studente, wat in die Wes-Kaap aangebied is, bekendgemaak met die doel om oplossings vir dié “honger-krisis" te vind.

Besprekings het gefokus op die effek wat honger speel in student se uitvalkoers. “As mense honger is, kan hulle nie konsentreer nie, hulle is gestres én angstig. Party studente werk boonop ook nog en dit beïnvloed hul akademiese prestasie," he Stephen Devereux van die Nasionale Navorsingstigting gesê.

(Bron: https://www.timeslive.co.za/news/south-africa/2 )

  1. Klik hier vir nog 'n artikel oor voedsel-onsekerheid

 
Foto: Elana Meyer daag Maties-rektor uit om aan marathon deel te neem​