Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
“In die Burger-familie val die appel seker nie te ver van die boom nie.”
Outeur: Jorisna Bonthuys
Gepubliseer: 30/07/2018

 “In die Burger-familie val die appel seker nie te ver van die boom nie."

Só skerts Johan Burger (85), 'n oudstudent van die Universiteit Stellenbosch (US), wat onlangs die kampus hier besoek het.

Burger, die eerste student wat sy graad in voedselwetenskap aan die US se Departement Voedselwetenskap verwerf het, het in 1955 saam met wyle Jan Hofmeyr graad gekry. Hulle was die eerste twee studente in Suid-Afrika wat só 'n graad verwerf het.

Hoewel Burger deesdae afgetree is en in Groot Brakrivier in die Suid-Kaap woon, is hy steeds betrokke in die sitrusbedryf as direkteur van African Realty Trust. Sy vrou, Pauline, verwoord dit soos volg: “Johan sal seker nooit regtig aftree nie. Hy stel steeds aktief belang in ontwikkelings in die landbousektor en voedselbedryf."

Die egpaar het onlangs die departement in die Fakulteit AgriWetenskappe hier besoek. Hulle is vergesel deur hul dogter, dr. Kathleen Coetzee, en 'n kleinseun, Pieter. Coetzee, self 'n oud-Matie, se twee seuns studeer tans albei in 'n landbourigting in die fakulteit. Pieter Coetzee (23) is 'n vierdejaarstudent in die Departement Wingerd en Wynkunde. Sy broer, Christiaan (19), is op sy beurt ingeskryf as 'n tweedejaar-BSc-student (in hortologie en plantgenetika).

Die Burgers se familiegeskiedenis is behóórlik vervleg met dié van die departement. Izak (Sakkie) Burger, Johan se pa, was op sy dag 'n stigterslid van dié departement. Hy het ook  onder meer 'n groot bydrae gelewer tot die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse inmaak- en droëvrugtebedryf. Hy het sy skoolopleiding in die Koo en later in Montagu ontvang, waar hy in 1923 gematrikuleer het.

Izak Burger het in 1927 sy landbougraad (BSc Agric) aan Maties verwerf waarna hy onder andere in Australië en Kalifornië gewerk het. Hy is later aangestel by Elsenburg as navorsingsbeampte en as dosent in voedselwetenskap. Izak Burger het dr. Reuben Nel opgevolg as hoof van die Wes-Kaapse Vrugtenavorsingstasie, deesdae die Navorsingsinstituut vir Vrugte en Vrugtetegnologie Voedselwetenskap se geskiedenis vervleg met dié van Burgers

.

Johan sê sy pa het lewenslank 'n belangstelling in voedselwetenskap gehad. “My pa was verskriklik lief vir landbou en die wetenskap," het Johan vertel. “Hy het ook die vermoë gehad om sy belangstelling en kennis hieroor met ander te deel."

Johan is in 1933 op Elsenburg gebore waar sy pa jarelank gewerk het. Hy het op Stellenbosch grootgeword en later jare in sy pa se voetspore gevolg. “ 'n Mens kan seker sê ek het in die laboratorium op Elsenburg (by die landboukollege) en in 'n navorsingskultuur grootgeword."

Voedselwetenskap is 'n opwindende studieterrein wat van toeka tot nou talle moontlikhede vir studente ontsluit, het Johan gesê. “Ek staan verstom oor al die omwentelinge en hoe dinge oor die jare hier (by die departement) verander het."

Johan het in 1958 sy meestersgraad in die departement hier verwerf. Sy tesis handel oor die voorafbehandeling van mieliemeel en sy kits-ertjiesop het destyds koerantopskrifte gehaal.

Johan het later onder meer by Minute Maid in Letaba gewerk. Hy was sedert 1961 betrokke by Letaba Sitrusverwerkers (LCP) in Tzaneen, onder meer as die direkteur daarvan. LCP, een van die grootste sitrusprodusente in die land, is gemoeid met die verwerking van onder meer lemoene, naartjies, koejawels en mango's.

Die eerste studente in die departement het in 1951 ingeskryf. In 1952 is die departement deur die Senaat en Universiteitsraad goedgekeur. Jan Hofmeyr, die ander eerste voedselwetenskaplike daar, het 'n suksesvolle loopbaan by Metalbox/NAMPAK R&D gehad waar hy onder andere 'n leidende rol gespeel het in die ontwikkeling en verbetering van verpakkingsmateriale vir die plaaslike en oorsese markte.

 

Prof. Danie Brink, dekaan van die fakulteit, en prof. Marena Manley, 'n navorser en dosent gemoeid met voorgraadse modules in voedselwetenskap, het die Burger-egpaar tydens hul besoek ontvang.

 

Medianavrae:

Dr. Kathleen Coetzee

0824515805

Gertrude Koopman     

Kontak: 021 808 3578  of gkoopman@sun.ac.za