Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wetenskap in SA doen goed
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 07/08/2018

Dit mag dalk nie altyd so lyk nie, maar wetenskap in Suid-Afrika doen eintlik heel goed veral as die aantal wetenskaplike artikels en die vlak van internasionale samewerking in ag geneem word.

Hierdie is een van die vernaamste bevindings van 'n onlangse verslag aan die Universiteit Stellenbosch (US).

“Ons verslag toon dat Suid-Afrika se prestasie in terme van publikasie-uitsette, internasionale samewerking en die impak van aanhalings oor die afgelope 17 jaar aansienlik verbeter het," sê US-navorsers prof Johann Mouton en dr Jaco Blanckenberg wat die kort verslag saamgestel het. Mouton is die direkteur van die Department van Wetenskap en Tegnologie en die Nasionale Navorsingstigting se Sentrum vir Uitnemendheid in Wetenskapmetriek, Wetenskap,- Tegnologie- en Innovasiebeleid (SciSTIP) wat in die US se Sentrum vir Navorsing oor Wetenskap, Evaluering en Tegnologie (SENWET) gesetel is. Blanckenberg is 'n na-doktorale genoot by SENWET en SciSTIP.

Mouton en Blanckenberg het die Web of Science-databasis, wat uit baie versamelings bestaan, gebruik om Suid-Afrika se bibliometriese (wetenskaplike meting van navorsingsdokumente) prestasie te evalueer. Hulle het na artikels en resensie-artikels gekyk en nie na boeke, hoofstukke en konferensiedokumente nie.

Wat die databasis self betref, het hulle gefokus op die Web of Science Core Collection wat bestaan uit drie sitasie-databasisse: die uitgebreide Wetenskap sitasie-indeks (Science Citation Index Expanded), die Sosiale Wetenskappe sitasie-indeks (Social Sciences Citation Index) en die Geesteswetenskappe sitasie-indeks (Arts and Humanities Citation Index).

Die evaluering is gedoen deur na drie aanwysers, naamlik publikasie-uitsette, internasionale samewerking en aanhalings te kyk. Hierdie aanwysers word tradisioneel in bibliometriese ontledings gebruik en bied insae in van die belangrikste aspekte van wetenskaplike produksie.

Die navorsers wys egter daarop dat hierdie aanwysers nie ander belangrike dimensies van wetenskaplike prestasie, soos die relevansie en kwaliteit van 'n land se wetenskap, die mate waartoe  wetenskap ʼn impak op die samelewing het en die profiel van die menslike hulpbronbasis van wetenskaplike produksie vasvang nie .

Hulle sê hul ontleding het getoon Suid-Afrika se publikasie-uitset in die Web of Science het van 3 668 publikasies in 2000 tot 15 550 in 2016 gestyg.

“Hierdie toename kom neer op 'n gemiddelde jaarlikse groeikoers van 2,9%. Suid-Afrika se deel van die wêrelduitset het meer as verdubbel van 0,4% in 2000 tot 0,91% in 2016."

“Dit is nie verbasend dat hierdie resultate SA se posisie vergeleke met ander lande verbeter het nie. Wat die ranglys in terme van land betref, het Suid-Afrika sy posisie in die wêreld van nommer 34 in 2000 tot 28 in 2016 verbeter."

Die navorsers sê die groei in Suid-Afrika se publikasie-uitsette het saamgeval met 'n toename in die sigbaarheid van die land se wetenskaplike artikels. Die sigbaarheid van wetenskap word gedeeltelik vasgelê deur te kyk na die aantal kere wat ander navorsers na navorsingspublikasies verwys ('aanhaal').

“Die impak van aanhalings van Suid-Afrika se wetenskaplike artikels het geleidelik van 0,8 in 2000 tot 1,1 in 2016 toegeneem. Dit is 'n baie positiewe resultaat aangesien 'n telling van bo 1 beteken SA se artikels word gemiddeld effens meer aangehaal as al die artikels in die velde waarin ons publiseer."

Die navorsers noem dat dit belangrik is om gepaste normaliseringsprosedures in hierdie tipe ontledings toe te pas om vergelykende evaluerings te maak, aangesien daar ʼn wesenlike verskil in aanhalingspraktyke in verskillende wetenskapsvelde is.

Hulle voeg by dat dit belangrik is om in gedagte te hou dat 'n toename in wetenskaplike uitset nie noodwendig impliseer dat sodanige uitset deur ander wetenskaplikes in die dieselfde navorsingsarea erken word nie.

Nog 'n interessante bevinding is dat Suid-Afrikaanse wetenskaplikes aansienlik meer met wetenskaplikes en geleerdes wêreldwyd saamwerk as wat vroeër die geval was.

“In 2000 was ongeveer 'n derde van SA se artikels gesamentlik deur ʼn plaaslike -en ten minste een buitelandse wetenskaplike geskryf. Teen 2016 het dit tot 50% gestyg."

Volgens die navorsers moet hierdie ontwikkeling verwelkom word aangesien ʼn toename in internasionale samewerking dikwels die impak van aanhalings verhoog, en tot meer netwerke en toegang tot meer befondsingsgeleenthede lei.

“Die toename in internasionale samewerking het egter plaasgevind ten koste van nasionale samewerking (wat in dieselfde tydperk van 47% tot 34% gedaal het), asook 'n duidelike afname in publikasies deur net een skrywer."

“Die goeie nuus is dat daar 'n geringe, maar bestendige tendens van toenemende samewerking met wetenskaplikes en geleerdes in die res van Afrika is, met 'n toename van ʼn bykans nul-basis (zero-base) in 2000 tot 5% in 2016," voeg die navorsers by.

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Prof Johann Mouton

Sentrum vir Navorsing oor Evaluering, Wetenskap en Tegnologie (SENWET)

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 2393

E-pos: jm6@sun.ac.za

       UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za