Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Drie Maties ingesluit by 100 Jong Mandelas van die Toekoms
Outeur: Rozanne Engel - Corporate Communications / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 18/07/2018

“Ons kinders is die rots waarop ons toekoms berus, ons grootste bate as 'n nasie. Hulle sal die leiers wees van ons land, die skeppers van ons nasionale welvaart, die versorgers en beskermers van ons mense."

Met hierdie wyse woorde het die voormalige Suid-Afrikaanse president en wêreldwye ikoon Nelson Mandela jongmense op 3 Junie 1995 by die inwyding van die Qunu- en Nkalade-skole op Qunu in die Oos-Kaap toegespreek. Drie-en-twintig jaar later sit drie Maties sy visie voort.

Ter viering van wat oudpresident Nelson Mandela se 100ste verjaardag op 18 Julie 2018 sou gewees het, het News24 besluit om 100 jong Suid-Afrikaners te vereer wat die eienskappe uitleef waarvoor Mandela bekend was. Lindo Makhathini, 'n huidige nagraadse student aan die Universiteit Stellenbosch (US), sowel as US-alumni Nathaniel Japhta en Farai Mubaiwa is onder die 100 benoemdes.

“Dit is voorwaar 'n eer om een van die individue te wees wat op diverse maniere beduidend tot hulle gemeenskappe bygedra het. Ek's opreg dankbaar vir die erkenning. Afgesien daarvan dat dit my goeie dade bekragtig, moedig dit my ook aan om nog méér te doen," sê Makhathini.

Sy voltooi tans haar BSc-honneursgraad in Geologie en is vir haar leierskap in vrouebemagtiging op geologie- en mynbougebied benoem. Makhathini is die voorsitter van die Wes-Kaapse Vereniging vir Ekonomiese Geoloë en die Vereniging vir die Toepassing van Geologie op Mineraalafsettings. Daarbenewens is sy die ondervoorsitter van die Swart Bestuursforum se Wes-Kaapse studenteafdeling en 'n uitvoerende komiteelid van die US se Aardwetenskappevereniging.

Volgens Makhathini is dit 'n gewigtige taak om 'n leierspos te beklee, en verg dit 'n klomp harde werk, toewyding en in 'n mate ook ontvanklikheid vir kritiek. “My doel was nog altyd om maatskaplike hindernisse uit die weg te ruim deur te gaan waar niemand (of nie baie mense) al voorheen durf gaan het nie – nie net tot voordeel van die mensdom nie, maar ook om 'n positiewe impak op die omgewing te hê. Om seker te maak dat die vroueleiers van die toekoms rolmodelle het om na op te sien, glo ek ons het 'n verantwoordelikheid om 'n leiersrol in die stryd om gendergelykheid te vervul."

US-alumnus Nathaniel Japtha sê die benoeming is vir hom 'n ewe groot eer. Hy glo meer jongmense behoort Nelson Mandela se voorbeeld van diensbare leierskap te volg. “Om in dieselfde asem as Tata Madiba genoem te word beteken vir my baie en stel my gerus dat ek op die regte spoor is. Wat ek op my persoonlike Mandela-reis geleer het, is dat die jonger generasie veral met geduld sukkel. Madiba was 27 jaar lank in die tronk; ons wil sommer môre al sukses behaal. Ek het ook gevind as jy jouself laaste stel, sal jy uiteindelik eerste wees. Breek hindernisse af deur met mense van verskillende kulture en agtergronde om te gaan. Leer soveel jy kan. Dan sal jy suksesvol wees."

Japtha het op die Kaapse Vlakte grootgeword, wat dekades lank reeds onder misdaad en armoede gebuk gaan. Ondanks daardie omstandighede het hy egter grense in sport, sake en op die gebied van sosiale impak versit. Hy is 'n uitmuntende geoktrooieerde rekenmeester wat Cipla Suid-Afrika in sy laaste boekjaar as hoofprojekbestuurder meer as R100 miljoen help spaar het. Boonop is hy 'n suksesvolle entrepreneur wat in 2017 die organisasie sonder winsoogmerk Pro 226 Africa gestig het. Hierdie organisasie konsentreer daarop om die jeug met geleenthede in aanraking te bring en begaafde jongmense toe te rus om geleenthede op sport-, onderwys- en sakegebied aan te gryp.

“Gemeenskappe oor die hele Kaapse Vlakte sit in uiterste wanhoop, veral ons jongmense. Wanneer skole nie wiskundeonderwysers het nie, wanneer ouers desperaat is om hulle kinders 'n toekoms te bied en wanneer jong, gewillige mense jou daagliks voorkeer op soek na werk, kan jy nie anders as om op te tree nie. My organisasie is 'n oproep om aksie," sê Japtha.

Nóg 'n Matie-alumnus wat die oproep om aksie ter harte neem, is Farai Mubaiwa. Sy beskryf haarself as 'n agent vir verandering, 'n Afrika-feminis en 'n jeugleier. In 2015, gedurende haar studie vir 'n graad in Rekeningkunde aan die US, was sy medestigter van 'n jeugorganisasie Africa Matters. Die organisasie is geskep as teenvoeter vir die negatiewe narratief en sienings van Afrika wat die media aanhou verkondig en jong Afrikane blindelings aanvaar. Die organisasie wil ook opkomende jongmense met die vaardighede en gereedskap toerus om die vasteland te help groei, en het sedertdien al ten minste 12 000 jongmense oor die hele Afrika bereik.

“Ons groei eksponensieel. Vanaf ons hoofkantoor in Suid-Afrika het ons nou ambassadeurs in Rwanda, Zimbabwe, Kenia en Namibië. Ons wil graag binne die volgende vyf jaar ambassadeurs in ten minste 20 Afrikalande hê. Ons sal hierdie ambassadeurs van opleiding voorsien en hulle ondersteun om projekte ten bate van hulle gemeenskappe te bedryf. Ons glo die verandering van die narratief hou direk met bemagtiging verband. As jy die negatiewe narratief van Afrika verander, word Afrikajeug aangemoedig om tot die groei van Afrika by te dra omdat hulle óók in Afrika se potensiaal glo," sê Mubaiwa.

Mubaiwa glo elke jongmens behoort uit die nalatenskap van Mandela te leer en die beeld van Suid-Afrika en die res van die Afrikavasteland te help verander. “Dit is 'n geleentheid om as jongmense die uitdaging te aanvaar en positief tot ons samelewing by te dra. Dít beteken ons moet bekwame leiding bied, doelgerig, dapper en innoverend te werk gaan en, die heel belangrikste, ons gemeenskappe dien. Ons is nie die Donker Vasteland nie, maar eerder die vasteland van lig en geleenthede, met passievolle jeug om ons die toekoms in te neem."

Foto verskaf. Van links: Farai Mubaiwa, Nathaniel Japhta en Lindo Makhathini.   

*Foto op webtuiste landingsblad deur Erhardt Thiel, in 1991 in die destydse Neelsie-loopgang geneem met Dr Nelson Mandela se eerste openbare toespraak by die US.​