Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
TB-projek kry groot hupstoot van Gates-befondsing
Outeur: Liezel Engelbrecht
Gepubliseer: 02/08/2018

Die Desmond Tutu TB-sentrum (DTTS) het onlangs wesenlike befondsing van die Bill en Melinda Gates-stigting ontvang vir ʼn inisiatief wat sommige van die uitdagings van tuberkulose (TB) aanspreek.

Suid-Afrika het in 2016 die hoogste voorkoms van TB in die wêreld gehad, met 781 per 100 000 bevolking. TB is ook die hoof oorsaak van sterftes in die land.

ʼn Span navorsers aan die DTTS, by die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) het navorsingsbefondsing van VS$1,4 miljoen (sowat R19 miljoen) ontvang vir ʼn projek wat daarop gemik is om die verlies van opvolg by aanvang onder pasiënte met TB in Suid-Afrika te verlaag.

Die projek, wat die LinkedIn-studie genoem word, sal gesamentlik gelei word deur prof Anneke Hesseling, direkteur van die DTTS, wat gesetel is in die FGGW se Departement Pediatrie en Kindergesondheid, en dr Muhammad Osman, ook van die DTTS. Hulle word ook bygestaan deur dr Sue-Ann Meehan, wie onlangs haar PhD deur die DTTS voltooi het.

Die LinkedIn-studie poog om ʼn oplossing te vind vir die verlies van opvolg by aanvang (VVOBA) onder TB-pasiënte. “VVOBA verwys na pasiënte wat reeds toegang tot gesondheidsorgdienste gehad het en met TB gediagnoseer is, maar weens verskeie redes, nie op die TB-program aangemeld word nie, en gewoonlik ook nie TB-behandeling ontvang nie. VVOBA TB-pasiënte word nie as TB-gevalle getel in die nasionale TB-program nie aangesien hulle nie op TB-behandelingsregisters gelys word nie (dit is die huidige toesig-instrument waarmee die aantal en tipes TB-gevalle in Suid-Afrika gemeet word). Dit is kommerwekkend vir beide die individuele pasiënte asook die gesondheidstelsel," verduidelik Osman.

“Daar kan ernstige nagevolge wees vir pasiënte wat met TB gediagnoseer word, maar nie behandeling ontvang nie, insluitend die dood. Vir die gesondheidstelsel, lei dit tot onderrapportering van die TB las in Suid-Afrika, en die voortdurende oordrag van TB in gemeenskappe," sê Osman. “In ons projek poog ons om te verseker dat alle pasiënte wat met TB gediagnoseer word outomaties op die TB-register aangeteken word, en dat hulle in verbinding gesit word met ʼn geskikte fasiliteit."

LinkedIn sal in die Wes-Kaap-, KwaZulu-Natal- en Gauteng-provinsies geïmplementeer word. Vir die aanmeldingskomponent sal dit van die huidige verslagdoeningstelsels gebruik maak, asook dit versterk, en sluit aanlyn databasisse in van pasiënte wat gediagnoseer is en vir TB-behandeling aangemeld is. Volgens Meehan sal hierdie stelsels binne die huidige gesondheidstelsel geoutomatiseer word, wat beteken dat daar nie oortollige parallel-stelsels ontwikkel word nie. “Dit is belangrik, en maak die ingryping meer volhoubaar vir die toekoms," sê sy.

Osman verduidelik dat hulle vir die waarskuwing- en responsstelsel ʼn aanlyn toepassing sal ontwikkel wat die aanmeldings sal opteken en in staat sal wees om ʼn SMS te stuur, of stem-geaktiveerde oproep aan pasiënte maak. Hierdie stelsel sal verskillend wees in al drie provinsies. “Op die mees basiese vlak sal dit in staat wees om eenrigting SMS-boodskap aan pasiënte te stuur met TB-uitslae, herinneringe aan afsprake by fasiliteite, en kennisgewings vir opvolgafsprake. Ons sal ook meer komplekse funksies bysit wat voorsiening sal maak vir twee-rigting SMSe waarop pasiënte kan reageer en met die program kan skakel. In die Wes-Kaap sal ons ook probeer om die aanmeldingstelsel met ʼn sosiale media-platform, soos WhatsApp, te integreer."

Alhoewel 'selfoongesondheid' al in die verlede gebruik was vir ander gesondheidskwessies, sê Meehan dat hierdie studie eensoortig is aangesien dit die eerste geoutomatiseerde stelsel sal wees wat gebruik word om VVOBA onder TB-pasiënte aan te spreek.

Die studie is in ooreenstemming met die Suid-Afrikaanse Nasionale Departement van Gesondheid se prioriteit om verlore TB-pasiënte te vind. “Hierdie is een van drie studies wat befondsing ontvang wat spruit uit gesprekke van die nuut-gestigte Suid-Afrikaanse TB Demonstrasie, Skaal en Volhoubaarheid-konsortium, wat befonds word deur die Bill en Melinda Gates-stigting, die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, en TB REACH," voeg Meehan by. Hesseling beklemtoon dat hierdie unieke nasionalevlak-samewerkendeprojekte potensiaal ware, praktiese en volhoubare voordele aan TB-pasiënte en -dienste in Suid-Afrika bied.

Die toewysing van fondse stel die DTTS-span in staat om die impak van die projek in drie provinsies te demonstreer in ʼn redelike kort tydperk. Die projek is tans in die voorbereidingsfase en sal na verwagting in 2019 geïmplementeer word. “Elk projek het sy eie uitdagings, en vir hierdie een is dit die kort tydperk. Ons sal vinning moet wegspring," beklemtoon Meehan.

Die finale uitslae sal na verwagting vroeg in 2020 bekendgemaak word. “Ons hoop op positiewe uitslae na implementasie, en om dan op te skaal tot ʼn nasionale vlak," sluit Hesseling af.