Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SOL verwelkom hul nuwe direkteur: Dr Melanie Skead
Outeur: Claudia Swart
Gepubliseer: 13/08/2018

Dr Melanie Skead is onlangs as direkteur van die Sentrum vir Onderrig en Leer aangestel. Sy was voorheen verbonde aan Rhodes Universiteit, waar sy as senior dosent in die Sentrum vir Hoëronderwysnavorsing, -onderrig en -leer gewerk het. Melanie is reeds sedert 1988 aktief in die hoër onderwys en besit 'n PhD in Engels en twee professionele onderwyskwalifikasies, waaronder 'n Nagraadse Diploma in die Hoër Onderwys (Akademiese Ontwikkeling) van Rhodes Universiteit. Sy spits haar sedert 2003 op akademiese ontwikkeling toe. Haar ervaring op die gebied strek van studente-, personeel- en kurrikulumontwikkeling tot akademiese leierskap aan verskeie hoëronderwysinstellings, onder meer Vista Universiteit, Fort Hare, Nelson Mandela Universiteit en Rhodes, waar sy die nasionale en Rhodes se nagraadse hoëronderwysdiplomakursusse gekoördineer en as promotor vir PhD-studente opgetree het. Haar navorsingsbelangstellings sluit in leerroetes vir akademiese ontwikkelaars, akademici se rol as agente vir kurrikulumtransformasie, en die problematisering van konsepte van hoëronderwysgehalte. Sy het al akademiese referate oor die ontwikkeling van skryfsentrums, die akademiese ontwikkeling van studente sowel as formele leergeleenthede vir akademiese ontwikkelaars die lig laat sien. Op 'n meer persoonlike vlak het sy drie volwasse kinders (een seun en twee dogters) en een kleindogter. Sy en haar man hoop om hulle binnekort permanent op Stellenbosch te vestig. Melanie is 'n selferkende omgewingsaktivis en is passievol oor musiek, die kunste, dierewelsyn en goeie wyn.