Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Qunu 9 vertel van Madiba-ervaring
Outeur: Charl Linde
Gepubliseer: 07/08/2018
Nege jeugleiers van die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs die universiteitsgemeenskap vertel van hulle ervarings nadat hulle gedurende die winterreses die Nelson Mandela-museum in Mthatha en Qunu, Madiba se geboorteplek, besoek het om met ander jong leiers van Walter Sisulu Universiteit (WSU) te ontmoet. Die besoek was ’n samewerkingsprojek tussen die Transformasiekantoor en die FVZS Instituut, en het deel uitgemaak van die veldtog #SAYouth100. Die studente het hoofsaaklik besin oor hoe geskiedenisse, visies, tale en uitdagings institusionele kulture en leierskapspraktyke by albei instellings beïnvloed, en hoe hierdie praktyke verander kan word om demokrasie te verdiep.

 
Met hulle vertrek het die US se Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie, dr Leslie van Rooi, die studente aangemoedig om die besoek nie as US-verteenwoordigers nie, maar as Suid-Afrikaners aan te pak. Die studente het dít ter harte geneem en hulle ervarings van die hele reis in ’n dokumentêr vasgelê wat stemopnames, selfoonbeeldmateriaal en oorspronklike filmmateriaal deur een van die deelnemers, Gideon Basson, insluit. Die ‘Qunu 9’ het op 26 Julie by ’n spesiale vertoning van die dokumentêr as deel van die FVZS Instituut se Diskoerskafeereeks oor hulle ervarings gesels. Party het oor die rol van voormalige president Mandela en sy waardes in die hedendaagse samelewing besin. Ander het oor hulle persoonlike interaksies met die WSU-studente gepraat – vir sommige was dit ’n vreemde gevoel om gedurende die besoek skielik in die minderheid te wees, terwyl ander deelnemers weer dieselfde ervaar het met hulle aankoms op Stellenbosch. Verdere gesprekke het gehandel oor leierskapskwessies, onder meer waarom daar ’n kultuur van gesamentlike leierskap by WSU is, dog so ’n individualistiese studenteleierskapskultuur by die US, watter uitdagings elkeen inhou, en wat dít beteken vir studente wat op hierdie strukture staatmaak om namens hulle te praat.

Ná die filmvertoning en oordenkings deur die deelnemers het die gehoor geleentheid ontvang om vrae te stel. Belangrike en soms netelige kwessies is geopper. So is daar byvoorbeeld gevra waarom die studente Qunu toe is eerder as na Kayamandi. Deelnemers het hieroor debat gevoer – vir party was die beweegrede van die besoek juis om die groep uit die Wes-Kaap te verwyder en na ’n plek te stuur waar die US nié ’n dominante teenwoordigheid in die gemeenskap het nie. Ander vrae het gehandel oor hoe Madiba deesdae uitgebeeld word: Sien ons slegs een kant van hom? Waar is Mandela die vryheidsvegter? Waarom word Winnie Mandela so dikwels weggelaat uit die gesprek oor Nelson Mandela se lewe, laat staan nog die gesprek oor die stryd teen apartheid? Na afloop van die program by die US Museum het ’n aantal studente en deelnemers die gesprek na die Transformasiekantoor verskuif en tot laatnag verder gesels oor ’n uiteenlopende aantal onderwerpe wat uit die Qunu-besoek spruit.

Die US hoop hierdie gesprek tussen die instellings sal tot groter samewerkingsprojekte op leierskapsgebied sowel as verdere, soortgelyke projekte met ander universiteite oor die hele Suid-Afrika lei. Die Transformasiekantoor herinner studente ook graag aan die voortgesette Kom Ons Gesels-reeks, wat studente nooi om elke Vrydag gedurende die etensuur die Transformasiekantoor te besoek om enige onderwerp in ’n bevorderlike ruimte vir vrye gesprekvoering aan te roer.