Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Openbare lesing in New York deur prof Johan Fourie
Outeur: US Alumnikantoor / SU Alumni Office
Gepubliseer: 04/07/2018

Prof Johan Fourie van die Departement Ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch lewer later vandeesmaand twee openbare lesings in New York (26 Julie) en Boston (30 Julie) oor 'The Data Revolution in African Economic History'.

Volgens prof Fourie is dit nou die beste tyd ooit om 'n Afrikaan te wees. “Die opstuwing in ekonomiese groei in Afrika oor die afgelope twee dekades het belangstelling in die dinamika van die kontinent se wisselende voorspoed aangewakker. Die datarevolusie stel navorsers in staat om met behulp van innoverende tegnieke groot historiese datastelle bloot te lê ten einde die kompleksiteit van Afrika se verlede te openbaar sodat daar toenemende begrip kan wees vir die trajektorie van huidige ekonomiese ontwikkeling."

Na afloop van die lesing, wat deur die Alumni-kantoor van die Universiteit Stellenbosch georganiseer word, sal daar 'n geselligheid wees.

Prof Fourie is 'n medeprofessor in ekononie en koördineerder van LEAP, 'n interdissiplinêre navorsingsgroep wat hom toespits op navorsing oor Afrika se ekonomiese geskiedenis. Hy het sy PhD-graad in 2012 aan die Universiteit van Utrecht verwerf met 'n proefskrif oor die welvaart van die boere in die Kaapkolonie. Dié proefskrif is bekroon as die beste by die internasionale ekonomiese geskiedeniskongres in 2015. Prof Fourie het meer as 50 wetenskaplike artikels gepubliseer en skryf 'n rubriek vir 'n weeklikse finansiële publikasie in Suid-Afrika, asook 'n blog (by johanfourie.com).