Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
’n Huldeblyk aan “The Originals – Songs of Hope”
Outeur: Division for Social Impact/Afdeling Sosiale Impak
Gepubliseer: 16/07/2018

Peter Mayekiso en Samson Msemme Setona, inwoners van Kayamandi, Stellenbosch, was onder die eerste politieke gevangenes wat na Robbeneiland geneem is waar hulle al twee straf uitgedien het vir politieke aktiwiteite wat met die Pan African Congress (PAC) verband hou. 

Hulle verhaal is nog grootliks onvertel en ongedokumenteer, hulle opoffering ongewaardeer en onerken. As eerbetoon aan hierdie twee persone gaan een van Suid-Afrika se bekendste jazzkunstenaars, Herbie Tsoaeli, en sy African Time Quartet in ​Stellenbosch optree op 20 Julie 2018 vanaf 18:00 tot 20:00 in die Fismersaal, Conservatorium. Die kunstenaars sal eer, genesing, hoop en gemeenskaplikheid kontekstualiseer deur die medium van klank. ​ Die Universiteit Stellenbosch borg die geleentheid.

Die storie van Mayekiso en Setona lê steeds verborge in die skeure en verskuiwingslyne wat ons dorpe en stede verdeel op grond van geskiedenis, klas, ruimtelike beplanning en alles wat kunsmatig is, en tog is dit ironies dat hulle gevangenskap juis aan die ideale van nierassigheid, verbondenheid, eenheid, gemeenskaplikheid en vryheid te wyte was. Wanneer ons 'n dorp ontwerp, hoe gaan ons te werk om ons 'n ruimte voor te stel wat saamsnoer eerder as 'n plek wat verdeel vanweë vervloë en eietydse geskiedenis? Hoe visualiseer ons daardie 'reg tot die stad' wat volgens David Harvey[1] se ontleding sê “die reg van die stad is meer as 'n reg van individuele toegang tot die hulpbronne wat die stad vergestalt: dit is 'n reg om onsself te verander deur die stad meer in pas met ons hartsbegeertes te bring." Indien verbondenheid, inklusiwiteit en 'n gedeelde visie van Stellenbosch ons mikpunt is, hoe moedig ons vertroue aan in gemeenskappe wat deur die geskiedenis heen verdeel is? Kan ons die subalterne onverhaalde geskiedenis gebruik om die hedendaagse samelewing te bevraagteken en brûe te bou?

Hierdie projekvoorstel berus op die gebruik van die kreatiewe praktyke, en musiek in hierdie geval, as 'n middel om die diverse Stellenbosse gemeenskap saam te snoer deur die verering en huldiging van twee van sy inwoners vir hul opoffering in die vryheidstryd in hierdie land. “Waar woorde te kort skiet, praat musiek," sê die digter Hans Christian Andersen. Alhoewel ons nooit ten volle sal verstaan of begrip kan hê vir wat Peter Mayekiso en Samson Msemme Setona​ ​tydens hul gevangenskap op Robbeneiland moes deurmaak nie, kan ons wel hulle opoffering erken.

Hierdie inisiatief is 'n vennootskap tussen die Universiteit Stellenbosch en die Stellenbosch Akademie vir Ontwerp en Fotografie​.

Vir meer inligting kontak Mawethu Nyakatya at nyakatya@sun.ac.za

​Foto: Kontrabasspeler, komponis en bewerker, Herbie Tsoaeli, 2013 Beste Jazzalbum, wenner van 'n Suid-Afrikaanse musiektoekenning (SAMA), vir sy debuutalbum African Time